2 KONINGS 4:8-37
2 KONINGS 4:8-37 Bybel vir almal (ABA)
Toe Elisa eendag in die stad Sunem kom, het 'n ryk vrou hom genooi om by hulle te kom eet. Hy het toe elke maal wanneer hy daar gekom het, na haar huis gegaan om te eet. Eendag het sy vir haar man gesê: “Luister na wat ek sê, die man van God is 'n gewyde man en hy kom baie maal by ons. Kom ons maak die klein bo-kamer vir hom gereed, en ons sit daar vir hom 'n bed en 'n stoel en 'n tafel en 'n lamp. Dan kan hy elke maal wanneer hy by ons kom, daar gaan bly.” Hulle het dit toe gedoen. Eendag het Elisa gekom en hy het in die bo-kamer op die bed gaan lê. Hy sê toe vir die jongman Gehasi wat vir hom werk: “Gaan roep vir my hierdie vrou van Sunem.” Gehasi het haar gaan roep, en sy het by die deur kom staan. Toe sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: Jy het baie gedoen om vir ons te help. Wat kan ons vir jóú doen? Kan ek vir die koning of vir die hoof van die leër iets sê oor jou?” Die vrou het geantwoord: “Nee, ek woon by my eie mense.” Elisa sê toe: “Ek wonder wat ek vir haar kan doen.” En toe sê Gehasi: “Ek weet wat jy vir haar kan doen. Sy het nie 'n seun nie, en haar man is oud.” Elisa het gesê Gehasi moet die vrou gaan roep, en sy het by die deur kom staan. Toe sê Elisa vir die vrou: “Jy sal volgende jaar hierdie tyd jou eie seun in jou arms hou.” Die vrou het gesê: “Nee, Meneer, jy is 'n man van God, jy moenie vir my jok nie.” Maar die vrou het swanger geword en sy het 'n seun gekry op die tyd wat Elisa gesê het. Toe die seun groter was, het hy eendag saam met sy pa gegaan na die koringland waar die mense die koring afsny. En hy het vir sy pa gesê: “My kop is seer, my kop is seer.” Sy pa het vir 'n jongman gesê: “Neem my seun na sy ma toe.” Die jongman het die seun opgetel en hy het hom na sy ma toe geneem. Die seun het op haar skoot gesit tot die middag, en toe het hy gesterf. Sy ma het hom na die bo-kamer gedra en sy het hom neergesit op die man van God se bed. Sy het toe die deur gesluit en ondertoe gegaan. Toe roep sy haar man en sê: “Stuur asseblief vir my een van die jongmanne en 'n donkie, ek wil gou na die man van God toe gaan.” Haar man het gevra: “Hoekom wil jy vandag na hom toe gaan? Dit is nie Nuwemaan-fees of Sabbatdag nie.” Die vrou het gesê haar man moenie bekommerd wees nie. Sy het die donkie laat opsaal en vir die jongman gesê: “Jy moet die donkie vinnig jaag, jy moet net stadiger gaan wanneer ek vir jou sê.” Toe sy by die man van God op Karmel-berg kom, het hy haar sien aankom en vir die jongman Gehasi by hom gesê: “Kyk, hier kom die vrou van Sunem. Hardloop asseblief na haar toe en vra vir haar: ‘Gaan dit goed met jou, gaan dit goed met jou man, gaan dit goed met die kind?’ ” Die vrou het geantwoord: “Dit gaan goed.” Maar toe sy by die man van God op die berg kom, gaan lê sy en sy hou Elisa se voete vas. Gehasi het nader gekom om haar weg te trek, maar die man van God het gesê: “Los haar, sy is baie hartseer, en die Here het dit nie vir my gewys nie, Hy het dit nie vir my gesê nie.” Die vrou sê toe vir Elisa: “Ek het nie vir Meneer 'n seun gevra nie. Ek het gesê jy moenie vir my jok nie.” Elisa het vir Gehasi gesê: “Jy moet jou klere vasmaak en my kierie neem en na haar huis gaan. Wanneer jy langs die pad iemand kry, dan moet jy hom nie groet nie, en wanneer hy jou groet, dan moet jy nie antwoord nie. Gaan sit dan my kierie op die seun se gesig.” Die seun se ma het vir Elisa gesê: “Kom saam. So seker soos die Here lewe en jy lewe, ek sal nie gaan as jy nie saamgaan nie.” Elisa het opgestaan en hy het saam met haar gegaan. Gehasi het voor hulle by die vrou se huis gekom, en hy het die kierie op die seun se gesig gesit. Maar niks het gebeur nie, die seun het nie gelewe nie. Gehasi het teruggegaan, en toe hy by Elisa kom, het hy gesê: “Die seun het nie wakker geword nie.” Toe Elisa by die huis kom, sien hy dat die seun daar dood op die bed lê. Hy het die deur toegemaak en tot die Here gebid. Toe gaan lê hy bo-op die seun en hy sit sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy hande op die seun se hande. So het hy op die seun gelê totdat die seun se liggaam warm geword het. Daarna het Elisa afgeklim van die bed en hy het een maal heen en weer geloop in die kamer. Toe het hy weer op die seun gaan lê. Die seun het sewe maal genies en hy het sy oë oopgemaak. Elisa roep toe vir Gehasi en sê: “Roep die vrou van Sunem.” Gehasi het haar geroep, en toe sy by Elisa kom, het hy gesê: “Tel jou seun op.” Sy het gekom en by Elisa se voete gaan lê met haar gesig teen die grond. Toe het sy haar kind opgetel en uitgegaan.
