ESEGIËL 16:1-41

ESEGIËL 16:1-41 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Ek het nog ’n boodskap van die HERE gekry: “Mensekind, konfronteer Jerusalem met haar afskuwelike sondes. Sê vir haar die oppermagtige HERE sê: Jy is niks anders as ’n Kanaäniet nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet. Toe jy gebore is, het niemand vir jou omgegee nie. Jou naelstring is nie afgesny nie. Jy is nooit gewas nie. Niemand het jou met sout ingevryf of vir jou warm klere aangetrek nie. Niemand het in jou belanggestel om dit vir jou te doen nie. Niemand het vir jou omgegee of vir jou gesorg nie. Die dag toe jy gebore is, is jy in die veld gelos om dood te gaan. Niemand wou jou hê nie. “Maar Ek het verbygekom en jou daar gesien. Jy het hulpeloos in jou eie bloed gelê en skop. Terwyl jy daar in jou bloed gelê het, het Ek gesê: ‘Lewe!’ Ja, waar jy in jou bloed gelê het, het Ek vir jou gesê: ‘Lewe!’ Ek het jou gehelp om soos ’n veldplant te groei. Jy het grootgeword en ’n mooi juweel geword. Jou borste het vol geword en jou hare het gegroei. Maar jy was nog kaal en sonder klere. En toe Ek verbykom en jou weer sien, was jy oud genoeg om te trou. Daarom het Ek my jas vir jou aangetrek sodat jy nie kaal sou wees nie. Ek het ’n verbond met jou gesluit en met jou getrou, sê die oppermagtige HERE. Jy het Myne geword. “Ek het jou toe gebad en jou bloed afgewas. En Ek het olie aan jou lyf gesmeer. Ek het vir jou duur klere gegee wat van linne en sy gemaak is en mooi uitgeborduur is, asook sandale wat van fyn leer gemaak is. Ek het vir jou mooi juweliersware gegee: armbande en halssnoere, ’n ring vir jou neus en oorringe, en ’n pragtige kroon op jou kop. Jy was pragtig met jou goud en silwer. Jou klere was van fyn linne en mooi geborduur. Jy het die lekkerste kos geëet: fynmeel, heuning en olyfolie. Jy het mooier as tevore geword. Jy het soos ’n koningin gelyk. En jy was ook een! Jy het oor die hele wêreld bekend geword omdat jy so mooi was. Ek het jou skoonheid met my glans volmaak gemaak, sê die oppermagtige HERE. “Maar toe het jy jou vertroue in jou beroemdheid en skoonheid begin stel. Jy het jouself as ’n prostituut aangebied vir elke man wat verbygegaan het. Jy het jouself uitverkoop. En jy het die mooi klere wat Ek jou gegee het, gebruik om heiligdomme vir afgode te maak. Daar het jy as prostituut gelê. Ongelooflik! Hoe kan so iets gebeur? Jy het jou juwele en die goud en silwer gevat wat Ek vir jou gegee het, en daarvan beeldjies van mans gemaak. En jy het hulle aanbid. So het jy egbreuk teen My gepleeg. Jy het jou geborduurde klere gevat wat Ek jou gegee het, en vir jou afgode aangetrek. En jy het my olie en wierook gebruik om aan hulle te offer. Verbeel jou! Jy het die fynmeel en olyfolie en heuning wat Ek jou gegee het, voor hulle as ’n offer neergesit, sê die oppermagtige HERE. “Jy het ook jou seuns en dogters, die kinders wat jy by My gehad het, gevat en aan jou afgode geoffer. Was dit nie genoeg dat jy ’n prostituut geword het nie? Moes jy ook my kinders slag en aan jou afgode offer? In al die jare wat jy egbreuk gepleeg en vreeslike sondes gedoen het, het jy nie een keer teruggedink aan die dae toe jy kaal in die veld gelê het nie. Daar het jy in jou eie bloed gelê en skop. “Jy gaan sekerlik vernietig word, sê die oppermagtige HERE. Ná al die verskriklike dinge wat jy aangevang het, het jy ook ’n heiligdom vir jou afgode gebou. Jy het altare vir jou afgode op elke dorpsplein ingerig. Op elke straathoek het jy ’n afgodsaltaar gebou en jou skoonheid verkoop. Jy het jou lyf aangebied vir elkeen wat verbygaan. Jy het nie opgehou om jou as prostituut uit te huur nie. Jy het jouself ook verkoop aan jou goed bedeelde bure, die Egiptenaars. Jy het My baie kwaad gemaak deur aan te hou met jou afskuwelike dade. Daarom het Ek jou met die vuis geslaan en jou grense ingekort. Ek het jou oorgegee aan jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle was geskok deur jou afskuwelike gedrag! Jy het ook saam met die Assiriërs geslaap. Dit lyk of jy nie genoeg minnaars kon kry nie! En steeds was jy nie bevredig nie. Jy het toe ook daardie groot handelsreus Babilon by jou lys minnaars gevoeg. Maar steeds was jy nie bevredig nie! “Hoe siek is jy nie, sê die oppermagtige HERE, dat jy aanhou om sulke dinge te doen! Jy is ’n prostituut wat geen skaamte ken nie! Jy bou altare vir jou afgode op elke straathoek en elke stadsplein. Jy is erger as ’n prostituut. Jy wou so graag sonde doen dat jy nie eens betaling vir jou liefde gevra het nie. Jy is ’n slegte vrou wat ander mans verkies, maar nie jou eie man naby jou wil hê nie. Prostitute vra geld vir hulle dienste. Maar nie jy nie. Jy betaal jou minnaars! Van oral af koop jy hulle om sodat hulle na jou toe sal kom. Jy is die teenoorgestelde van ander prostitute. Niemand betaal jou vir jou liefde nie. Nee, jy betaal hulle!” “Daarom, prostituut, luister na wat die HERE vir jou sê! So sê die oppermagtige HERE: Jy het jou eer vir jou minnaars gegee en jou vir hulle kaal uitgetrek, en afskuwelike afgode aanbid. Jy het jou kinders as offers vir die afgode geslag. Daarom gaan Ek jou minnaars bymekaarmaak, die mense met wie jy saam plesier gehad het, dié wat jy liefhet en dié wat jy haat. En Ek gaan jou voor hulle kaal uittrek sodat hulle na jou kan kyk. Dan straf Ek jou soos ’n vrou gestraf word wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal met jou bloed betaal as Ek my woede en jaloesie op jou wreek. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars, daardie baie nasies. Hulle sal die heiligdomme vir jou afgode en jou altare omgooi. Hulle sal jou uittrek en jou mooi juwele afvat, en jou kaal, sonder klere agterlaat. Hulle sal saamkom en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde in stukke kap. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie vroue straf. Ek sal sorg dat jy nie weer ’n prostituut kan word nie en nie meer jou minnaars kan betaal nie.

