ESEGIËL 16:1-41

ESEGIËL 16:1-41 AFR83

Die woord van die Here het tot my gekom: “Mens, sê vir Jerusalem wat se afskuwelike dinge hy gedoen het. Jy moet sê: So sê die Here my God vir Jerusalem: Kanaän is die land van jou herkoms en jou geboorte. Jou pa was 'n Amoriet, jou ma 'n Hetiet. Toe jy gebore is, is jou naelstring nie afgesny nie, jy is nie gebad nie, nie met sout ingevryf nie en nie in doeke toegedraai nie. Niemand was oor jou besorg of het soveel vir jou oorgehad dat hy een van dié dinge vir jou gedoen het nie. Jy is met afsku behandel en in die veld weggegooi die dag toe jy gebore is. “Toe het Ek verbygekom en jou in jou bloed sien spartel. Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef!’ Ja, Ek het vir jou daar waar jy in jou bloed gelê het, gesê: ‘Leef, groei!’ “Ek het jou soos 'n veldplant laat groei, en jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n pragtige meisie geword, jou borste het styf geword en jou hare lank. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie. Toe Ek by jou verbykom en sien dat jy volwasse begin word, het Ek jou onder my sorg geneem en vir jou klere aangetrek. Ek het My met 'n eed aan jou verbind en met jou 'n verbond aangegaan, sê die Here my God. Jy het Myne geword. Ek het jou gebad, die bloed van jou afgewas en jou met olie ingesmeer. Ek het vir jou 'n veelkleurige rok aangetrek en skoene van gebreide vel, Ek het vir jou klere laat dra van linne en ander kosbare stof. Ek het jou getooi met juwele: vir jou armbande en halssnoere aangesit, 'n ring aan jou neus, hangertjies aan jou ore en 'n pragtige krans op jou kop. Jy kon jou tooi in goud en silwer, jou klee in linne, kosbare stof, veelkleurige materiaal; jou kos was fynmeel, heuning en olie. Jy het baie mooi geword, geskik om 'n koningin te wees. Jy het onder die nasies beroemd geword om jou skoonheid. Dit was 'n volmaakte skoonheid, die gevolg van die prag waarmee Ek jou uitgerus het,” sê die Here my God. “Maar toe verlaat jy jou op jou skoonheid, jy gebruik jou beroemdheid om 'n slet te word en jy stel jouself vrylik tot beskikking van enigiemand wat verbykom, jy word syne. Jy het van jou klere gevat en vir jou veelkleurige hoogtes gemaak en daar jou afgodery bedryf, iets heeltemal ongehoords. Jy het jou juwele gevat, van my goud en my silwer wat Ek vir jou gegee het, en vir jou mansbeelde gemaak en met hulle jou afgodery bedryf. Jy het jou veelkleurige rok gevat en dit vir hulle aangetrek, jy het my olie en my wierook voor hulle neergesit. Ek het jou gevoed met fynmeel, olie en heuning, maar jy het die kos wat Ek vir jou gegee het, voor hulle neergesit as offers met 'n aangename geur. Ja, dit is wat gebeur het, sê die Here my God. Jy het jou seuns en jou dogters wat jy vir My in die wêreld gebring het, gevat en hulle vir die afgode as offermaaltye aangebied. Was jou ontrou nie genoeg nie, dat jy ook nog my kinders moes slag en hulle vir die afgode moes laat verbrand? Met al dié afskuwelike dade van jou, met jou ontrou het jy nie onthou van jou jeug toe jy kaal en sonder klere in jou bloed gelê en spartel het nie. “Ellende, ellende wag vir jou,” sê die Here my God. “Nadat jy so sleg geword het, het jy boonop op elke oop plek vir jou 'n offerbult gebou, vir jou 'n hoogte ingerig. By elke kruispad het jy vir jou 'n hoogte ingerig en van jou skoonheid iets afskuweliks gemaak. Jy het gretig gelê en wag vir elkeen wat verbykom; jy het aanmekaar bly hoereer. Jy het gehoereer met jou goedbedeelde bure, die Egiptenaars, jy het aanmekaar bly hoereer en My bly uittart. Ek het my hand teen jou uitgesteek en jou regte ingekort en jou oorgelaat aan die willekeur van jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle het hulle geskaam oor jou skandelike gedrag. Toe het jy met die Assiriërs gehoereer, want jy was nog nie bevredig nie; jy het met hulle gehoereer, maar ook toe is jy nie bevredig nie. Jy het aanmekaar bly hoereer met die Galdese handelaars, maar ook dit het jou lus nie bevredig nie. Jou koors was hoog toe jy dit alles gedoen het,” sê die Here my God. “Jy het jou gedra soos 'n skaamtelose hoer. Jy het by elke kruispad vir jou 'n offerbult gebou, op elke oop plek 'n hoogte. Maar jy was nie eens soos 'n gewone prostituut nie, jy het jou neus opgetrek vir betaling. Jy is soos 'n immorele vrou wat ander mans ontvang en nie haar eie man nie. Al die prostitute kry betaling, maar jy betaal jou minnaars, van oral af lok jy hulle met geskenke na jou toe om met jou te hoereer. Jy het met jou hoerery juis die teenoorgestelde gedoen van wat ander vrouens doen: niemand het agter jou aangeloop nie; jy het betaal, jy is nie betaal nie. Jy is net die teenoorgestelde. “Daarom, hoer, hoor die woord van die Here!” So sê die Here my God: “Jy het jou eerloos gedra, jou sonder skaamte ontbloot om met jou minnaars te hoereer, met al jou afskuwelike afgode. Jy het vir hulle die bloed van jou kinders gegee. Daarom gaan Ek al jou minnaars bymekaarbring, almal van wie jy gehou het, almal vir wie jy lief was en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek gaan hulle van oral af rondom jou bymekaarbring en dan gaan Ek jou ontbloot voor hulle sodat hulle na jou kan kyk terwyl jy heeltemal kaal is. Ek gaan jou straf soos vrouens gestraf moet word wat owerspel en moord gepleeg het. Ek laat jou die moorde voel, die gramskap, die woede. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars. Hulle sal jou offerbulte afbreek, jou hoogtes verwoes. Hulle sal jou klere uittrek, jou juwele afvat en jou kaal, sonder klere daar laat staan. Hulle sal 'n vergadering bymekaarroep om jou te veroordeel, hulle sal jou met klippe doodgooi en jou met hulle swaarde in stukke kap, hulle sal jou huise afbrand. So sal hulle jou vonnis voltrek ten aanskoue van al die vrouens. Ek maak 'n end aan jou hoerery. Jy sal nie weer geskenke uitdeel nie.