Die veertiende nag wat ons so op die Adriatiese See rondgedobber het, teen middernag, het die matrose vermoed dat hulle naby land kom. Hulle het ’n dieplood uitgegooi en ’n diepte van 36 meter gekry. ’n Bietjie verder het hulle weer gemeet, en toe kry hulle 27 meter. Hulle was bang ons loop naderhand op die rotse en het daarom vier ankers by die agterstewe uitgegooi en gebid dit moet dag word. Die matrose wou wegkom van die skip af en het die reddingsbootjie in die see begin neerlaat asof hulle ankers by die boeg van die skip wou laat sak. Paulus sê toe vir die Romeinse offisier en sy soldate: “As hierdie mense nie op die skip bly nie, kan julle nie gered word nie.” Toe het die soldate die toue van die bootjie afgekap en hom laat afval. Net toe die dag begin breek, het Paulus by almal aangedring om iets te eet: “Vandag is al die veertiende dag dat julle in spanning sonder kos wag, en niks eet nie,” het hy gesê. “Daarom dring ek by julle daarop aan om nou iets te eet. Dit sal julle verseker help om te oorleef. Daar sal nie eers ’n haar van een van julle koppe af verlore gaan nie!” Nadat hy dit gesê het, het hy brood gevat, God voor almal gedank, ’n stuk afgebreek en begin eet. Hulle het toe almal moed geskep en self ook begin eet. (Ons was altesaam 276 mense op die skip.) Nadat hulle genoeg geëet het, het hulle die skip nog ligter gemaak deur die res van die koringvrag oorboord te gooi. Toe dit dag word, het hulle die land nie herken nie, maar hulle het ’n baai met ’n strand gesien. Hulle oorweeg toe om, indien moontlik, die skip daar te laat strand. Hulle het die ankers afgegooi en net daar in die see gelos. Terselfdertyd het hulle die toue wat die stuurspane vashou, losgemaak en die voorseil gehys sodat die wind die skip strand toe kon dryf. Maar die skip het op ’n rif geloop en gestrand. Die boeg het vasgesteek en kon nie beweeg nie. Die agterstewe het as gevolg van die geweld van die golwe begin opbreek. Die plan van die soldate was om die gevangenes dood te maak om te keer dat hulle sou uitswem en ontsnap. Maar die Romeinse offisier wou Paulus red en het hulle gekeer om hulle plan uit te voer. Hy het die mense wat kon swem, beveel om eerste oorboord te spring en die land te probeer haal. Die ander moes dan volg, sommige deur aan planke en ander deur aan wrakstukke vas te klou. Op hierdie manier het dit gebeur dat almal veilig aan land gekom het.
Lees HANDELINGE 27
Luister na HANDELINGE 27
Deel
Vergelyk alle weergawes: HANDELINGE 27:27-44
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's