ESEGIËL 16:1-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het. Jy moet sê: So sê die Here my God vir Jerusalem: Kanaän is die land van jou herkoms en jou geboorte. Jou pa was 'n Amoriet, jou ma 'n Hetiet. Toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie, jy is nie gebad nie, nie met sout ingevryf nie en nie in doeke toegedraai nie. Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is. “Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef, groei!’ “Ek het jou soos 'n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n pragtige meisie geword, jou borste het styf geword en jou hare lank. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie. Toe Ek by jou verbykom en sien dat jy volwasse begin word, het Ek jou onder my sorg geneem en vir jou klere aangetrek. Ek het My met 'n eed aan jou verbind en met jou 'n verbond aangegaan, sê die Here my God. Jy het Myne geword. Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. Ek het vir jou 'n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 'n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en 'n pragtige krans op jou kop. Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om 'n koningin te wees. Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was 'n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God. “Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om 'n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne. Jy het van jou klere gevat en vir jou veelkleurige hoogtes gemaak en daar jou afgodery bedryf, iets heeltemal ongehoords. Jy het jou juwele gevat, van my goud en my silwer wat Ek vir jou gegee het, en vir jou mansbeelde gemaak en met hulle jou afgodery bedryf. Jy het jou veelkleurige rok gevat en dit vir hulle aangetrek, jy het my olie en my wierook voor hulle neergesit. Ek het jou gevoed met fynmeel, olie en heuning, maar jy het die kos wat Ek vir jou gegee het, voor hulle neergesit as offers met 'n aangename geur. Ja, dit is wat gebeur het, sê die Here my God. Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie, dat jy ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand? Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie. “Ellende, ellende wag vir jou,” sê die Here my God. “Nadat jy so sleg geword het, het jy boonop op elke oop plek vir jou 'n offerbult gebou, vir jou 'n hoogte ingerig. By elke kruispad het jy vir jou 'n hoogte ingerig en van jou skoonheid iets afskuweliks gemaak. Jy het gretig gelê en wag vir elkeen wat verbykom; jy het aanmekaar bly hoereer. Jy het gehoereer met jou goedbedeelde bure, die Egiptenaars, jy het aanmekaar bly hoereer en My bly uittart. Ek het my hand teen jou uitgesteek en jou regte ingekort en jou oorgelaat aan die willekeur van jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle het hulle geskaam oor jou skandelike gedrag. Toe het jy met die Assiriërs gehoereer, want jy was nog nie bevredig nie; jy het met hulle gehoereer, maar ook toe is jy nie bevredig nie. Jy het aanmekaar bly hoereer met die Galdese handelaars, maar ook dit het jou lus nie bevredig nie. Jou koors was hoog toe jy dit alles gedoen het,” sê die Here my God. “Jy het jou gedra soos 'n skaamtelose hoer. Jy het by elke kruispad vir jou 'n offerbult gebou, op elke oop plek 'n hoogte. Maar jy was nie eens soos 'n gewone prostituut nie, jy het jou neus opgetrek vir betaling. Jy is soos 'n immorele vrou wat ander mans ontvang en nie haar eie man nie. Al die prostitute kry betaling, maar jy betaal jou minnaars, van oral af lok jy hulle met geskenke na jou toe om met jou te hoereer. Jy het met jou hoerery juis die teenoorgestelde gedoen van wat ander vrouens doen: niemand het agter jou aangeloop nie; jy het betaal, jy is nie betaal nie. Jy is net die teenoorgestelde. “Daarom, hoer, hoor die woord van die Here!” So sê die Here my God: “Jy het jou eerloos gedra, jou sonder skaamte ontbloot om met jou minnaars te hoereer, met al jou afskuwelike afgode. Jy het vir hulle die bloed van jou kinders gegee. Daarom gaan Ek al jou minnaars bymekaarbring, almal van wie jy gehou het, almal vir wie jy lief was en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek gaan hulle van oral af rondom jou bymekaarbring en dan gaan Ek jou ontbloot voor hulle sodat hulle na jou kan kyk terwyl jy heeltemal kaal is. Ek gaan jou straf soos vrouens gestraf moet word wat owerspel en moord gepleeg het. Ek laat jou die moorde voel, die gramskap, die woede. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars. Hulle sal jou offerbulte afbreek, jou hoogtes verwoes. Hulle sal jou klere uittrek, jou juwele afvat en jou kaal, sonder klere daar laat staan. Hulle sal 'n vergadering bymekaarroep om jou te veroordeel, hulle sal jou met klippe doodgooi en jou met hulle swaarde in stukke kap, hulle sal jou huise afbrand. So sal hulle jou vonnis voltrek ten aanskoue van al die vrouens. Ek maak 'n end aan jou hoerery. Jy sal nie weer geskenke uitdeel nie.

ESEGIËL 16:1-41 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, maak aan Jerusalem haar afstootlike dade bekend en sê, ‘So sê my Heer, die HERE, vir Jerusalem: “Jou oorspronge, jou afkoms lê in die land van die Kanaäniete. Jou vader was 'n Amoriet, jou moeder 'n Hetiet. Wat jou geboorte betref: Die dag toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie; met water is jy nie gewas om jou skoon te maak nie; met sout is jy nie ingevryf nie, en jy is glad nie toegedraai nie. Niemand het 'n traan oor jou gestort en uit deernis met jou enigiets hiervan vir jou gedoen nie. Jy is met minagting vir jou lewe weggegooi in die veld die dag toe jy gebore is. “ ‘ “Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef!’ Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef en groei!’ Soos plante in die veld het Ek jou gemaak. Jy het gegroei, grootgeword, die mooiste juweel geword. Jou twee borste het ferm geword, jy het skaamhare gekry. Maar jy was ontbloot en nakend. “ ‘ “Ek het weer by jou verbygegaan, jou raakgesien, en kyk, jou tyd vir die liefdespel het aangebreek! Ek het die soom van my kleed oor jou gesprei, jou naaktheid bedek. Ek het vir jou 'n eed afgelê, My in 'n verbond met jou begewe, ” is die uitspraak van my Heer, die HERE: “en jy het Myne geword. “ ‘ “Ek het jou met water gewas, jou bloed afgespoel en jou met olie ingevryf. Ek het jou geklee in veelkleurig geweefde klere, vir jou sandale aangetrek van sagte leer, jou in linne gedrapeer en jou met sy bedek. Ek het jou met juwele versier, armbande om jou polse gesit, 'n halssnoer om jou nek. Ek het 'n ring in jou neus gesit, oorringe aan jou ore en 'n sierlike kroon op jou kop. “ ‘ “Jy het jouself versier met goud en silwer; jou klere was van linne, van sy en veelkleurig geweefde materiaal. Gesifte meel, heuning en olyfolie het jy geëet. Jy het buitengewoon mooi geword. Jy sou deug as 'n koningin. Jy het onder die nasies roem verwerf met jou skoonheid; want dit was volmaak, danksy die versierings wat Ek aan jou gehang het.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “ Maar toe het jy op jou skoonheid staatgemaak en het jy gehoereer, omdat jy beroemd was. Jy het jou hoerery uitgestort op elke verbyganger; aan hom het jou skoonheid behoort. Jy het van jou klere gevat, vir jou veelkleurige kussings gemaak en daarop gehoereer. Dit was nie daarvoor bedoel nie, en dit moes nie gebeur nie. Jy het van jou versiersels gevat, van die goud en silwer wat Ek vir jou gegee het. Jy het vir jou afgodsbeelde van mans gemaak en so jou hoerery voortgesit. Jy het jou veelkleurig geweefde klere gevat, die beelde daarmee bedek, en my olie en reukwerk voor hulle neergesit. Die voedsel wat Ek vir jou gegee het – ja, gesifte meel, olyfolie en heuning het Ek jou laat eet – jy het dit voor hulle neergesit as 'n geurige offer. Dit is wat gebeur het!” