EXODUS 3:15-22

EXODUS 3:15-22 AFR53

Toe sê God verder vir Moses: Dit moet jy aan die kinders van Israel meedeel: Die HERE, die God van julle vaders, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob, het my na julle gestuur. Dit is my Naam vir ewig, en dit is my gedenknaam van geslag tot geslag. Gaan heen en versamel die oudstes van Israel en sê vir hulle: Die HERE, die God van julle vaders, het aan my verskyn, die God van Abraham, Isak en Jakob, en het gesê: Ek het terdeë ag gegee op julle en op wat julle in Egipte aangedoen is. Daarom het Ek besluit: Ek wil julle uit die ellende van Egipte laat optrek na die land van die Kanaäniete en Hetiete en Amoriete en Feresiete en Hewiete en Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning. En hulle sal na jou luister. Dan moet jy met die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan, en julle moet vir hom sê: Die HERE, die God van die Hebreërs, het ons ontmoet; laat ons dan nou tog drie dagreise ver die woestyn intrek en aan die HERE, onse God, offer. Maar Ek weet dat die koning van Egipte julle nie sal laat gaan nie, ook nie deur 'n sterke hand nie. En Ek sal my hand uitstrek en Egipte met al my wonders teister wat Ek daarin sal doen; en daarna sal hy julle laat trek. En Ek sal aan hierdie volk guns verleen in die oë van die Egiptenaars; en as julle dan trek, moet julle nie met leë hande trek nie, maar elke vrou moet van haar buurvrou en van haar wat in haar huis vertoef, silwer- en goue voorwerpe en klere eis. En julle moet dit op julle seuns en dogters sit, en so Egipte berowe.

Video vir EXODUS 3:15-22

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid