EKSODUS 3:15-22

EKSODUS 3:15-22 NLV

God het verder vir Moses gesê: “Sê vir die Israeliete: ‘Die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob – het my na julle toe gestuur.’ Dit sal altyd my Naam wees en dit is wat elke geslag My sal noem. “Gaan maak nou die leiers van Israel bymekaar. Sê vir hulle: ‘Ek het die HERE, die God van julle voorouers – die God van Abraham, Isak en Jakob – by die bos wat brand, ontmoet. Hy het vir my gesê: Jy kan seker wees dat Ek oor julle bekommerd is en dat Ek raakgesien het wat met julle in Egipte gebeur. Ek sal julle weglei van die onderdrukking in Egipte na die land waarin die Kanaäniete, Hetiete, Amoriete, Feresiete, Hewiete en Jebusiete nou bly. Dit is ’n land waarin daar volop kos is.’ “Die leiers van die Israeliete sal aanvaar wat jy sê. Julle moet dan almal saam na die koning van Egipte toe gaan en vir hom sê: ‘Ons het die HERE, die God van die Hebreërs, ontmoet. Laat ons toe om drie dae ver die woestyn in te gaan sodat ons daar offers vir die HERE ons God kan bring.’ “Ek weet egter dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie. Hy sal eers gedwing moet word. Daarom sal Ek ingryp en Egipte hard slaan met allerhande verskriklike dinge wat Ek met hulle sal laat gebeur. Dan eers sal hy julle laat gaan. Ek sal sorg dat die Egiptenaars julle dan goed behandel. Hulle sal julle oorlaai met geskenke. Julle sal nie met leë hande van daar af weggaan nie. Die Israelitiese vroue moet dan silwer en goue juweliersware en mooi klere eis van hulle Egiptiese bure en van die Egiptenaars wat in hulle huise is. Laat julle seuns en dogters dit dan dra. So sal julle die Egiptenaars deeglik plunder.”

Video vir EKSODUS 3:15-22