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “ Toe het jy jou seuns en dogters gevat, dié wat jy vir My in die wêreld gebring het, en jy het hulle aan die beelde geoffer as voedsel. Was jou owerspel nie genoeg nie, dat jy my kinders moes slag, hulle moes oorlewer deur hulle aan die beelde toe te wy? By al jou afstootlike dade en owerspel het jy nie jou kindertyd onthou toe jy ontbloot en nakend, spartelend in jou bloed was nie. “ ‘ “En toe, ná al jou boosheid – wee jou, ja, wee jou!” is die uitspraak van my Heer, die HERE – “ het jy vir jou plekke vir hoerery gebou. Jy het vir jou offerhoogtes ingerig op elke oop plek. By elke kruispad het jy jou offerhoogtes gebou, en sodoende jou skoonheid iets afstootliks gemaak. Jy het jou bene oopgesprei vir elke verbyganger en jou dade van owerspel vermeerder. Jy het met die Egiptenare gehoereer, jou goedbedeelde bure. Jy het jou owerspel vermeerder en My uitgetart. Kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek; Ek het jou onderhoud ingekort. Ek het jou oorgegee aan die willekeur van hulle wat jou haat, aan die Filistynse vroue wat hulle skaam vir jou skandelike gedrag. Jy het gehoereer met die Assiriërs, sonder dat jy bevredig is. Ja, jy het met hulle gehoereer, en nog erger, jy is nie bevredig nie. Jy het jou owerspel vermeerder in die land van die handelaars, die Galdeërs, maar selfs daardeur is jy nie bevredig nie. “ ‘ “Hoe vurig is jou hartstog,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “wanneer jy al hierdie dinge doen – die werk van 'n brutale hoervrou! “ ‘ “Met die bou van jou plekke vir hoerery by elke kruispad, met jou offerhoogtes wat jy ingerig het op elke oop plek, was jy nie soos 'n gewone prostituut nie – jy het fooie versmaai! Jou egbreekster! In plaas van haar man, ontvang sy vreemdes! Aan alle prostitute word vergoeding betaal, maar jy het jou prys aan al jou minnaars betaal; jy het hulle omgekoop om na jou te kom, van oraloor, vir jou dade van owerspel. By jou is dit andersom as by ander vroue wanneer dit by jou dade van owerspel kom: Jy word nie genader vir omgang nie, en terwyl jy 'n fooi betaal, word 'n fooi nie aan jou betaal nie. Met jou is dit net andersom.” “ ‘Daarom, jou hoer, hoor die woord van die HERE! So sê my Heer, die HERE: “Omdat jou koper so vermors is, jou naaktheid ontbloot is deur jou dade van owerspel by jou minnaars – ja, oor al jou afstootlike afgodsbeelde en oor die bloed van jou kinders wat jy aan hulle oorgelewer het – daarom, kyk, Ek gaan al jou minnaars byeenbring, hulle aan wie jy genot verskaf het, elkeen vir wie jy lief was, sowel as elkeen wat jy gehaat het. Ek bring hulle teen jou byeen, van oraloor. Ek gaan jou kaal uittrek voor hulle. Hulle sal jou in al jou naaktheid sien. Ek gaan aan jou die vonnisse voltrek van vroue wat egbreuk pleeg en bloed vergiet. Ek sal jou onderwerp aan die bloedwraak van woede en heilige jaloesie. Ek gaan jou in hulle hand oorgee. Hulle sal jou plekke van hoerery opbreek en jou offerhoogtes afbreek. Hulle sal jou klere uittrek en jou versierings vat. Hulle sal jou ontbloot en nakend agterlaat. Hulle sal 'n horde teen jou laat optrek, en dié sal jou met klippe doodgooi, jou opkap met hulle swaarde. Hulle sal jou huise afbrand en oordele aan jou voltrek ten aanskoue van baie vroue. Ek sal 'n einde maak aan jou hoerery; ook fooie sal jy nie meer kan betaal nie.

ESEGIËL 16:1-41 Bybel vir almal (ABA)

Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet vir Jerusalem sê watter slegte dinge sy gedoen het. Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê vir Jerusalem: Jy kom uit die land van die Kanaäniete. Jy is daar gebore. Jou pa was 'n Amoriet en jou ma was 'n Hetiet. Daardie dag toe jy gebore is, het hulle nie jou naelstring afgesny nie, hulle het jou nie gewas en jou vel met sout gevryf nie, hulle het jou nie toegedraai nie. Niemand was jammer vir jou nie. Niemand het een van hierdie dinge gedoen om jou te help nie. Hulle het jou weggegooi in die veld. Niemand het van jou gehou toe jy gebore is nie. En toe het Ek daar by jou gekom. Ek het gesien dat jy in jou bloed lê en rondrol. Ek het gesien dat jy in jou bloed gelê het en Ek het vir jou gesê: ‘Jy moet lewe!’ Jy het daar in jou bloed gelê, en Ek het vir jou gesê: ‘Jy moet lewe! Jy moet groot word!’ Ek het jou laat groei soos 'n veldplant. Jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n baie mooi meisie geword. Jou borste het styf geword en jou hare het lank geword. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie. Toe Ek by jou kom en Ek sien jy is nou 'n jongmeisie wat kan trou, het Ek my bo-kleed oor jou gegooi en Ek het jou toegemaak. Ek het belowe Ek sal aan jou behoort en Ek het 'n verbond gemaak met jou.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Jy het Myne geword. Ek het jou gebad, Ek het die bloed van jou afgewas en Ek het jou lyf met olyf-olie gesmeer. Ek het vir jou mooi bont klere aangetrek en skoene van sagte vel. Ek het jou toegemaak met linne en sy. Ek het vir jou mooi juwele aangesit: armbande en kettinkies om jou nek, ringe aan jou neus en jou ore, en 'n mooi kransie op jou kop. Jy kon goud en silwer aan jou klere vaswerk, jy kon klere dra van linne en sy en mooi bont materiaal. Jy kon brood van die beste koringmeel en heuning en olyf-olie eet. Jy het baie baie mooi geword, so mooi dat jy 'n koningin kon wees. Al die volke het geweet dat jy mooi is. Niemand anders was so mooi soos jy nie. Ek het jou so mooi gemaak.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Maar toe dink jy dat jy enige iets kan doen omdat jy mooi is. Almal het jou geken, en jy het 'n slegte vrou geword. Jy het jouself gegee vir enige iemand wat by jou kom, en jy het by hom geslaap. Jy het van jou klere geneem en jy het dit gebruik om vir jou mooi bont offer-plekke te maak waar jy ander gode kon dien. Niemand anders het dit voorheen gedoen nie en niemand anders sal dit weer doen nie. Jy het jou juwele geneem, die goud en silwer wat Ek vir jou gegee het, en jy het daarvan vir jou beelde van mans gemaak, jy het ander gode met daardie beelde gedien. Jy het jou mooi bont klere geneem en jy het dit vir die beelde aangetrek. Ek moes die olyf-olie en die wierook kry, maar jy het dit voor die beelde neergesit. Ek het vir jou brood van die beste koringmeel, olyf-olie en heuning gegee om te eet, en jy het dit vir die ander gode ge-offer sodat hulle kon ruik hoe lekker dit is. Dit is wat jy gedoen het.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Jy het seuns en dogters vir My gekry, maar jy het hulle geneem en jy het hulle ge-offer sodat die ander gode offer-etes kon eet. Jy het ander gode gedien, maar jy wou nog meer vir hulle doen. Jy het ook my kinders geslag en jy het hulle vir die ander gode verbrand. Jy het al hierdie dinge gedoen wat Ek haat, jy het ontrou geword en jy het nie die tyd onthou toe jy kaal was en nie klere gehad het nie, daardie tyd toe jy in jou bloed gelê en rondrol het. Jy het al die slegte dinge gedoen, daarom sal dit sleg gaan met jou, baie sleg.