HANDELINGE 27:27-44

HANDELINGE 27:27-44 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Die veertiende nag wat ons so op die Adriatiese See rondgedobber het, teen middernag, het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van 36 meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer gemeet, en toe kry hulle 27 meter. Hulle was bang ons loop naderhand op die rotse en het daarom vier ankers by die agterstewe uitgegooi en gebid dit moet dag word. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die reddingsbootjie in die see begin neerlaat asof hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. Paulus sê toe vir die Romeinse offisier en sy soldate: “As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom laat afval. Net toe die dag begin breek, het Paulus by almal aangedring om iets te eet: “Vandag is al die veertiende dag dat julle in spanning sonder kos wag, en niks eet nie,” het hy gesê. “Daarom dring ek by julle daarop aan om nou iets te eet. Dit sal julle verseker help om te oorleef. Daar sal nie eers ’n haar van een van julle koppe af verlore gaan nie!” Nadat hy dit gesê het, het hy brood gevat, God voor almal gedank, ’n stuk afgebreek en begin eet. Hulle het toe almal moed geskep en self ook begin eet. (Ons was altesaam 276 mense op die skip.) Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip nog ligter gemaak deur die res van die koringvrag oorboord te gooi. Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het ’n baai met ’n strand gesien. Hulle oorweeg toe om, indien moontlik, die skip daar te laat strand. Hulle het die ankers afgegooi en net daar in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys sodat die wind die skip strand toe kon dryf. Maar die skip het op ’n rif geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe het as gevolg van die geweld van die golwe begin opbreek. Die plan van die soldate was om die gevangenes dood te maak om te keer dat hulle sou uitswem en ontsnap. Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle gekeer om hulle plan uit te voer. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal. Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het.

HANDELINGE 27:27-44 Bybel vir almal (ABA)

Dit was 14 dae nadat die storm begin het. Dit was nag, en die skip het rondgedryf in die Adriatiese See. Dit was in die middel van die nag. Die matrose het gedink die skip kom naby die land. Hulle het gemeet hoe diep dit is. Dit was 20 vaam. Die skip het verder gedryf. Hulle het weer gemeet hoe diep dit is en dit was toe 15 vaam. Hulle was bang dat die skip stukkend sal breek op die rotse. Daarom het hulle vier ankers vasgemaak aan toue en hulle het die ankers afgegooi by die agterkant van die skip. Hulle het gebid dat dit dag moet word. Party van die matrose wou wegkom van die skip. Hulle het gemaak of hulle ook ankers by die voorkant van die skip wil afgooi. Maar hulle het die klein bootjie geneem en hulle wou dit in die see laat sak en probeer om met die bootjie weg te kom van die skip. Toe sê Paulus vir die offisier en vir die soldate: “Daardie matrose moet op die skip bly. As hulle nie op die skip bly nie, dan sal God nie vir julle red nie.” Toe het die soldate die toue van die klein bootjie afgekap en hulle het die bootjie in die see laat val. Net voor dit dag geword het, het Paulus almal bemoedig en hy het gesê hulle moet iets eet. Hy het gesê: “Julle is bang vir wat sal gebeur, en julle het 14 dae lank nie geëet nie. Daarom vra ek nou mooi vir julle dat julle moet eet, want dit sal help dat julle aanhou lewe. Want julle moet weet dat daar nie een haar van iemand se kop sal afval nie, God sal julle beskerm.” Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem en gebid en hy het vir God dankie gesê. Almal het gesien hoe hy dit doen. Toe het hy die brood gebreek en hy het begin om dit te eet. Paulus het hulle almal bemoedig en hulle het ook begin eet. Ons was 276 mense op die skip. Nadat almal genoeg geëet het, het hulle die koring wat op die skip was, in die see gegooi. Hulle het dit gedoen om die skip ligter te maak. Dit het dag geword. Hulle het land gesien, maar hulle het nie geweet watter plek dit is nie. Hulle het 'n strand gesien, daar was nie rotse nie. Toe het hulle gedink hulle sal probeer om die skip op die strand te laat stop. Hulle het die ankers se toue afgesny en hulle het die ankers in die see gelos. Hulle het ook die toue om die roeispane losgemaak. En hulle het die seil wat voor op die skip was, oopgemaak sodat die wind die skip vorentoe kon waai. Hulle het probeer om die skip na die strand te stuur. Maar die skip het teen 'n sandbank vasgeseil en die voorste deel van die skip het vasgesit. Dit kon nie beweeg nie. Toe het die sterk branders die agterste deel van die skip stukkend geslaan. En die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak sodat hulle nie na die land kon swem en dan kon weghardloop nie. Maar die offisier wou vir Paulus red en hy het die soldate gekeer. Die soldate kon nie doen wat hulle wou doen nie. Toe het die offisier gesê dat almal wat kan swem, eerste in die see moet spring en hulle moet na die land swem. Daarna moes almal wat nie kon swem nie, probeer om by die land te kom. Party mense het op planke na die land gegaan en party mense het op stukke van die skip gegaan. So het almal veilig by die land uitgekom.

