Esegiël 16:1-41

Esegiël 16:1-41 AFR20

Die woord van die HERE het tot my gekom: “Mensekind, maak aan Jerusalem haar afstootlike dade bekend en sê, ‘So sê my Heer, die HERE, vir Jerusalem: “Jou oorspronge, jou afkoms lê in die land van die Kanaäniete. Jou vader was 'n Amoriet, jou moeder 'n Hetiet. Wat jou geboorte betref: Die dag toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie; met water is jy nie gewas om jou skoon te maak nie; met sout is jy nie ingevryf nie, en jy is glad nie toegedraai nie. Niemand het 'n traan oor jou gestort en uit deernis met jou enigiets hiervan vir jou gedoen nie. Jy is met minagting vir jou lewe weggegooi in die veld die dag toe jy gebore is. “ ‘ “Ek het by jou verbygegaan, jou sien spartel in jou bloed. Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef!’ Ja, Ek het vir jou, waar jy in jou bloed lê, gesê, ‘Bly leef en groei!’ Soos plante in die veld het Ek jou gemaak. Jy het gegroei, grootgeword, die mooiste juweel geword. Jou twee borste het ferm geword, jy het skaamhare gekry. Maar jy was ontbloot en nakend. “ ‘ “Ek het weer by jou verbygegaan, jou raakgesien, en kyk, jou tyd vir die liefdespel het aangebreek! Ek het die soom van my kleed oor jou gesprei, jou naaktheid bedek. Ek het vir jou 'n eed afgelê, My in 'n verbond met jou begewe, ” is die uitspraak van my Heer, die HERE: “en jy het Myne geword. “ ‘ “Ek het jou met water gewas, jou bloed afgespoel en jou met olie ingevryf. Ek het jou geklee in veelkleurig geweefde klere, vir jou sandale aangetrek van sagte leer, jou in linne gedrapeer en jou met sy bedek. Ek het jou met juwele versier, armbande om jou polse gesit, 'n halssnoer om jou nek. Ek het 'n ring in jou neus gesit, oorringe aan jou ore en 'n sierlike kroon op jou kop. “ ‘ “Jy het jouself versier met goud en silwer; jou klere was van linne, van sy en veelkleurig geweefde materiaal. Gesifte meel, heuning en olyfolie het jy geëet. Jy het buitengewoon mooi geword. Jy sou deug as 'n koningin. Jy het onder die nasies roem verwerf met jou skoonheid; want dit was volmaak, danksy die versierings wat Ek aan jou gehang het.” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “ Maar toe het jy op jou skoonheid staatgemaak en het jy gehoereer, omdat jy beroemd was. Jy het jou hoerery uitgestort op elke verbyganger; aan hom het jou skoonheid behoort. Jy het van jou klere gevat, vir jou veelkleurige kussings gemaak en daarop gehoereer. Dit was nie daarvoor bedoel nie, en dit moes nie gebeur nie. Jy het van jou versiersels gevat, van die goud en silwer wat Ek vir jou gegee het. Jy het vir jou afgodsbeelde van mans gemaak en so jou hoerery voortgesit. Jy het jou veelkleurig geweefde klere gevat, die beelde daarmee bedek, en my olie en reukwerk voor hulle neergesit. Die voedsel wat Ek vir jou gegee het – ja, gesifte meel, olyfolie en heuning het Ek jou laat eet – jy het dit voor hulle neergesit as 'n geurige offer. Dit is wat gebeur het!” Dit is die uitspraak van my Heer, die HERE.’ “ ‘ “ Toe het jy jou seuns en dogters gevat, dié wat jy vir My in die wêreld gebring het, en jy het hulle aan die beelde geoffer as voedsel. Was jou owerspel nie genoeg nie, dat jy my kinders moes slag, hulle moes oorlewer deur hulle aan die beelde toe te wy? By al jou afstootlike dade en owerspel het jy nie jou kindertyd onthou toe jy ontbloot en nakend, spartelend in jou bloed was nie. “ ‘ “En toe, ná al jou boosheid – wee jou, ja, wee jou!” is die uitspraak van my Heer, die HERE – “ het jy vir jou plekke vir hoerery gebou. Jy het vir jou offerhoogtes ingerig op elke oop plek. By elke kruispad het jy jou offerhoogtes gebou, en sodoende jou skoonheid iets afstootliks gemaak. Jy het jou bene oopgesprei vir elke verbyganger en jou dade van owerspel vermeerder. Jy het met die Egiptenare gehoereer, jou goedbedeelde bure. Jy het jou owerspel vermeerder en My uitgetart. Kyk, Ek het my hand teen jou uitgestrek; Ek het jou onderhoud ingekort. Ek het jou oorgegee aan die willekeur van hulle wat jou haat, aan die Filistynse vroue wat hulle skaam vir jou skandelike gedrag. Jy het gehoereer met die Assiriërs, sonder dat jy bevredig is. Ja, jy het met hulle gehoereer, en nog erger, jy is nie bevredig nie. Jy het jou owerspel vermeerder in die land van die handelaars, die Galdeërs, maar selfs daardeur is jy nie bevredig nie. “ ‘ “Hoe vurig is jou hartstog,” is die uitspraak van my Heer, die HERE, “wanneer jy al hierdie dinge doen – die werk van 'n brutale hoervrou! “ ‘ “Met die bou van jou plekke vir hoerery by elke kruispad, met jou offerhoogtes wat jy ingerig het op elke oop plek, was jy nie soos 'n gewone prostituut nie – jy het fooie versmaai! Jou egbreekster! In plaas van haar man, ontvang sy vreemdes! Aan alle prostitute word vergoeding betaal, maar jy het jou prys aan al jou minnaars betaal; jy het hulle omgekoop om na jou te kom, van oraloor, vir jou dade van owerspel. By jou is dit andersom as by ander vroue wanneer dit by jou dade van owerspel kom: Jy word nie genader vir omgang nie, en terwyl jy 'n fooi betaal, word 'n fooi nie aan jou betaal nie. Met jou is dit net andersom.” “ ‘Daarom, jou hoer, hoor die woord van die HERE! So sê my Heer, die HERE: “Omdat jou koper so vermors is, jou naaktheid ontbloot is deur jou dade van owerspel by jou minnaars – ja, oor al jou afstootlike afgodsbeelde en oor die bloed van jou kinders wat jy aan hulle oorgelewer het – daarom, kyk, Ek gaan al jou minnaars byeenbring, hulle aan wie jy genot verskaf het, elkeen vir wie jy lief was, sowel as elkeen wat jy gehaat het. Ek bring hulle teen jou byeen, van oraloor. Ek gaan jou kaal uittrek voor hulle. Hulle sal jou in al jou naaktheid sien. Ek gaan aan jou die vonnisse voltrek van vroue wat egbreuk pleeg en bloed vergiet. Ek sal jou onderwerp aan die bloedwraak van woede en heilige jaloesie. Ek gaan jou in hulle hand oorgee. Hulle sal jou plekke van hoerery opbreek en jou offerhoogtes afbreek. Hulle sal jou klere uittrek en jou versierings vat. Hulle sal jou ontbloot en nakend agterlaat. Hulle sal 'n horde teen jou laat optrek, en dié sal jou met klippe doodgooi, jou opkap met hulle swaarde. Hulle sal jou huise afbrand en oordele aan jou voltrek ten aanskoue van baie vroue. Ek sal 'n einde maak aan jou hoerery; ook fooie sal jy nie meer kan betaal nie.