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Jy het vir jou offer-plekke gebou oral waar daar plek was. Jy het offer-plekke gebou by elke plek waar die paaie bymekaarkom. Jy was mooi, maar jy het jou mooi liggaam gebruik om dinge te doen wat Ek haat. Jy was soos 'n prostituut wat haar bene oopmaak vir elkeen wat verbykom. Jy het nie opgehou om ander gode te dien nie. Jy het ander gode gedien saam met die Egiptenaars, hulle wat altyd lus was om by jou te slaap. Jy het baie gehou van hulle, jy het aangehou om ontrou te wees en My seer te maak. En toe het Ek besluit om jou te straf. Ek het nie meer vir jou alles gegee wat jy moes kry nie. Ek het gesê jou vyande, die Filistyne, kan doen met jou wat hulle wil. En hulle was ook skaam oor jou slegte lewe. Jy het ander gode gedien saam met die Assiriërs, jy wou nie ophou nie. Jy het ander gode gedien saam met hulle en jy wou dit meer en meer doen. Jy het aangehou om ander gode te dien saam met die mense in die land van die handelaars, die Galdeërs, en jy wou dit meer en meer doen. Jy is mal in jou kop.” Dit het die Here gesê, Hy wat Here is. “Jy het al hierdie dinge gedoen soos 'n prostituut wat haar werk goed kan doen. Jy het offer-plekke gebou op elke plek waar die paaie bymekaarkom en oral waar daar plek was, maar jy het toe nie soos 'n prostituut gemaak nie. Jy het nie gevra dat hulle jou moet betaal nie. Jy was soos 'n slegte vrou wat gekies het om by ander mans te slaap, nie by haar eie man nie. Al die prostitute wil hê dat die mans húlle moet betaal, maar jý het vir almal betaal, almal vir wie jy lief was. Jy het hulle betaal om van oral na jou toe te kom en om ander gode saam met jou te dien. Jy was anders as al die ander prostitute toe jy ontrou geword het. Mans het nie self na jou toe gekom nie, hulle het nie vir jou betaal nie, nee, jy het vir húlle betaal. Jy was anders.” Daarom, slegte vrou, luister na wat die Here sê. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het baie slegte dinge gedoen, jy het jou klere uitgetrek vir almal vir wie jy lief was, vir jou afgode wat Ek haat. Jy het jou kinders doodgemaak en jy het hulle bloed vir die afgode gegee. Daarom sal Ek nou almal bymekaarbring vir wie jy lief is, almal van wie jy gehou het en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek sal hulle van oral bymekaarbring en dan sal Ek jou klere uittrek sodat almal kan sien jy is kaal. Ek sal jou straf soos mans vroue straf wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal self sterf, want Ek is kwaad vir jou, baie kwaad. Ek sal jou gee vir almal vir wie jy lief was, en hulle sal doen met jou wat hulle wil. Hulle sal jou offer-plekke afbreek, hulle sal jou klere uittrek en jou juwele vat, hulle sal jou so los, kaal, sonder klere. Hulle sal mense bymekaar laat kom om jou te straf, hulle sal jou doodgooi met klippe en hulle sal jou stukkend kap met hulle swaarde. Hulle sal jou huise afbrand. Hulle sal jou straf, en baie vroue sal dit sien. So sal jy ophou om 'n slegte vrou te wees. Jy sal nie weer vir mans iets verniet gee nie.

ESEGIËL 16:1-41 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

VERDER het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, maak aan Jerusalem sy gruwels bekend en sê: So spreek die Here HERE tot Jerusalem: Jou afkoms en jou geboorte is uit die land van die Kanaäniete; jou vader was 'n Amoriet en jou moeder 'n Hetitiese vrou. En wat jou geboorte aangaan — die dag toe jy gebore is, is jou nawelstring nie afgesny nie; en jy is nie met water gewas om jou te reinig nie; ook is jy nie met sout ingevrywe of in doeke toegedraai nie. Geen oog het medelyde met jou gehad om vir jou een van hierdie dinge te doen, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is. En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ontelbaar, soos die uitspruitsels van die veld, het Ek jou gemaak! En jy het gegroei en groot geword en die hoogste bloei bereik; jou borste het styf geword, en jou hare het gegroei, maar jy was naak en bloot. En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou 'n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het myne geword. Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf. Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy. Verder het Ek jou met sierade versier en armbande aan jou hande gesit en 'n ketting om jou hals. En Ek het 'n ring aan jou neus gesit en oorringe aan jou ore en 'n pragtige kroon op jou hoof. Ja, jy het jou versier met goud en silwer, en jou klere was fyn linne en sy en veelkleurige stowwe; jy het fynmeel en heuning en olie geëet, en jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het. Daarby het daar 'n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here HERE. Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het, dat dit syne sou wees. En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer — dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie. Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer. En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit. En my brood wat Ek jou gegee het — fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het — dit het jy voor hulle neergesit as 'n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here HERE. Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie, dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het? Ook het jy by al jou gruwels en jou hoererye nie gedink aan die dae van jou jeug nie, toe jy naak en bloot was en gelê en spartel het in jou bloed. En ná al jou boosheid — wee, wee jou! spreek die Here HERE — het jy vir jou 'n verwulf gebou en vir jou 'n hoogte gemaak op elke plein; by elke uitdraaiplek het jy jou hoogte gebou en jou skoonheid geskend en jou sonder skaamte aangebied aan elkeen wat verbygaan, en jy het jou hoererye vermenigvuldig. Jy het ook gehoereer met die kinders van Egipte, jou baie sinlike nabure; en jy het jou hoerery vermenigvuldig om My te terg. En kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek en die vir jou bestemde deel verminder; en Ek het jou oorgegee aan die hebsug van die wat jou haat, die dogters van die Filistyne wat hulle geskaam het oor jou ontugtige wandel. Verder het jy gehoereer met die kinders van Assur, omdat jy nie bevredig was nie; ja, jy het met hulle gehoereer en is tog nie bevredig nie. En jy het jou hoerery vermenigvuldig na die koopmansland, na Chaldéa; en ook daarmee is jy nie bevredig nie. Hoe smagtend is jou hart, spreek die Here HERE, dat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van 'n onbeskaamde hoer; dat jy jou verwulf by elke uitdraaiplek gebou en jou hoogte op elke plein gemaak het! Maar jy was nie eens soos 'n hoer nie, deurdat jy hoereloon gering geag het. O Die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes aangeneem. Hulle gee geskenke aan al die hoere, maar jy het jou geskenke aan al jou minnaars gegee en hulle gifte aangebied om van alle kante na jou te kom in jou hoererye. So was daar dan by jou in jou hoererye net die teendeel van die vroue, omdat hulle jou nie agternageloop het om te hoereer nie, en deurdat jy hoereloon gegee het terwyl aan jou geen hoereloon gegee is nie; daarom was jy die teendeel. Daarom, o hoer, hoor die woord van die HERE. So sê die Here HERE: Omdat jou koper uitgestort is en jou skaamte ontbloot is deur jou hoererye met jou minnaars en met al jou afskuwelike drekgode, en vanweë die bloed van jou kinders wat jy aan hulle gegee het, daarom, kyk, Ek sal al jou minnaars versamel vir wie jy aangenaam was, en almal wat jy liefgehad het, saam met almal wat jy gehaat het; en Ek sal hulle van alle kante teen jou versamel en jou naaktheid vir hulle ontbloot, sodat hulle jou hele naaktheid kan sien. En Ek sal jou oordeel volgens die verordeninge van vroue wat owerspel bedrywe en bloed vergiet, en sal jou oorgee aan die bloedige dood van grimmigheid en naywer. En Ek sal jou in hulle hand oorgee, en hulle sal jou verwulf afbreek en jou hoogtes omgooi en jou jou klere uittrek en jou versiersels wegneem en jou naak en bloot laat staan. Dan sal hulle teen jou 'n menigte laat optrek en jou stenig en jou met hulle swaarde stukkend kap. Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal 'n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.

