Ek het nog ’n boodskap van die HERE gekry: “Mensekind, konfronteer Jerusalem met haar afskuwelike sondes. Sê vir haar die oppermagtige HERE sê: Jy is niks anders as ’n Kanaäniet nie! Jou pa was ’n Amoriet en jou ma ’n Hetiet. Toe jy gebore is, het niemand vir jou omgegee nie. Jou naelstring is nie afgesny nie. Jy is nooit gewas nie. Niemand het jou met sout ingevryf of vir jou warm klere aangetrek nie. Niemand het in jou belanggestel om dit vir jou te doen nie. Niemand het vir jou omgegee of vir jou gesorg nie. Die dag toe jy gebore is, is jy in die veld gelos om dood te gaan. Niemand wou jou hê nie.
“Maar Ek het verbygekom en jou daar gesien. Jy het hulpeloos in jou eie bloed gelê en skop. Terwyl jy daar in jou bloed gelê het, het Ek gesê: ‘Lewe!’ Ja, waar jy in jou bloed gelê het, het Ek vir jou gesê: ‘Lewe!’ Ek het jou gehelp om soos ’n veldplant te groei. Jy het grootgeword en ’n mooi juweel geword. Jou borste het vol geword en jou hare het gegroei. Maar jy was nog kaal en sonder klere. En toe Ek verbykom en jou weer sien, was jy oud genoeg om te trou. Daarom het Ek my jas vir jou aangetrek sodat jy nie kaal sou wees nie. Ek het ’n verbond met jou gesluit en met jou getrou, sê die oppermagtige HERE. Jy het Myne geword.
“Ek het jou toe gebad en jou bloed afgewas. En Ek het olie aan jou lyf gesmeer. Ek het vir jou duur klere gegee wat van linne en sy gemaak is en mooi uitgeborduur is, asook sandale wat van fyn leer gemaak is. Ek het vir jou mooi juweliersware gegee: armbande en halssnoere, ’n ring vir jou neus en oorringe, en ’n pragtige kroon op jou kop. Jy was pragtig met jou goud en silwer. Jou klere was van fyn linne en mooi geborduur. Jy het die lekkerste kos geëet: fynmeel, heuning en olyfolie. Jy het mooier as tevore geword. Jy het soos ’n koningin gelyk. En jy was ook een! Jy het oor die hele wêreld bekend geword omdat jy so mooi was. Ek het jou skoonheid met my glans volmaak gemaak, sê die oppermagtige HERE.
“Maar toe het jy jou vertroue in jou beroemdheid en skoonheid begin stel. Jy het jouself as ’n prostituut aangebied vir elke man wat verbygegaan het. Jy het jouself uitverkoop. En jy het die mooi klere wat Ek jou gegee het, gebruik om heiligdomme vir afgode te maak. Daar het jy as prostituut gelê. Ongelooflik! Hoe kan so iets gebeur? Jy het jou juwele en die goud en silwer gevat wat Ek vir jou gegee het, en daarvan beeldjies van mans gemaak. En jy het hulle aanbid. So het jy egbreuk teen My gepleeg. Jy het jou geborduurde klere gevat wat Ek jou gegee het, en vir jou afgode aangetrek. En jy het my olie en wierook gebruik om aan hulle te offer. Verbeel jou! Jy het die fynmeel en olyfolie en heuning wat Ek jou gegee het, voor hulle as ’n offer neergesit, sê die oppermagtige HERE.
“Jy het ook jou seuns en dogters, die kinders wat jy by My gehad het, gevat en aan jou afgode geoffer. Was dit nie genoeg dat jy ’n prostituut geword het nie? Moes jy ook my kinders slag en aan jou afgode offer? In al die jare wat jy egbreuk gepleeg en vreeslike sondes gedoen het, het jy nie een keer teruggedink aan die dae toe jy kaal in die veld gelê het nie. Daar het jy in jou eie bloed gelê en skop.
“Jy gaan sekerlik vernietig word, sê die oppermagtige HERE. Ná al die verskriklike dinge wat jy aangevang het, het jy ook ’n heiligdom vir jou afgode gebou. Jy het altare vir jou afgode op elke dorpsplein ingerig. Op elke straathoek het jy ’n afgodsaltaar gebou en jou skoonheid verkoop. Jy het jou lyf aangebied vir elkeen wat verbygaan. Jy het nie opgehou om jou as prostituut uit te huur nie. Jy het jouself ook verkoop aan jou goed bedeelde bure, die Egiptenaars. Jy het My baie kwaad gemaak deur aan te hou met jou afskuwelike dade. Daarom het Ek jou met die vuis geslaan en jou grense ingekort. Ek het jou oorgegee aan jou vyande, die Filistyne. Selfs hulle was geskok deur jou afskuwelike gedrag! Jy het ook saam met die Assiriërs geslaap. Dit lyk of jy nie genoeg minnaars kon kry nie! En steeds was jy nie bevredig nie. Jy het toe ook daardie groot handelsreus Babilon by jou lys minnaars gevoeg. Maar steeds was jy nie bevredig nie!
“Hoe siek is jy nie, sê die oppermagtige HERE, dat jy aanhou om sulke dinge te doen! Jy is ’n prostituut wat geen skaamte ken nie! Jy bou altare vir jou afgode op elke straathoek en elke stadsplein. Jy is erger as ’n prostituut. Jy wou so graag sonde doen dat jy nie eens betaling vir jou liefde gevra het nie. Jy is ’n slegte vrou wat ander mans verkies, maar nie jou eie man naby jou wil hê nie. Prostitute vra geld vir hulle dienste. Maar nie jy nie. Jy betaal jou minnaars! Van oral af koop jy hulle om sodat hulle na jou toe sal kom. Jy is die teenoorgestelde van ander prostitute. Niemand betaal jou vir jou liefde nie. Nee, jy betaal hulle!”
“Daarom, prostituut, luister na wat die HERE vir jou sê! So sê die oppermagtige HERE: Jy het jou eer vir jou minnaars gegee en jou vir hulle kaal uitgetrek, en afskuwelike afgode aanbid. Jy het jou kinders as offers vir die afgode geslag. Daarom gaan Ek jou minnaars bymekaarmaak, die mense met wie jy saam plesier gehad het, dié wat jy liefhet en dié wat jy haat. En Ek gaan jou voor hulle kaal uittrek sodat hulle na jou kan kyk. Dan straf Ek jou soos ’n vrou gestraf word wat egbreuk en moord gepleeg het. Jy sal met jou bloed betaal as Ek my woede en jaloesie op jou wreek. Ek gee jou oor in die mag van jou minnaars, daardie baie nasies. Hulle sal die heiligdomme vir jou afgode en jou altare omgooi. Hulle sal jou uittrek en jou mooi juwele afvat, en jou kaal, sonder klere agterlaat. Hulle sal saamkom en jou met klippe doodgooi en jou met swaarde in stukke kap. Hulle sal jou huise afbrand en jou voor baie vroue straf. Ek sal sorg dat jy nie weer ’n prostituut kan word nie en nie meer jou minnaars kan betaal nie.