Handelinge 27:27-44

Handelinge 27:27-44 ABA

Dit was 14 dae nadat die storm begin het. Dit was nag, en die skip het rondgedryf in die Adriatiese See. Dit was in die middel van die nag. Die matrose het gedink die skip kom naby die land. Hulle het gemeet hoe diep dit is. Dit was 20 vaam. Die skip het verder gedryf. Hulle het weer gemeet hoe diep dit is en dit was toe 15 vaam. Hulle was bang dat die skip stukkend sal breek op die rotse. Daarom het hulle vier ankers vasgemaak aan toue en hulle het die ankers afgegooi by die agterkant van die skip. Hulle het gebid dat dit dag moet word. Party van die matrose wou wegkom van die skip. Hulle het gemaak of hulle ook ankers by die voorkant van die skip wil afgooi. Maar hulle het die klein bootjie geneem en hulle wou dit in die see laat sak en probeer om met die bootjie weg te kom van die skip. Toe sê Paulus vir die offisier en vir die soldate: “Daardie matrose moet op die skip bly. As hulle nie op die skip bly nie, dan sal God nie vir julle red nie.” Toe het die soldate die toue van die klein bootjie afgekap en hulle het die bootjie in die see laat val. Net voor dit dag geword het, het Paulus almal bemoedig en hy het gesê hulle moet iets eet. Hy het gesê: “Julle is bang vir wat sal gebeur, en julle het 14 dae lank nie geëet nie. Daarom vra ek nou mooi vir julle dat julle moet eet, want dit sal help dat julle aanhou lewe. Want julle moet weet dat daar nie een haar van iemand se kop sal afval nie, God sal julle beskerm.” Nadat Paulus dit gesê het, het hy brood geneem en gebid en hy het vir God dankie gesê. Almal het gesien hoe hy dit doen. Toe het hy die brood gebreek en hy het begin om dit te eet. Paulus het hulle almal bemoedig en hulle het ook begin eet. Ons was 276 mense op die skip. Nadat almal genoeg geëet het, het hulle die koring wat op die skip was, in die see gegooi. Hulle het dit gedoen om die skip ligter te maak. Dit het dag geword. Hulle het land gesien, maar hulle het nie geweet watter plek dit is nie. Hulle het 'n strand gesien, daar was nie rotse nie. Toe het hulle gedink hulle sal probeer om die skip op die strand te laat stop. Hulle het die ankers se toue afgesny en hulle het die ankers in die see gelos. Hulle het ook die toue om die roeispane losgemaak. En hulle het die seil wat voor op die skip was, oopgemaak sodat die wind die skip vorentoe kon waai. Hulle het probeer om die skip na die strand te stuur. Maar die skip het teen 'n sandbank vasgeseil en die voorste deel van die skip het vasgesit. Dit kon nie beweeg nie. Toe het die sterk branders die agterste deel van die skip stukkend geslaan. En die soldate het besluit om die gevangenes dood te maak sodat hulle nie na die land kon swem en dan kon weghardloop nie. Maar die offisier wou vir Paulus red en hy het die soldate gekeer. Die soldate kon nie doen wat hulle wou doen nie. Toe het die offisier gesê dat almal wat kan swem, eerste in die see moet spring en hulle moet na die land swem. Daarna moes almal wat nie kon swem nie, probeer om by die land te kom. Party mense het op planke na die land gegaan en party mense het op stukke van die skip gegaan. So het almal veilig by die land uitgekom.