ESEGIËL 16:1-41 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het. Jy moet sê: So sê die Here my God vir Jerusalem: Kanaän is die land van jou herkoms en jou geboorte. Jou pa was 'n Amoriet, jou ma 'n Hetiet. Toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie, jy is nie gebad nie, nie met sout ingevryf nie en nie in doeke toegedraai nie. Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is. “Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef, groei!’ “Ek het jou soos 'n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n pragtige meisie geword, jou borste het styf geword en jou hare lank. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie. Toe Ek by jou verbykom en sien dat jy volwasse begin word, het Ek jou onder my sorg geneem en vir jou klere aangetrek. Ek het My met 'n eed aan jou verbind en met jou 'n verbond aangegaan, sê die Here my God. Jy het Myne geword. Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. Ek het vir jou 'n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 'n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en 'n pragtige krans op jou kop. Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om 'n koningin te wees. Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was 'n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God. “Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om 'n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne. Jy het van jou klere gevat en vir jou veelkleurige hoogtes gemaak en daar jou afgodery bedryf, iets heeltemal ongehoords. Jy het jou juwele gevat, van my goud en my silwer wat Ek vir jou gegee het, en vir jou mansbeelde gemaak en met hulle jou afgodery bedryf. Jy het jou veelkleurige rok gevat en dit vir hulle aangetrek, jy het my olie en my wierook voor hulle neergesit. Ek het jou gevoed met fynmeel, olie en heuning, maar jy het die kos wat Ek vir jou gegee het, voor hulle neergesit as offers met 'n aangename geur. Ja, dit is wat gebeur het, sê die Here my God. Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie, dat jy ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand? Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie. “Ellende, ellende wag vir jou,” sê die Here my God. “Nadat jy so sleg geword het, het jy boonop op elke oop plek vir jou 'n offerbult gebou, vir jou 'n hoogte ingerig. By elke kruispad het jy vir jou 'n hoogte ingerig en van jou skoonheid iets afskuweliks gemaak. Jy het gretig gelê en wag vir elkeen wat verbykom; jy het aanmekaar bly hoereer. Jy het gehoereer met jou goedbedeelde bure, die Egiptenaars, jy het aanmekaar bly hoereer en My bly uittart. Ek het my hand teen jou uitgesteek en jou regte ingekort en jou oorgelaat aan die willekeur van jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle het hulle geskaam oor jou skandelike gedrag. Toe het jy met die Assiriërs gehoereer, want jy was nog nie bevredig nie; jy het met hulle gehoereer, maar ook toe is jy nie bevredig nie. Jy het aanmekaar bly hoereer met die Galdese handelaars, maar ook dit het jou lus nie bevredig nie. Jou koors was hoog toe jy dit alles gedoen het,” sê die Here my God. “Jy het jou gedra soos 'n skaamtelose hoer. Jy het by elke kruispad vir jou 'n offerbult gebou, op elke oop plek 'n hoogte. Maar jy was nie eens soos 'n gewone prostituut nie, jy het jou neus opgetrek vir betaling. Jy is soos 'n immorele vrou wat ander mans ontvang en nie haar eie man nie. Al die prostitute kry betaling, maar jy betaal jou minnaars, van oral af lok jy hulle met geskenke na jou toe om met jou te hoereer. Jy het met jou hoerery juis die teenoorgestelde gedoen van wat ander vrouens doen: niemand het agter jou aangeloop nie; jy het betaal, jy is nie betaal nie. Jy is net die teenoorgestelde. “Daarom, hoer, hoor die woord van die Here!” So sê die Here my God: “Jy het jou eerloos gedra, jou sonder skaamte ontbloot om met jou minnaars te hoereer, met al jou afskuwelike afgode. Jy het vir hulle die bloed van jou kinders gegee. Daarom gaan Ek al jou minnaars bymekaarbring, almal van wie jy gehou het, almal vir wie jy lief was en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek gaan hulle van oral af rondom jou bymekaarbring en dan gaan Ek jou ontbloot voor hulle sodat hulle na jou kan kyk terwyl jy heeltemal kaal is. Ek gaan jou straf soos vrouens gestraf moet word wat owerspel en moord gepleeg het. Ek laat jou die moorde voel, die gramskap, die woede. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars. Hulle sal jou offerbulte afbreek, jou hoogtes verwoes. Hulle sal jou klere uittrek, jou juwele afvat en jou kaal, sonder klere daar laat staan. Hulle sal 'n vergadering bymekaarroep om jou te veroordeel, hulle sal jou met klippe doodgooi en jou met hulle swaarde in stukke kap, hulle sal jou huise afbrand. So sal hulle jou vonnis voltrek ten aanskoue van al die vrouens. Ek maak 'n end aan jou hoerery. Jy sal nie weer geskenke uitdeel nie.

