Handelinge 27:27-44

Handelinge 27:27-44 AFR20

Teen die veertiende nag het ons steeds op die Adriatiese See rondgedryf. Om middernag het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. Hulle het 'n peiling geneem, en gevind dat dit twintig vaam diep is. Hulle het 'n entjie verder gevaar en weer 'n peiling geneem, en gevind dat die diepte vyftien vaam is. Omdat hulle bang was dat hulle miskien op rotsagtige plekke kon strand, het hulle vier ankers van die skip se agterstewe afgegooi en gebid dat dit dag moet word. Toe die matrose probeer om van die skip af te vlug, en die sloep in die see neerlaat onder die voorwendsel dat hulle die ankers van die boeg af wou laat sak, het Paulus aan die centurio en die soldate gesê: “As hulle nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die sloep afgekap en dit laat val. Net voor dagbreek het Paulus by almal begin aandring om iets te eet. Hy het gesê: “Vandag is al die veertiende dag dat julle sonder kos bly wag en niks inneem nie. Daarom dring ek by julle daarop aan om voedsel in te neem, want dit sal bydra tot julle redding. Daar sal nie 'n haar van een van julle se kop verlore gaan nie. ” Nadat hy dit gesê het, het hy 'n stuk brood geneem, God voor almal gedank, die brood gebreek en begin eet. Almal het moed geskep en self ook begin eet. Ons was altesaam tweehonderd ses-en-sewentig mense op die skip. Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip ligter gemaak deur die koring in die see te gooi. Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het wel 'n baai met 'n strand gewaar, waar hulle besluit het om die skip op die sand te laat loop as hulle kon. Hulle het die ankers afgekap en in die see laat val en tegelykertyd die roertoue losgemaak, die voorseil gehys en windaf op die strand afgestuur. Hulle het egter 'n rif met see aan weerskante getref, en daar het die skip gestrand. Die boeg het vasgesteek en bewegingloos gebly, en die agterstewe het deur die geweld van die golwe begin opbreek. Die soldate se plan was om die gevangenes dood te maak, sodat niemand kon ontsnap deur uit te swem nie. Maar die centurio wou Paulus red, en het hulle plan verydel. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en aan land te gaan, en daarna die res – sommige op planke, ander op wrakstukke van die skip. En so het almal behoue aan land gekom.