EKSODUS 3:15-22
EKSODUS 3:15-22 Bybel vir almal (ABA)
God het ook vir Moses gesê: “Jy moet vir die Israeliete sê: ‘Die Here het my na julle toe gestuur. Hy is die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.’ My Naam sal altyd ‘die Here’ wees. Hulle moet My altyd so noem, ook die mense wat later gebore sal word. Gaan maak die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle die Here, die God van hulle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan jou verskyn en gesê: ‘Ek weet van julle, Ek sien wat die Egiptenaars aan julle doen. Ek het besluit Ek wil julle wegvat uit Egipte. Julle kry daar baie swaar. Ek wil julle laat gaan na die land van die Kanaäniete en die Hetiete en die Amoriete en die Feresiete en die Hewiete en die Jebusiete, dit is 'n land waar daar baie melk en heuning is. Die leiers sal na jou luister, en dan moet jy en die leiers van die Israeliete na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: “Die Here, die God van die Hebreërs, het met ons gepraat. Laat ons asseblief in die woestyn ingaan, so ver soos 'n mens in drie dae kan loop. Ons wil daar vir ons God die Here offers bring.” Ek weet die koning van Egipte sal julle nie laat gaan nie. Hy sal dit ook nie doen as Ek hom straf nie. Dan sal Ek hom nog swaarder straf en Ek sal wonderwerke doen wat die Egiptenaars baie swaar sal laat kry. Daarna sal die koning julle laat gaan. Ek sal dan die Egiptenaars vriendelik maak teenoor julle, sodat julle iets sal hê om saam te neem wanneer julle weggaan. Elke Israelitiese vrou moet silwergoed, goue goed en klere vra vir haar Egiptiese buurvrou of vir die mense wat by haar woon. Julle moet dit vir julle seuns en dogters gee om te dra. So moet julle die Egiptenaars se goed wegdra.’ ”
EKSODUS 3:15-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag. Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is. Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning. En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer. Maar Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur 'n sterke hand nie. En Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek. En Ek sal aan hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie, maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer- en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.
EKSODUS 3:15-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Verder sê God vir Moses: “Jy moet ook nog vir die Israeliete sê: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is ewig my Naam, dit is die Naam waarmee Ek aangeroep moet word van geslag tot geslag. “Gaan roep nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Die Here die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek weet van julle en Ek weet ook wat julle aangedoen word in Egipte. Ek het besluit om julle te laat wegtrek uit die ellende van Egipte na die land van die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.’ “Die leiers van Israel sal na jou luister, en dan moet jy en hulle na die Egiptiese koning toe gaan en vir hom sê: ‘Die Here die God van die Hebreërs het Hom aan ons geopenbaar. Laat ons asseblief drie dagreise ver die woestyn in trek om vir ons God, die Here, 'n offer te bring.’ “Ek weet dat die Egiptiese koning julle nie sal laat gaan nie, selfs nie onder dwang nie. Dan sal Ek my hand uitsteek en Egipte teister met die wonderdade wat Ek in hom sal doen. Eers daarna sal die farao julle laat gaan. Ek sal ook sorg dat die Egiptenaars goed doen aan hierdie volk van My, sodat, as julle uiteindelik wegtrek, julle nie met leë hande sal gaan nie. Elke vrou moet van haar buurvrou of in die huis waar sy werk, silwer- en goue goed sowel as klere eis. Laat julle seuns en dogters dit dan as buit uit Egipte uit wegdra.”
EKSODUS 3:15-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
God het weer vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê, “ ‘Die HERE, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, die God van Isak, die God van Jakob, het my na julle gestuur.’ Dit is my Naam vir altyd; dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag. “ Gaan, en bring die oudstes van Israel byeen, en sê vir hulle, ‘Die HERE, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: “Ek gee noukeurig aandag aan julle en aan wat julle in Egipte aangedoen word. Ek verklaar dan: Ek sal julle laat optrek, weg van die ellende in Egipte, na die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.” ’ “Hulle sal na jou luister, en dan moet jy en die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan. Julle moet vir hom sê, ‘Die HERE, die God van die Hebreërs, het Hom aan ons bekend gemaak. Laat ons asseblief dan nou drie dagreise ver die woestyn ingaan, sodat ons aan die HERE ons God kan offer.’ Ek weet egter dat hy, die koning van Egipte, julle nie sal toelaat om te gaan nie, tensy hy gedwing word deur 'n kragtige hand. Maar Ek sal my hand uitsteek en Egipte tref met al my wonders wat Ek in hulle midde gaan doen. Daarna sal hy julle laat gaan. Ek sal sorg dat die Egiptenare hierdie volk goedgesind is, sodat wanneer julle gaan, julle nie met leë hande sal gaan nie. Elke vrou moet van haar buurvrou of van die een wat in haar huis tydelike verblyf geniet, silwer- en goue voorwerpe en klere eis. Julle moet julle seuns en dogters dit laat saamdra. So moet julle buit neem van die Egiptenare.”
