HANDELINGE 9:10-15
HANDELINGE 9:10-15 Bybel vir almal (ABA)
Daar was 'n gelowige in Damaskus. Sy naam was Ananias. Die Here het na Ananias gekom en Hy het vir hom gesê: “Ananias!” Ananias antwoord toe: “Hier is ek, Here, ek luister.” Die Here sê toe vir Ananias: “Staan op en gaan na Reguitstraat. Jy moet in die huis van Judas soek na Saulus wat van die stad Tarsus kom. Jy sal sien hy is besig om te bid. Terwyl Saulus gebid het, het Ek vir hom gewys dat 'n man na hom toe kom en dat hierdie man sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien. Die man se naam is Ananias.” Maar Ananias het vir die Here gesê: “Here, baie mense het vir my vertel dat hierdie man baie slegte dinge in Jerusalem gedoen het aan die mense wat in U glo. En nou is Saulus hier, en die hoëpriester het gesê dat hy die mense mag vang wat vir U aanbid en dien.” Die Here sê toe vir Ananias: “Jy moet na Saulus toe gaan, want Ek het hom gekies en aangestel om vir My te werk en om vir die volke en hulle konings en ook vir die Israeliete te vertel van My.
HANDELINGE 9:10-15 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam van Ananías; en die Here het vir hom in 'n gesig gesê: Ananías! En hy antwoord: Hier is ek, Here. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na 'n man met die naam van Saulus van Tarsus, want kyk, hy bid; en hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en hom die hande oplê, sodat hy weer kon sien. Maar Ananías antwoord: Here, ek het van baie mense aangaande hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het; en hy het hier volmag van die owerpriesters om almal te boei wat u Naam aanroep. Maar die Here sê vir hom: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore werktuig om my Naam te dra voor nasies en konings en die kinders van Israel.
HANDELINGE 9:10-15 Afrikaans 1983 (AFR83)
In Damaskus was daar 'n sekere volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het hom in 'n gesig geroep: “Ananias!” “Hier is ek, Here,” het hy geantwoord. En die Here sê vir hom: “Gaan dadelik na Reguitstraat toe en vra by Judas se huis na 'n man van Tarsus met die naam Saulus. Hy is besig om te bid en hy het in 'n gesig 'n man met die naam Ananias sien inkom wat hom die hande oplê sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias sê: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor en van al die kwaad wat hy die mense wat in U glo, in Jerusalem aangedoen het. En nou is hy hier met volmag van die priesterhoofde om almal gevange te neem wat u Naam aanroep.” Toe sê die Here vir hom: “Gaan daarheen, want Ek het hom gekies as my werktuig om my Naam uit te dra onder die heidennasies en hulle konings en ook onder Israel.
HANDELINGE 9:10-15 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Daar was 'n dissipel in Damaskus met die naam Ananias. In 'n visioen het die Here vir hom gesê: “Ananias!” En hy het geantwoord: “Hier is ek, Here.” Toe sê die Here vir hom: “Maak gereed en gaan na die straat bekend as Reguitstraat, en vra in die huis van Judas na iemand uit Tarsus met die naam Saulus. Want kyk, hy is besig om te bid, en het in 'n visioen gesien dat 'n man met die naam Ananias binnekom en hom die hande oplê om hom weer te laat sien. ” Ananias het geantwoord: “Here, ek het by baie mense van hierdie man gehoor, van al die kwaad wat hy u •heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy volmag van die leierpriesters om almal wat u Naam aanroep, in boeie te slaan.” Maar die Here sê vir hom: “Gaan, want Ek het hom uitgekies as instrument om my Naam uit te dra na nasies en na konings en na Israel.
HANDELINGE 9:10-15 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En daar was 'n sekere dissipel in Damaskus met die naam van Ananias; en vir hom het die Here in 'n gesig gesê: Ananías! En hy sê: Kyk, ek is hier, Here. Toe sê die Here vir hom: Staan op en gaan na die straat wat genoem word Reguit, en vra in die huis van Judas na iemand wat Saul genoem word, van Tarsus; want kyk, hy bid. En hy het in 'n gesig 'n man met die naam van Ananías sien inkom en sy hand op hom slaan, sodat hy kan sien. Toe antwoord Ananias: Here, ek het by baie van hierdie man gehoor hoeveel kwaad hy u heiliges in Jerusalem aangedoen het. En hier het hy gesag van die owerpriesters om almal te bind wat u Naam aanroep. Maar die Here het vir hom gesê: Gaan, want hy is vir My 'n uitverkore voorwerp om my Naam te dra voor die heidene en konings en die kinders van Israel.
HANDELINGE 9:10-15 Die Boodskap (DB)
In Damaskus was daar ’n volgeling van Jesus met die naam Ananias. Die Here het in ’n visioen met hom gaan praat: “Ananias!” “Ja, Here, hier is ek,” het hy geantwoord. Toe sê die Here vir hom: “Jy moet dadelik na Reguitstraat gaan. Gaan soek die huis waar ’n man met die naam Judas bly. Vra dan vir hom of jy Saulus te sien kan kry. Hy is op die oomblik besig om te bid. Ek het reeds in ’n gesig vir hom gewys dat jy op pad is na hom toe om jou hande op hom te sit sodat hy weer kan sien.” Ananias het geskrik toe hy dit hoor: “Here, heelwat mense het my al teen hierdie man gewaarsku. Dis hy wat u kinders in Jerusalem so wreed vervolg. Nou het hy na ons toe gekom met lasbriewe van die hoëpriester om ons almal te vang.” Die Here antwoord Ananias: “Doen wat Ek vir jou sê. Gaan dadelik na Saulus toe.
HANDELINGE 9:10-15 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Daar was ’n gelowige in Damaskus met die naam Ananias. Die Here het hom in ’n gesig geroep: “Ananias!” “Ja, Here!” het hy geantwoord. Daarop sê die Here vir hom: “Gaan nóú Reguitstraat toe, na Judas se huis. Vra daar na Saulus van Tarsus. Want kyk, hy is besig om te bid. Ek het hom in ’n gesig laat sien dat ’n man met die naam Ananias inkom en sy hande op hom sit sodat hy weer kan sien.” Maar Ananias het geantwoord: “Here, ek het al by baie mense van hierdie man gehoor – watter kwaad hy die gelowiges in Jerusalem aangedoen het! En ons hoor hy het ’n mandaat van die priesterhoofde om al die gelowiges hier in Damaskus te arresteer.” Die Here het egter vir hom gesê: “Gaan doen wat Ek sê, want Ek het Saulus as my instrument uitgekies om my boodskap uit te dra na volke en konings, en ook aan die volk Israel.