Ek het gehoor die Here sê vir my: “Mens, jy moet vir Jerusalem sê watter slegte dinge sy gedoen het. Jy moet sê: Die Here, Hy wat Here is, sê vir Jerusalem: Jy kom uit die land van die Kanaäniete. Jy is daar gebore. Jou pa was 'n Amoriet en jou ma was 'n Hetiet. Daardie dag toe jy gebore is, het hulle nie jou naelstring afgesny nie, hulle het jou nie gewas en jou vel met sout gevryf nie, hulle het jou nie toegedraai nie. Niemand was jammer vir jou nie. Niemand het een van hierdie dinge gedoen om jou te help nie. Hulle het jou weggegooi in die veld. Niemand het van jou gehou toe jy gebore is nie. En toe het Ek daar by jou gekom. Ek het gesien dat jy in jou bloed lê en rondrol. Ek het gesien dat jy in jou bloed gelê het en Ek het vir jou gesê: ‘Jy moet lewe!’ Jy het daar in jou bloed gelê, en Ek het vir jou gesê: ‘Jy moet lewe! Jy moet groot word!’ Ek het jou laat groei soos 'n veldplant. Jy het gegroei en grootgeword. Jy het 'n baie mooi meisie geword. Jou borste het styf geword en jou hare het lank geword. Maar jy was kaal, jy het nie klere gehad nie. Toe Ek by jou kom en Ek sien jy is nou 'n jongmeisie wat kan trou, het Ek my bo-kleed oor jou gegooi en Ek het jou toegemaak. Ek het belowe Ek sal aan jou behoort en Ek het 'n verbond gemaak met jou.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
“Jy het Myne geword. Ek het jou gebad, Ek het die bloed van jou afgewas en Ek het jou lyf met olyf-olie gesmeer. Ek het vir jou mooi bont klere aangetrek en skoene van sagte vel. Ek het jou toegemaak met linne en sy. Ek het vir jou mooi juwele aangesit: armbande en kettinkies om jou nek, ringe aan jou neus en jou ore, en 'n mooi kransie op jou kop. Jy kon goud en silwer aan jou klere vaswerk, jy kon klere dra van linne en sy en mooi bont materiaal. Jy kon brood van die beste koringmeel en heuning en olyf-olie eet. Jy het baie baie mooi geword, so mooi dat jy 'n koningin kon wees. Al die volke het geweet dat jy mooi is. Niemand anders was so mooi soos jy nie. Ek het jou so mooi gemaak.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
“Maar toe dink jy dat jy enige iets kan doen omdat jy mooi is. Almal het jou geken, en jy het 'n slegte vrou geword. Jy het jouself gegee vir enige iemand wat by jou kom, en jy het by hom geslaap. Jy het van jou klere geneem en jy het dit gebruik om vir jou mooi bont offer-plekke te maak waar jy ander gode kon dien. Niemand anders het dit voorheen gedoen nie en niemand anders sal dit weer doen nie. Jy het jou juwele geneem, die goud en silwer wat Ek vir jou gegee het, en jy het daarvan vir jou beelde van mans gemaak, jy het ander gode met daardie beelde gedien. Jy het jou mooi bont klere geneem en jy het dit vir die beelde aangetrek. Ek moes die olyf-olie en die wierook kry, maar jy het dit voor die beelde neergesit. Ek het vir jou brood van die beste koringmeel, olyf-olie en heuning gegee om te eet, en jy het dit vir die ander gode ge-offer sodat hulle kon ruik hoe lekker dit is. Dit is wat jy gedoen het.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
“Jy het seuns en dogters vir My gekry, maar jy het hulle geneem en jy het hulle ge-offer sodat die ander gode offer-etes kon eet. Jy het ander gode gedien, maar jy wou nog meer vir hulle doen. Jy het ook my kinders geslag en jy het hulle vir die ander gode verbrand. Jy het al hierdie dinge gedoen wat Ek haat, jy het ontrou geword en jy het nie die tyd onthou toe jy kaal was en nie klere gehad het nie, daardie tyd toe jy in jou bloed gelê en rondrol het. Jy het al die slegte dinge gedoen, daarom sal dit sleg gaan met jou, baie sleg.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
“Jy het vir jou offer-plekke gebou oral waar daar plek was. Jy het offer-plekke gebou by elke plek waar die paaie bymekaarkom. Jy was mooi, maar jy het jou mooi liggaam gebruik om dinge te doen wat Ek haat. Jy was soos 'n prostituut wat haar bene oopmaak vir elkeen wat verbykom. Jy het nie opgehou om ander gode te dien nie. Jy het ander gode gedien saam met die Egiptenaars, hulle wat altyd lus was om by jou te slaap. Jy het baie gehou van hulle, jy het aangehou om ontrou te wees en My seer te maak. En toe het Ek besluit om jou te straf. Ek het nie meer vir jou alles gegee wat jy moes kry nie. Ek het gesê jou vyande, die Filistyne, kan doen met jou wat hulle wil. En hulle was ook skaam oor jou slegte lewe. Jy het ander gode gedien saam met die Assiriërs, jy wou nie ophou nie. Jy het ander gode gedien saam met hulle en jy wou dit meer en meer doen. Jy het aangehou om ander gode te dien saam met die mense in die land van die handelaars, die Galdeërs, en jy wou dit meer en meer doen. Jy is mal in jou kop.”
Dit het die Here gesê, Hy wat Here is.
“Jy het al hierdie dinge gedoen soos 'n prostituut wat haar werk goed kan doen. Jy het offer-plekke gebou op elke plek waar die paaie bymekaarkom en oral waar daar plek was, maar jy het toe nie soos 'n prostituut gemaak nie. Jy het nie gevra dat hulle jou moet betaal nie. Jy was soos 'n slegte vrou wat gekies het om by ander mans te slaap, nie by haar eie man nie. Al die prostitute wil hê dat die mans húlle moet betaal, maar jý het vir almal betaal, almal vir wie jy lief was. Jy het hulle betaal om van oral na jou toe te kom en om ander gode saam met jou te dien. Jy was anders as al die ander prostitute toe jy ontrou geword het. Mans het nie self na jou toe gekom nie, hulle het nie vir jou betaal nie, nee, jy het vir húlle betaal. Jy was anders.”
Daarom, slegte vrou, luister na wat die Here sê. Die Here, Hy wat Here is, sê: “Jy het baie slegte dinge gedoen, jy het jou klere uitgetrek vir almal vir wie jy lief was, vir jou afgode wat Ek haat. Jy het jou kinders doodgemaak en jy het hulle bloed vir die afgode gegee. Daarom sal Ek nou almal bymekaarbring vir wie jy lief is, almal van wie jy gehou het en ook almal van wie jy nie gehou het nie. Ek sal hulle van oral bymekaarbring en dan sal Ek jou klere uittrek sodat almal kan sien jy is kaal. Ek sal jou straf soos mans vroue straf wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal self sterf, want Ek is kwaad vir jou, baie kwaad. Ek sal jou gee vir almal vir wie jy lief was, en hulle sal doen met jou wat hulle wil. Hulle sal jou offer-plekke afbreek, hulle sal jou klere uittrek en jou juwele vat, hulle sal jou so los, kaal, sonder klere. Hulle sal mense bymekaar laat kom om jou te straf, hulle sal jou doodgooi met klippe en hulle sal jou stukkend kap met hulle swaarde. Hulle sal jou huise afbrand. Hulle sal jou straf, en baie vroue sal dit sien. So sal jy ophou om 'n slegte vrou te wees. Jy sal nie weer vir mans iets verniet gee nie.