HANDELINGE 27:27-44 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

En toe die veertiende nag kom, terwyl ons nog in die Adriatiese See ronddrywe, het die matrose omtrent middernag vermoed dat hulle naby land kom. Daarop gooi hulle die dieplood uit en kry twintig vaam; en nadat hulle 'n bietjie verder gegaan het, gooi hulle die dieplood uit en kry vyftien vaam. En omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle van die agterskip vier ankers uitgegooi en gewens dat dit dag word. Maar die matrose het probeer om uit die skip te vlug en die sleepbootjie in die see laat sak onder die voorwendsel dat hulle ankers van die voorskip af wou uitgooi. Toe sê Paulus vir die hoofman oor honderd en die soldate: As hierdie manne nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie. Daarop het die soldate die toue van die sleepbootjie afgekap en hom laat afval. En teen die tyd dat dit dag sou word, het Paulus almal aangemoedig om voedsel te gebruik en gesê: Dit is vandag die veertiende dag dat julle in afwagting bly vas sonder om iets te gebruik. Daarom raai ek julle aan om voedsel te neem, want dit dien tot julle behoud; want van niemand onder julle sal 'n haar van sy hoof val nie. Toe hy dit gesê het, neem hy brood, dank God in die teenwoordigheid van almal, breek dit en begin eet. En hulle het almal moed geskep en self ook voedsel geneem. En ons was in die skip altesaam tweehonderd-ses-en-sewentig siele. En nadat hulle met voedsel versadig was, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi. En toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie; maar hulle het 'n inham met 'n strand bemerk, waarop hulle van plan was om die skip te laat loop as hulle kon. En hulle het die ankers afgekap en in die see laat lê en tegelykertyd die roertoue losgemaak. En hulle het die voorseil teen die wind opgetrek en op die strand aangestuur. En hulle het op 'n plek verval met die see aan weerskante en die skip laat strand; en die voorskip het vasgeraak en onbeweeglik bly sit, maar die agterskip is deur die geweld van die branders uitmekaar geslaan. Nou was dit die plan van die soldate om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon uitswem en ontsnap nie. Maar die hoofman oor honderd wou Paulus red en het hulle verhinder in hulle voorneme en bevel gegee dat die wat kon swem, eerste in die see moes spring om aan land te kom, en die ander, sommige op planke en sommige op stukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.

HANDELINGE 27:27-44 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die veertiende nag dat ons so op die Adriatiese See rondgeslinger is, teen middernag, het die matrose vermoed dat ons naby land kom. Hulle het 'n dieplood uitgegooi en 'n diepte van ses en dertig meter gekry. 'n Bietjie verder het hulle weer die dieplood uitgegooi, en toe was dit sewe en twintig meter. Hulle was bang die skip loop op die rotse en het toe vier ankers by die agterstewe van die skip uitgegooi en gewens dit moet dag word. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die bootjie in die see neergelaat onder die voorwendsel dat hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. Paulus sê toe vir die offisier en sy soldate: “As hierdie matrose nie aan boord bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom in die see laat val. Net toe dit begin lig word, het Paulus almal aangespoor om te eet: “Vandag is dit al veertien dae dat julle in spanning wag sonder om iets te eet. Daarom raai ek julle aan om nou te eet. Julle het dit nodig om gered te word. Niemand van julle sal 'n haar van sy kop verloor nie.” Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem, God in die teenwoordigheid van almal gedank, dit gebreek en begin eet. Hulle het almal moed geskep en self ook begin eet. Ons was altesaam twee honderd ses en sewentig mense aan boord. Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die vrag koring in die see gegooi en so die skip nog ligter gemaak. Toe dit dag word, kon hulle nie die land herken nie, maar hulle het 'n baai met 'n strand gesien. Hulle besluit toe om die skip daar te laat strand as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys, sodat die wind die skip strand toe kon voer. Maar die skip het op 'n sandbank geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe is deur die geweld van die golwe stukkend geslaan. Die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle dalk kon uitswem en ontsnap nie. Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle verhinder om dit te doen. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en land toe te swem. Die ander moes dan volg deur aan planke en ander wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het almal veilig aan land gekom.

