God het weer vir Moses gesê: “So moet jy vir die Israeliete sê,
“ ‘Die HERE, die God van julle voorvaders,
die God van Abraham,
die God van Isak,
die God van Jakob,
het my na julle gestuur.’
Dit is my Naam vir altyd;
dit is my gevierde Naam van geslag tot geslag.
“ Gaan, en bring die oudstes van Israel byeen, en sê vir hulle, ‘Die HERE, die God van julle voorvaders, die God van Abraham, Isak en Jakob, het aan my verskyn en gesê: “Ek gee noukeurig aandag aan julle en aan wat julle in Egipte aangedoen word. Ek verklaar dan: Ek sal julle laat optrek, weg van die ellende in Egipte, na die land van die Kanaäniete, die Hetiete, die Amoriete, die Feresiete, die Hewiete en die Jebusiete, na 'n land wat oorloop van melk en heuning.” ’
“Hulle sal na jou luister, en dan moet jy en die oudstes van Israel na die koning van Egipte gaan. Julle moet vir hom sê, ‘Die HERE, die God van die Hebreërs, het Hom aan ons bekend gemaak. Laat ons asseblief dan nou drie dagreise ver die woestyn ingaan, sodat ons aan die HERE ons God kan offer.’ Ek weet egter dat hy, die koning van Egipte, julle nie sal toelaat om te gaan nie, tensy hy gedwing word deur 'n kragtige hand. Maar Ek sal my hand uitsteek en Egipte tref met al my wonders wat Ek in hulle midde gaan doen. Daarna sal hy julle laat gaan. Ek sal sorg dat die Egiptenare hierdie volk goedgesind is, sodat wanneer julle gaan, julle nie met leë hande sal gaan nie. Elke vrou moet van haar buurvrou of van die een wat in haar huis tydelike verblyf geniet, silwer- en goue voorwerpe en klere eis. Julle moet julle seuns en dogters dit laat saamdra. So moet julle buit neem van die Egiptenare.”