VERDER het die woord van die HERE tot my gekom en gesê:
Mensekind, maak aan Jerusalem sy gruwels bekend
en sê: So spreek die Here HERE tot Jerusalem: Jou afkoms en jou geboorte is uit die land van die Kanaäniete; jou vader was 'n Amoriet en jou moeder 'n Hetitiese vrou.
En wat jou geboorte aangaan — die dag toe jy gebore is, is jou nawelstring nie afgesny nie; en jy is nie met water gewas om jou te reinig nie; ook is jy nie met sout ingevrywe of in doeke toegedraai nie.
Geen oog het medelyde met jou gehad om vir jou een van hierdie dinge te doen, om vir jou jammer te wees nie; maar jy is op die oop veld gegooi uit afsku vir jou lewe, die dag toe jy gebore is.
En Ek het by jou verbygegaan en jou sien spartel in jou bloed; toe het Ek vir jou gesê in jou bloed: Leef! Ja, Ek het vir jou gesê in jou bloed: Leef!
Ontelbaar, soos die uitspruitsels van die veld, het Ek jou gemaak! En jy het gegroei en groot geword en die hoogste bloei bereik; jou borste het styf geword, en jou hare het gegroei, maar jy was naak en bloot.
En Ek het by jou verbygegaan en jou gesien, en kyk, jou tyd was die tyd van liefde. Toe het Ek my vleuel oor jou uitgesprei en jou naaktheid toegedek. Ja, Ek het vir jou gesweer en met jou 'n verbond aangegaan, spreek die Here HERE, en jy het myne geword.
Daarop het Ek jou met water gewas en jou bloed van jou afgespoel en jou met olie gesalf.
Ook het Ek jou beklee met veelkleurige klere en vir jou skoene van robbevel gemaak, en Ek het jou gehul in fyn linne en jou oordek met sy.
Verder het Ek jou met sierade versier en armbande aan jou hande gesit en 'n ketting om jou hals.
En Ek het 'n ring aan jou neus gesit en oorringe aan jou ore en 'n pragtige kroon op jou hoof.
Ja, jy het jou versier met goud en silwer, en jou klere was fyn linne en sy en veelkleurige stowwe; jy het fynmeel en heuning en olie geëet, en jy was buitengewoon mooi en so voorspoedig dat jy koninklike waardigheid bereik het.
Daarby het daar 'n naam van jou af uitgegaan onder die nasies vanweë jou skoonheid, want dit was volmaak deur my versiersels wat Ek op jou aangebring het, spreek die Here HERE.
Maar jy het vertrou op jou skoonheid en gehoereer vanweë jou naam; en jy het jou hoererye uitgestort op elkeen wat verbygegaan het, dat dit syne sou wees.
En jy het van jou klere geneem en vir jou kleurige hoogtes gemaak en op hulle gehoereer — dinge wat nie voorgekom het nie en nie moet wees nie.
Daarby het jy jou versiersels uit my goud en my silwer geneem wat Ek jou gegee het, en jy het vir jou beelde van manne gemaak en daarmee gehoereer.
En jy het jou veelkleurige klere geneem en dié beelde omhul; jy het ook my olie en my reukwerk voor hulle neergesit.
En my brood wat Ek jou gegee het — fynmeel en olie en heuning waarmee Ek jou gespysig het — dit het jy voor hulle neergesit as 'n lieflike reuk; ja, so was dit, spreek die Here HERE.
Verder het jy jou seuns en jou dogters geneem wat jy vir My gebaar het, en dié aan hulle geoffer om verteer te word. Was dit nie genoeg met jou hoererye nie,
dat jy my kinders geslag en dié oorgegee het deurdat jy hulle vir hulle deur die vuur laat gaan het?
Ook het jy by al jou gruwels en jou hoererye nie gedink aan die dae van jou jeug nie, toe jy naak en bloot was en gelê en spartel het in jou bloed.
En ná al jou boosheid — wee, wee jou! spreek die Here HERE —
het jy vir jou 'n verwulf gebou en vir jou 'n hoogte gemaak op elke plein;
by elke uitdraaiplek het jy jou hoogte gebou en jou skoonheid geskend en jou sonder skaamte aangebied aan elkeen wat verbygaan, en jy het jou hoererye vermenigvuldig.
Jy het ook gehoereer met die kinders van Egipte, jou baie sinlike nabure; en jy het jou hoerery vermenigvuldig om My te terg.
En kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek en die vir jou bestemde deel verminder; en Ek het jou oorgegee aan die hebsug van die wat jou haat, die dogters van die Filistyne wat hulle geskaam het oor jou ontugtige wandel.
Verder het jy gehoereer met die kinders van Assur, omdat jy nie bevredig was nie; ja, jy het met hulle gehoereer en is tog nie bevredig nie.
En jy het jou hoerery vermenigvuldig na die koopmansland, na Chaldéa; en ook daarmee is jy nie bevredig nie.
Hoe smagtend is jou hart, spreek die Here HERE, dat jy al hierdie dinge gedoen het, die werk van 'n onbeskaamde hoer;
dat jy jou verwulf by elke uitdraaiplek gebou en jou hoogte op elke plein gemaak het! Maar jy was nie eens soos 'n hoer nie, deurdat jy hoereloon gering geag het.
O Die vrou wat owerspel bedrywe! Terwyl sy onder haar man staan, het sy vreemdes aangeneem.
Hulle gee geskenke aan al die hoere, maar jy het jou geskenke aan al jou minnaars gegee en hulle gifte aangebied om van alle kante na jou te kom in jou hoererye.
So was daar dan by jou in jou hoererye net die teendeel van die vroue, omdat hulle jou nie agternageloop het om te hoereer nie, en deurdat jy hoereloon gegee het terwyl aan jou geen hoereloon gegee is nie; daarom was jy die teendeel.
Daarom, o hoer, hoor die woord van die HERE.
So sê die Here HERE: Omdat jou koper uitgestort is en jou skaamte ontbloot is deur jou hoererye met jou minnaars en met al jou afskuwelike drekgode, en vanweë die bloed van jou kinders wat jy aan hulle gegee het,
daarom, kyk, Ek sal al jou minnaars versamel vir wie jy aangenaam was, en almal wat jy liefgehad het, saam met almal wat jy gehaat het; en Ek sal hulle van alle kante teen jou versamel en jou naaktheid vir hulle ontbloot, sodat hulle jou hele naaktheid kan sien.
En Ek sal jou oordeel volgens die verordeninge van vroue wat owerspel bedrywe en bloed vergiet, en sal jou oorgee aan die bloedige dood van grimmigheid en naywer.
En Ek sal jou in hulle hand oorgee, en hulle sal jou verwulf afbreek en jou hoogtes omgooi en jou jou klere uittrek en jou versiersels wegneem en jou naak en bloot laat staan.
Dan sal hulle teen jou 'n menigte laat optrek en jou stenig en jou met hulle swaarde stukkend kap.
Hulle sal ook jou huise met vuur verbrand en strafgerigte teen jou oefen voor die oë van baie vroue; en Ek sal 'n einde aan jou hoerery maak, en jy sal ook nie meer hoereloon gee nie.