HANDELINGE 27:27-44 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Teen die veertiende nag het ons steeds op die Adriatiese See rondgedryf. Om middernag het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. Hulle het 'n peiling geneem, en gevind dat dit twintig vaam diep is. Hulle het 'n entjie verder gevaar en weer 'n peiling geneem, en gevind dat die diepte vyftien vaam is. Omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle vier ankers van die skip se agterstewe afgegooi en gebid dat dit dag moet word. Toe die matrose probeer om van die skip af te vlug, en die sloep in die see neerlaat onder die voorwendsel dat hulle die ankers van die boeg af wou laat sak, het Paulus aan die centurio en die soldate gesê: “As hulle nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die sloep afgekap en dit laat val. Net voor dagbreek het Paulus by almal begin aandring om iets te eet. Hy het gesê: “Vandag is al die veertiende dag dat julle sonder kos bly wag en niks inneem nie. Daarom dring ek by julle daarop aan om voedsel in te neem, want dit sal bydra tot julle redding. Daar sal nie 'n haar van een van julle se kop verlore gaan nie. ” Nadat hy dit gesê het, het hy 'n stuk brood geneem, God voor almal gedank, die brood gebreek en begin eet. Almal het moed geskep en self ook begin eet. Ons was altesaam tweehonderd ses-en-sewentig mense op die skip. Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi. Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het wel 'n baai met 'n strand gewaar, waar hulle besluit het om die skip op die sand te laat loop as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see laat val en tegelykertyd die roertoue losgemaak, die voorseil gehys en windaf op die strand afgestuur. Hulle het egter 'n rif met see aan weerskante getref, en daar het die skip gestrand. Die boeg het vasgesteek en bewegingloos gebly, en die agterstewe het deur die geweld van die golwe begin opbreek. Die soldate se plan was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon ontsnap deur uit te swem nie. Maar die centurio wou Paulus red, en het hulle plan verydel. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en aan land te gaan, en daarna die res – sommige op planke, ander op wrakstukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.

HANDELINGE 27:27-44 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Maar toe die veertiende nag aanbreek, toe ons in Adria op en af gery is, het die skeepsmanne omtrent middernag gedink dat hulle naby 'n land gekom het; En hulle het geblaas en dit twintig vaam gevind; Toe hulle bang was dat ons op rotse sou val, het hulle vier ankers uit die agterstewe gegooi en vir die dag gewens. En toe die skeepsmanne op die punt was om uit die skip te vlug, toe hulle die skuit in die see laat sak het, onder kleur asof hulle ankers uit die voorskip sou werp, Paulus sê vir die hoofman oor honderd en die soldate: As hulle nie in die skip bly nie, kan julle nie gered word nie. Toe het die soldate die toue van die skuit afgesny en haar laat afval. En terwyl die dag aanbreek, het Paulus almal gesmeek om voedsel te eet en gesê: Dit is vandag die veertiende dag dat julle vertoef en aanhou vas sonder dat julle niks geneem het nie. Daarom bid ek julle om vleis te neem, want dit is vir julle gesondheid, want daar sal geen haar van die kop van een van julle val nie. En nadat hy dit gesê het, neem hy brood en dank God voor almal; en nadat hy dit gebreek het, het hy begin eet. Toe het hulle almal goeie moed gehad, en hulle het ook vleis geneem. En ons was altesaam in die skip twee honderd sestien en sestig siele. En toe hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter gemaak en die koring in die see gegooi. En toe dit dag geword het, het hulle die land nie geken nie, maar hulle het 'n sekere spruit met 'n oewer ontdek waarin hulle van plan was om, as dit moontlik was, die skip in te steek. En toe hulle die ankers opgeneem het, het hulle hulleself aan die see oorgegee en die roerbande losgemaak en die grootseil na die wind opgehys en na die kus gegaan. En toe hulle op 'n plek geval waar twee seë mekaar ontmoet het, het hulle die skip laat strand; en die voorkant het vasgesteek en onbeweeglik gebly, maar die agterste deel is gebreek deur die geweld van die golwe. En die soldate se raad was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand van hulle sou uitswem en ontsnap nie. Maar die hoofman oor honderd, wat gewillig was om Paulus te red, het hulle van hulle voorneme weerhou; en het beveel dat die wat kon swem, hulle eers in die see moes werp en aan land kom. En die res, sommige op planke en ander op gebreekte stukke van die skip. En so het dit gebeur dat hulle almal veilig na die land ontsnap het.