ESEGIËL 16:1-41 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, maak aan Jerusalem haar afstootlike dade bekend en sê, ‘So sê my Heer, die HERE, vir Jerusalem: “Jou oorspronge, jou afkoms lê in die land van die Kanaäniete. Jou vader was 'n Amoriet, jou moeder 'n Hetiet. Wat jou geboorte betref: Die dag toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie; met water is jy nie gewas om jou skoon te maak nie; met sout is jy nie ingevryf nie, en jy is glad nie toegedraai nie. Niemand het 'n traan oor jou gestort en uit deernis met jou enigiets hiervan vir jou gedoen nie. Jy is met minagting vir jou lewe weggegooi in die veld die dag toe jy gebore is. “ ‘ “Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef!’ Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef en groei!’ Soos plante in die veld het Ek jou gemaak. Jy het gegroei, grootgeword, die mooiste juweel geword. Jou twee borste het ferm geword, jy het skaamhare gekry. Maar jy was ontbloot en nakend. “ ‘ “Ek het weer by jou verbygegaan, jou raakgesien, en kyk, jou tyd vir die liefdespel het aangebreek! Ek het die soom van my kleed oor jou gesprei, jou naaktheid bedek. Ek het vir jou 'n eed afgelê, My in 'n verbond met jou begewe, ” is die uitspraak van my Heer, die HERE: “en jy het Myne geword. “ ‘ “Ek het jou met water gewas, jou bloed afgespoel en jou met olie ingevryf. Ek het jou geklee in veelkleurig geweefde klere, vir jou sandale aangetrek van sagte leer, jou in linne gedrapeer en jou met sy bedek. Ek het jou met juwele versier, armbande om jou polse gesit, 'n halssnoer om jou nek. Ek het 'n ring in jou neus gesit, oorringe aan jou ore en 'n sierlike kroon op jou kop. “ ‘ “Jy het jouself versier met goud en silwer; jou klere was van linne, van sy en veelkleurig geweefde materiaal. Gesifte meel, heuning en olyfolie het jy geëet. Jy het buitengewoon mooi geword. Jy sou deug as 'n koningin. Jy het onder die nasies roem verwerf met jou skoonheid; want dit was volmaak, danksy die versierings wat Ek aan jou gehang het.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “ Maar toe het jy op jou skoonheid staatgemaak en het jy gehoereer, omdat jy beroemd was. Jy het jou hoerery uitgestort op elke verbyganger; aan hom het jou skoonheid behoort. Jy het van jou klere gevat, vir jou veelkleurige kussings gemaak en daarop gehoereer. Dit was nie daarvoor bedoel nie, en dit moes nie gebeur nie. Jy het van jou versiersels gevat, van die goud en silwer wat Ek vir jou gegee het. Jy het vir jou afgodsbeelde van mans gemaak en so jou hoerery voortgesit. Jy het jou veelkleurig geweefde klere gevat, die beelde daarmee bedek, en my olie en reukwerk voor hulle neergesit. Die voedsel wat Ek vir jou gegee het – ja, gesifte meel, olyfolie en heuning het Ek jou laat eet – jy het dit voor hulle neergesit as 'n geurige offer. Dit is wat gebeur het!” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “ Toe het jy jou seuns en dogters gevat, dié wat jy vir My in die wêreld gebring het, en jy het hulle aan die beelde geoffer as voedsel. Was jou owerspel nie genoeg nie, dat jy my kinders moes slag, hulle moes oorlewer deur hulle aan die beelde toe te wy? By al jou afstootlike dade en owerspel het jy nie jou kindertyd onthou toe jy ontbloot en nakend, spartelend in jou bloed was nie. “ ‘ “En toe, ná al jou boosheid – wee jou, ja, wee jou!” is die uitspraak van my Heer, die HERE – “ het jy vir jou plekke vir hoerery gebou. Jy het vir jou offerhoogtes ingerig op elke oop plek. By elke kruispad het jy jou offerhoogtes gebou, en sodoende jou skoonheid iets afstootliks gemaak. Jy het jou bene oopgesprei vir elke verbyganger en jou dade van owerspel vermeerder. Jy het met die Egiptenare gehoereer, jou goedbedeelde bure. Jy het jou owerspel vermeerder en My uitgetart. Kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek; Ek het jou onderhoud ingekort. Ek het jou oorgegee aan die willekeur van hulle wat jou haat, aan die Filistynse vroue wat hulle skaam vir jou skandelike gedrag. Jy het gehoereer met die Assiriërs, sonder dat jy bevredig is. Ja, jy het met hulle gehoereer, en nog erger, jy is nie bevredig nie. Jy het jou owerspel vermeerder in die land van die handelaars, die Galdeërs, maar selfs daardeur is jy nie bevredig nie. “ ‘ “Hoe vurig is jou hartstog,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “wanneer jy al hierdie dinge doen – die werk van 'n brutale hoervrou! “ ‘ “Met die bou van jou plekke vir hoerery by elke kruispad, met jou offerhoogtes wat jy ingerig het op elke oop plek, was jy nie soos 'n gewone prostituut nie – jy het fooie versmaai! Jou egbreekster! In plaas van haar man, ontvang sy vreemdes! Aan alle prostitute word vergoeding betaal, maar jy het jou prys aan al jou minnaars betaal; jy het hulle omgekoop om na jou te kom, van oraloor, vir jou dade van owerspel. By jou is dit andersom as by ander vroue wanneer dit by jou dade van owerspel kom: Jy word nie genader vir omgang nie, en terwyl jy 'n fooi betaal, word 'n fooi nie aan jou betaal nie. Met jou is dit net andersom.” “ ‘Daarom, jou hoer, hoor die woord van die HERE! So sê my Heer, die HERE: “Omdat jou koper so vermors is, jou naaktheid ontbloot is deur jou dade van owerspel by jou minnaars – ja, oor al jou afstootlike afgodsbeelde en oor die bloed van jou kinders wat jy aan hulle oorgelewer het – daarom, kyk, Ek gaan al jou minnaars byeenbring, hulle aan wie jy genot verskaf het, elkeen vir wie jy lief was, sowel as elkeen wat jy gehaat het. Ek bring hulle teen jou byeen, van oraloor. Ek gaan jou kaal uittrek voor hulle. Hulle sal jou in al jou naaktheid sien. Ek gaan aan jou die vonnisse voltrek van vroue wat egbreuk pleeg en bloed vergiet. Ek sal jou onderwerp aan die bloedwraak van woede en heilige jaloesie. Ek gaan jou in hulle hand oorgee. Hulle sal jou plekke van hoerery opbreek en jou offerhoogtes afbreek. Hulle sal jou klere uittrek en jou versierings vat. Hulle sal jou ontbloot en nakend agterlaat. Hulle sal 'n horde teen jou laat optrek, en dié sal jou met klippe doodgooi, jou opkap met hulle swaarde. Hulle sal jou huise afbrand en oordele aan jou voltrek ten aanskoue van baie vroue. Ek sal 'n einde maak aan jou hoerery; ook fooie sal jy nie meer kan betaal nie.