EKSODUS 3:15-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Verder het God vir Moses gesê: So moet jy aan die kinders van Israel sê: Die HERE, die God van jou vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na jou gestuur: dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenkteken van geslag tot geslag. Gaan heen, versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, van Isak en van Jakob, het aan my verskyn en gesê: Ek het jou gewis besoek en gesien wat aan jou gedoen word in Egipte: En Ek het gesê: Ek sal jou uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning. En jy moet kom, jy en die oudstes van Israel, na die koning van Egipte, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; en laat ons nou gaan, drie dagreise die woestyn in, dat ons aan die HERE onse God kan offer. En ek is seker dat die koning van Egipte julle nie sal laat trek nie, nee, nie deur 'n magtige hand nie. En Ek sal my hand uitstrek en Egipte verslaan met al my wonders wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy jou laat trek. En Ek sal hierdie volk guns gee in die oë van die Egiptenaars, en as julle gaan, sal julle nie leeg gaan nie. Maar elke vrou moet van haar naaste en van haar wat in haar huis vertoef, silwer- en goue juwele en klere leen; en julle moet dit aan julle seuns en op julle dogters trek; en julle moet die Egiptenaars plunder.
EKSODUS 3:15-22 Die Boodskap (DB)
God het ook nog verder vir Moses gesê: “Dit is wat jy vir die Israeliete moet sê: ‘Die Here, die God van julle voorgeslagte, God van Abraham, God van Isak, God van Jakob, het my na julle toe gestuur.’ Dit is wie Ek nog altyd was en dit is hoe al die geslagte wat nog moet kom, aan My sal dink.” “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar en sê vir hulle: ‘Ek het die Here, die God van julle voorouers, die God van Abraham en Isak en Jakob, by die doringbos ontmoet. Hy het gesê: ‘Ek het goed na julle probleem gekyk. Ek het gesien wat daar alles met julle in Egipte gedoen word. Ek het besluit dat Ek julle sal laat wegtrek van die swaarkry in Egipte. Ek sal julle laat trek na ’n land waarin daar volop kos is. Dit is die land waar die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete op die oomblik woon.’ Die leiers van Israel sal aanvaar wat jy vir hulle sê. “Jy moet dan saam met hulle na die koning van Egipte toe gaan. Julle moet vir hom sê: ‘Die Here, die God van die Hebreërs, het na ons toe gekom. Gee tog vir ons kans om vir drie dae lank weg te gaan. Ons wil graag in die woestyn vir die Here ons God offers gaan bring.’ Ek weet goed dat die Egiptiese koning julle nie toestemming sal gee om te gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word. Daarom sal Ek ingryp en allerhande verskriklike dinge in die land laat gebeur. Eers nadat dit klaar gebeur het, sal hy instem om julle te laat gaan. Ek sal ook die houding van die Egiptenaars teenoor julle verander. Wanneer julle eendag uit die land wegtrek, moet julle nie sonder geskenke weggaan nie. Elke vrou moet haar buurvrou en die mense om haar wat van ander plekke kom, dwing om vir haar silwer en goue juweliersware en klere te gee. Julle moet dit vir julle kinders aantrek. So moet julle hulle terugkry vir wat hulle aan julle gedoen het. Julle moet Egipte kaal uittrek.”
EKSODUS 3:15-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
God het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – het my na julle toe gestuur.’ Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem. “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar. Sê vir hulle: ‘Ek het die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, Isak en Jakob – by die bos wat brand, ontmoet. Hy het vir my gesê: Jy kan seker wees dat Ek oor julle bekommerd is en dat Ek raakgesien het wat met julle in Egipte gebeur. Ek sal julle weglei van die onderdrukking in Egipte na die land waarin die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete nou bly. Dit is ’n land waarin daar volop kos is.’ “Die leiers van die Israeliete sal aanvaar wat jy sê. Julle moet dan almal saam na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: ‘Ons het die HERE, die God van die Hebreërs, ontmoet. Laat ons toe om drie dae ver die woestyn in te gaan sodat ons daar offers vir die HERE ons God kan bring.’ “Ek weet egter dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word. Daarom sal Ek ingryp en Egipte hard slaan met allerhande verskriklike dinge wat Ek met hulle sal laat gebeur. Dan eers sal hy julle laat gaan. Ek sal sorg dat die Egiptenaars julle dan goed behandel. Hulle sal julle oorlaai met geskenke. Julle sal nie met leë hande van daar af weggaan nie. Die Israelitiese vroue moet dan silwer en goue juweliersware en mooi klere eis van hulle Egiptiese bure en van die Egiptenaars wat in hulle huise is. Laat julle seuns en dogters dit dan dra. So sal julle die Egiptenaars deeglik plunder.”