HANDELINGE 27:27-44 Die Boodskap (DB)

Teen middernag op die veertiende dag dat ons deur die storm op die see rondgeslinger is, het die matrose agtergekom dat ons naby land kom. Hulle het twee keer kort na mekaar met ’n dieplood die water se diepte gemeet. Met die eerste meting was die water 30 meter diep. Met die tweede was dit 27 meter diep. Omdat hulle bang was dat die skip op die rotse sou loop, het hulle gou vier ankers aan die agterkant van die skip uitgegooi. Toe het almal begin wag op die dagbreek. ’n Paar matrose het besluit om stilletjies met die reddingsbootjie weg te kom. Hulle het die bootjie in die water laat sak en voorgegee dat hulle nog ankers in die water wou gaan uitsit. Paulus het dadelik agtergekom waarmee hulle besig was en vir die Romeinse offisier en sy soldate gesê: “As hierdie mense nie aan boord bly nie, gaan ons dit nie oorleef nie.” Dié keer het die Romeinse offisier na Paulus geluister. Hy het dadelik sy soldate beveel om al die toue wat die reddingsbootjie aan die skip vasgehou het, af te kap. Die bootjie het weggedryf. Toe dit dag begin word, het Paulus almal aangemoedig om te eet. “Dit is nou die veertiende dag dat ons sonder kos klaarkom,” het hy gesê. “Maar nou moet julle almal iets eet. Ons het krag nodig vir die laaste entjie land toe wat nog vir ons voorlê. “Moenie bekommerd wees nie. Nie een van julle sal iets oorkom nie. Daar sal nie eens ’n haartjie uit julle kop val nie.” Daarna het Paulus self ’n stuk brood geneem. Nadat hy God voor almal gedank het, het hy begin eet. Vol moed het almal sy voorbeeld gevolg en ook begin eet. Nadat al 276 mense op die skip geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die vrag koring in die see te gooi. Teen dagbreek het almal gekyk of hulle die land kon herken, maar dit het nie bekend gelyk nie. Hulle het egter ’n baai met ’n strand opgemerk en besluit om die skip daar te laat strand. Dadelik het hulle die skip se ankertoue afgekap en die toue losgemaak wat die skip se roer vasgehou het. Hulle het ook die voorseil gehys sodat hulle land toe kon vaar. ’n Ent van die strand af het die skip egter op ’n sandbank geloop. Dit het viervoet in die golwe vasgesteek. Terwyl die skip daar vasgesit het, het groot golwe die agterstewe stukkend geslaan. Die Romeinse soldate het besluit om al die gevangenes dood te maak sodat nie een van hulle kon ontsnap nie. Die bevelvoerder het hulle egter gekeer omdat hy graag Paulus se lewe wou spaar. Hy het gesê dat diegene aan boord wat kon swem, eerste in die see moes spring en land toe moes swem. Dié wat nie kon swem nie, moes ’n stuk hout gryp en daarmee land toe dryf. Op dié manier het almal die land veilig bereik.