ESEGIËL 16:1-41 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Weer het die woord van die HERE tot my gekom en gesê: Mensekind, laat Jerusalem sy gruwels ken, En sê: So spreek die HERE HERE aan Jerusalem; Jou geboorte en jou afkoms is uit die land Kanaän; jou vader was 'n Amoriet, en jou moeder 'n Hetiet. En wat jou geboorte aangaan, die dag toe jy gebore is, is jou naeltjie nie afgesny nie, en jy is nie in water gewas om jou te voed nie; jy was glad nie gesout en glad nie ingewikkel nie. Geen oog het jou jammer gekry om een van hierdie dinge aan jou te doen om met jou medelye te hê nie; maar jy is weggewerp in die oop veld, tot 'n walging van jou persoonlikheid, op die dag dat jy gebore is. En toe ek by jou verbygaan en jou sien dat jy verontreinig is deur jou eie bloed, het Ek vir jou gesê toe jy in jou bloed was: Leef! ja, Ek het vir jou gesê toe jy in jou bloed was: Leef! Ek het jou laat vermenigvuldig soos die kiem van die veld, en jy het vermeerder en groot geword, en jy het tot uitstekende versierings gekom: jou borste is gevorm en jou hare het gegroei, terwyl jy naak en kaal was. En toe ek by jou verbygegaan en jou aanskou, kyk, was jou tyd die tyd van liefde; en Ek het my mantel oor jou uitgesprei en jou naaktheid bedek; ja, Ek het vir jou gesweer en met jou 'n verbond gesluit, spreek die HERE HERE, en jy het myne geword. Toe het ek jou met water gewas; ja, Ek het jou bloed heeltemal van jou afgewas, en Ek het jou met olie gesalf. Ek het jou ook met gebreide werk beklee en jou met dasvelle geskoen, en ek het jou met fyn linne omgord en jou met sy bedek. Ek het jou ook met versierings versier, en ek het armbande om jou hande gesit en 'n ketting om jou nek. En ek het 'n juweel op jou voorhoof gesit en oorringe in jou ore en 'n pragtige kroon op jou hoof. So was jy versier met goud en silwer; en jou klere was van fyn linne en sy en gebreide werk; fynmeel en heuning en olie het jy geëet, en jy was buitengewoon mooi, en jy het voorspoedig tot 'n koninkryk gekom. En jou roem het uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my skoonheid wat Ek op jou gegee het, spreek die HERE HERE. Maar jy het op jou eie skoonheid vertrou en gehoereer ter wille van jou naam, en jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het; dit was syne. En van jou klere het jy geneem en jou hoogtes met baie kleure versier en daarop gehoereer; sulke dinge sal nie kom nie, en dit sal nie so wees nie. Jy het ook jou mooi juwele geneem van my goud en van my silwer wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van mense gemaak en met hulle gehoereer. En jy het jou gebreide klere geneem en dit toegemaak; en jy het my olie en my reukwerk voor hulle neergesit. En my spys wat Ek jou gegee het, fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gevoed het, jy het dit vir hulle as lieflike geur voorgesit; en so was dit, spreek die HERE HERE. Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dit het jy aan hulle geoffer om geëet te word. Is dit van jou hoererye 'n geringe saak, Dat jy my kinders gedood en hulle oorgegee het om hulle vir hulle deur die vuur te laat gaan? En in al jou gruwels en jou hoererye het jy nie gedink aan die dae van jou jeug nie, toe jy naak en onbaar was en deur jou bloed besoedel was. En dit het gebeur ná al jou boosheid—wee, wee jou, spreek die HERE HERE! dat jy ook vir jou 'n uitnemende plek gebou en vir jou 'n hoogte gemaak het in elke straat. U het u hoogte gebou op elke hoof van die pad en u skoonheid 'n afsku gemaak, en u voete oopgemaak vir elkeen wat verbygaan en u hoererye vermenigvuldig. Jy het ook gehoereer met die Egiptenaars, jou bure, groot van vlees; en het jou hoererye vermeerder om My te terg. Kyk, daarom het Ek my hand oor jou uitgesteek en jou gewone voedsel verminder en jou oorgegee aan die wil van die wat jou haat, die dogters van die Filistyne wat hulle skaam oor jou skandelike weg. Jy het ook met die Assiriërs gehoereer, omdat jy onversadig was; ja, jy het met hulle gehoereer, en tog kon jy nie versadig word nie. Verder het jy jou hoerery vermenigvuldig in die land Kanaän tot by Chaldéa; en tog was jy nie daarmee versadig nie. Hoe swak is jou hart, spreek die HERE HERE, omdat jy al hierdie dinge doen, die werk van 'n heersende hoer; Deurdat jy jou eer in die hoof van elke pad bou en jou hoogte in elke straat maak; en jy was nie soos 'n hoer deurdat jy loon spot nie; Maar soos 'n vrou wat egbreuk pleeg, wat vreemdelinge in die plek van haar man neem! Hulle gee geskenke aan al die hoere, maar jy gee jou geskenke aan al jou minnaars en huur hulle, sodat hulle van alle kante na jou kan kom vir jou hoerery. En die teendeel is by jou van ander vroue in jou hoererye, terwyl niemand jou volg om hoerery te pleeg nie; Daarom, o hoer, hoor die woord van die HERE: So sê die HERE HERE: Omdat jou onreinheid uitgestort is en jou naaktheid ontdek is deur jou hoererye met jou minnaars en met al die drekgode van jou gruwels en deur die bloed van jou kinders wat jy aan hulle gegee het; Kyk, daarom sal Ek al jou minnaars bymekaarmaak, met wie jy behae gehad het, en almal wat jy liefgehad het, met almal wat jy gehaat het; En Ek sal hulle rondom jou versamel en jou naaktheid vir hulle ontdek, sodat hulle jou hele skaamte kan sien. En Ek sal jou oordeel soos vroue wat die huwelik verbreek en bloed vergiet, geoordeel word; en Ek sal jou bloed gee in grimmigheid en ywer. En Ek sal jou ook in hulle hand gee, en hulle sal jou vernaamste plek afbreek en jou hoogtes afbreek; hulle sal jou ook van jou klere uittrek en jou mooi juwele neem en jou naak en bloot laat. En hulle sal 'n menigte teen jou laat opkom en jou met klippe stenig en jou met hul swaarde deurboor. En hulle sal jou huise met vuur verbrand en strafgerigte aan jou voltrek voor die oë van baie vroue; en Ek sal jou laat ophou om te hoereer, en jy mag ook geen loon meer gee nie.

ESEGIËL 16:1-41 Die Boodskap (DB)

Die Here het weer met my gepraat en vir my gesê om met my volk te gaan praat. “Mens, gaan vertel vir Jerusalem watter verskriklike slegte dade sy inwoners gedoen het. Gaan sê vir hierdie stad wat Ek, die Here, die God van Esegiël, sê: Jy is niks anders as ’n heiden nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet. Die dag toe jy gebore is, was daar niemand wat vir jou gesorg het nie. Daar was niemand wat genoeg omgegee het om eers die naelstring af te sny waarmee jy aan jou ma vas was nie. Niemand het jou gewas of versorg nie. Jy het ook nie iets warms gehad waarmee hulle jou kon toedraai nie. Niemand het vir jou omgegee nie. Daar was niemand wat in jou belanggestel het nie. Niemand het jou jammer gekry of vir jou gesorg nie. Hulle het jou die dag toe jy gebore is, sommer in die veld gaan weggooi. Jy is alleen gelos om dood te gaan omdat niemand jou wou gehad het nie. “Maar toe het Ek verbygekom en jou daar sien lê. Jy het hulpeloos gelê en skop in jou eie bloed terwyl jy besig was om dood te gaan. Toe Ek jou daar sien lê, het Ek gesê: ‘Jy moet lewe!’ En Ek het jou opgetel en versorg. Soos ’n splinternuwe plant het jy weer begin lewe. Jy het opgegroei en soos ’n mooi en kosbare juweel geword. Soos ’n jongmeisie het jou borste begin vorm en jou hare het gegroei, alhoewel jy sonder klere was. “Toe het Ek eendag weer daar verbygegaan waar jy bly, en gesien dat jy nou oud genoeg is om te trou. En toe het Ek jou my klere gegee om aan te trek en met jou getrou. Ek het ’n ooreenkoms met jou aangegaan om jou huweliksmaat te wees. Jy het Myne geword,” sê die Here, Esegiël se God. “Toe het Ek jou gebad en die bloed van jou afgewas. Ek het jou vel met die heerlikste olies ingevryf. En Ek het duur klere gekoop sodat jy jou mooi kon aantrek. Jou klere was van die beste en duurste wat ’n mens kan koop. Ek het ook vir jou duur skoene gekoop. En Ek het vir jou pragtige juwele gekoop: hangertjies vir jou nek en armbande, en ander juwele waarmee jy jou mooi kon maak. Ek het selfs ’n goue kroon gekoop om op jou kop te sit, want jy was my koningin. So het Ek jou mooi gemaak met die goud en silwer wat Ek ten duurste vir jou gekoop het. Jou klere was die duurste en die mooiste wat ’n mens in die hande kan kry. Jy het die beste en lekkerste kos gekry. En jy was mooier as ooit tevore. Vir My was jy die kosbaarste wat Ek het. Jy het soos ’n koningin gelyk, en jy was ook vir My ’n koningin! Die hele wêreld het van jou geweet. Hulle het gepraat oor hoe mooi jy was. Ek het jou so pragtig gemaak met alles wat Ek vir jou gegee het,” sê die Here, die God van Esegiël. “Maar toe het jy begin dink jy het My nie meer nodig nie. Jy het jou vertroue in jou eie skoonheid begin stel. En toe het jy jou liggaam vir elke man gegee wat verbygekom het. Jy het jou soos ’n slet vir elke man gegee wat daarvoor gevra het. En jy het al die mooi en kosbare goed wat Ek vir jou gegee het, gebruik om die afgode te dien en voor hulle te buig. Ja, reg voor jou afgode het jy die getroude vrou geword wat by ander mans slaap. Kan ’n mens dit glo? Hoe kan so iets ooit gebeur? Jy het die juwele en die goud en silwer wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om vir jou beeldjies van afgode te maak. En dan het jy voor hierdie beeldjies neergebuig en dit aanbid asof dit jou god is. Dit was so goed jy het by ander mans geslaap toe jy voor daardie afgode neergebuig en hulle aanbid het. En jy het die mooi klere wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om oor jou afgodsbeelde te gooi. Jy het die olie wat Ek vir jou gekoop het, gebruik om vir die afgode offers te bring. En jy het wierook vir hulle gebrand om hulle te vereer, die einste wierook wat Ek vir jou gekoop het. Verbeel jou! Ek is jou God, en Ek gee vir jou die beste om te eet. En wat Ek vir jou gee, gaan offer jy toe vir afgode, dooie beelde wat niks vir jou kan doen nie. Ja, dít is die slegte dinge wat jy aangevang het,” sê die Here, Esegiël se God. “Ek was die pa van jou kinders. En dit is hierdie kinders, my seuns en my dogters, wat jy aan jou afgode geoffer het. Was dit nie erg genoeg dat jy by ander mans geslaap het nie? Moet jy nou ook nog my kinders doodmaak deur hulle aan jou afgode te offer? In al die jare dat jy hierdie afskuwelike slegte dade gedoen het, het jy nie eens een keer teruggedink aan die ou dae toe jy as baba hulpeloos en in jou eie bloed in die veld gelê het nie.” “Ek gaan jou vernietig, so seker as wat Ek leef,” sê die Here, die God van Esegiël. “Al jou slegte dade was nie genoeg nie. Jy het ook nog ’n plek gebou vir jou afgode. En jy het in elke dorp altare gebou waar jy offers vir jou afgode gebring het. En op elke straathoek het jy jou lewe verwoes met al jou slegte dade. Jy het jou liggaam aangebied vir elke vreemdeling wat by jou verbygekom het. Jy het gesê: ‘Kom slaap by my!’ Jy het ook Egipte, waar jy ’n bediende was en waar Ek jou gaan verlos het, by jou minnaars gevoeg. Jy het My verskriklik kwaad gemaak met jou slegte dade om by al wat man is te slaap, al was jy met My getroud. Daarom het Ek jou met my vuis bygedam. Ek het jou land al hoe kleiner gemaak. Ek het jou aan jou vyande oorgegee. Selfs jou vyande, die Filistyne, het verstom gestaan oor al die slegte dade waaraan jy jou oorgegee het. Jy het jou liggaam op ’n skinkbord vir die Assiriërs gegee. Jy kon net nie genoeg minnaars kry by wie jy kon slaap nie. En as jy opstaan, het jy dadelik na nog iemand gesoek by wie jy kon slaap. Selfs Babilonië het jou minnaar geword. Jy het ook by hom gaan slaap. En ná dit alles was jy nog nie tevrede nie. “Hoe siek is jy nie in jou binneste nie, dat jy sulke dinge aanhou doen het! Jy was skaamteloos toe jy as getroude vrou so by enige man in die bed gespring het,” sê die Here, Esegiël se God. “Jy het op elke straathoek plekke gebou waar jy jou afgode kon neersit. En op elke plein in jou dorpe het jy altare gebou om vir jou afgode te offer. Jy het slegter as ’n slet opgetree. Jy was ’n straatvrou wat nie eens betaling gevra het om jou liggaam vir ander mans te gee nie. Jy was die slegte vrou wat met ander mans in die bed geklim het, maar niks met haar eie Man te doen wou hê nie. ’n Straatvrou word betaal as sy haar liggaam vir mans gee. Maar nie jy nie! Jy het die mans wat jy na jou toe gelok het, betaal om dit te doen. Jy het hulle met geskenke omgekoop sodat hulle by jou sal slaap. Waar ’n slet betaal word vir wat sy vir ander mans doen, het jy presies die teenoorgestelde gedoen. Niemand het jou betaal nie. Jy het hulle betaal. “Daarom, jou slegte vrou, hoor as die Here met jou praat.” Dit is hoe die Here, die God van Esegiël, oor jou dink: “Jy het jouself uitgetrek vir al wat man is. Jy het voor afskuwelike beelde van afgode neergeval en hulle aanbid. Jy het my kinders aan jou afgode geoffer. Daarom gaan Ek die volgende dinge doen: Ek maak al jou vriende bymekaar, al die mans vir wie jy so lief was. Ja, selfs die mans van wie jy nie gehou het nie en vir wie jy jou neus opgetrek het, maak Ek bymekaar. En dan sal Ek al jou klere voor hulle uittrek. Hulle sal jou sien, en jy sal van skaamte inmekaarkrimp. En dan sal Ek jou straf omdat jy my kinders doodgemaak het, en omdat jy by ander mans geslaap het. Jy sal vol bloed wees soos Ek jou in my woede gaan slaan. Daarna gaan Ek jou oorgee in die hande van die mans by wie jy so graag geslaap het. Hierdie mans is die nasies waar jy hulp gaan soek het. Hulle sal jou vernietig. Hulle sal al die plekke wat jy vir jou afgode gebou het, stukkend kap. En hulle sal die altare omgooi wat jy vir jou afgode gebou het. Hulle sal jou klere uittrek en jou pragtige juwele steel. Hulle sal jou kaal agterlaat, en jy sal skaam wees vir jouself. Hulle sal saamstaan en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde uitmekaarsny. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie ander vroue straf. So sal Ek sorg dat jy ophou om by ander mans te slaap. En jy sal ook nooit weer mans betaal om by jou te slaap nie.”