2 KONINGS 4:8-37 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
En op 'n dag het Elísa verbygegaan na Sunem; en daar was 'n vermoënde vrou wat by hom aangehou het dat hy brood sou eet. En so dikwels as hy verbygaan, het hy daarheen weggedraai om brood te eet. En sy het aan haar man gesê: Kyk tog, ek merk dat dit 'n heilige man van God is wat gedurig by ons verbygaan; laat ons tog 'n klein ommuurde bo-kamer maak, en laat ons daar vir hom 'n bed en 'n tafel en 'n stoel en 'n lamp neersit; wanneer hy dan by ons kom, kan hy daar intrek. En toe hy op 'n dag daar kom, het hy in die bo-kamer ingetrek en daar gaan lê en aan sy dienaar Gehási gesê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy voor hom gaan staan het, sê hy vir hom: Vra haar tog: Kyk, jy het al hierdie sorg aan ons bestee; wat kan daar vir jou gedoen word? Kan daar vir jou 'n goeie woord gedoen word by die koning of die leërowerste? Maar sy antwoord: Ek woon onder my volk. Daarop sê hy: Wat kan daar dan vir haar gedoen word? En Gehási antwoord: Voorwaar, sy het geen seun nie, en haar man is oud. En hy sê: Roep haar. En toe hy haar geroep en sy in die deur gaan staan het, sê hy: Sulke tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun omhels. En sy antwoord: Ag nee, my heer, man van God, moenie vir u dienares lieg nie! En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar op daardie tyd oor 'n jaar, soos Elísa met haar gespreek het. Maar toe die kind groot was, het hy op 'n dag uitgegaan na sy vader, na die maaiers, en vir sy vader gesê: My kop, my kop! Dié sê toe vir 'n dienaar: Dra hom na sy moeder. En hy het hom gedra en by sy moeder gebring. En hy het op haar knieë gesit tot die middag en gesterwe. En sy het opgeklim en hom op die bed van die man van God neergelê en agter hom toegesluit en uitgegaan. Daarop roep sy haar man en sê: Stuur tog vir my een van die dienaars met een van die eselinne, dat ek gou na die man van God kan gaan en terugkom. En hy sê: Waarom gaan jy vandag na hom? Dit is geen nuwemaan of sabbat nie. En sy antwoord: Wees maar gerus! Toe saal sy die esel op en sê aan haar dienaar: Jaag aan en gaan voort; hou my nie op in die ry nie, behalwe as ek jou sê. Sy het dan weggegaan en by die man van God op die berg Karmel gekom. Sodra die man van God haar op 'n afstand sien, sê hy aan sy dienaar Gehási: Kyk, daar is dié Sunamitiese vrou! Loop haar nou tog tegemoet en sê vir haar: Gaan dit goed met u? Gaan dit goed met u man? Gaan dit goed met u kind? En sy antwoord: Goed. Maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy sy voete gegryp. En Gehási het aangekom om haar weg te stoot; maar die man van God sê: Laat haar staan, want haar siel is bitter bedroef in haar, en die HERE het dit vir my verberg en my dit nie meegedeel nie. En sy sê: Het ek van my heer 'n seun gevra? Het ek nie gesê: Moet my nie mislei nie? En hy sê vir Gehási: Gord jou heupe en neem my staf in jou hand en gaan heen; as jy iemand teëkom, groet hom nie; en as iemand jou groet, antwoord hom nie; en lê my staf op die gesig van die seun. Maar die moeder van die seun sê: So waar as die HERE leef en u siel leef, ek sal u nie verlaat nie! En hy het opgestaan en agter haar aan geloop. En Gehási het voor hulle uit gegaan en die staf op die gesig van die seun gelê; maar daar was geen stem en geen opmerksaamheid nie. Daarop gaan hy terug hom tegemoet en bring hom die berig en sê: Die seun het nie wakker geword nie. En toe Elísa in die huis kom, was die seun dood, neergelê op sy bed! En hy het ingegaan en die deur agter hulle twee toegesluit en tot die HERE gebid. Daarna klim hy op en gaan lê op die kind en sit sy mond op dié se mond en sy oë op dié se oë en sy hande op dié se hande en buig oor hom neer; en die vlees van die kind het warm geword. Daarop het hy teruggekom en in die huis een keer heen en weer geloop, om dan opnuut op te klim en oor hom neer te buig; en die seun het sewe maal genies; en die seun het sy oë oopgemaak. Toe roep hy Gehási en sê: Roep hierdie Sunamitiese vrou. Nadat hy haar dan geroep en sy by hom gekom het, sê hy: Tel jou seun op. En sy het ingekom en voor sy voete geval en na die aarde gebuig; en sy het haar seun opgetel en uitgegaan.
2 KONINGS 4:8-37 Afrikaans 1983 (AFR83)
Op 'n dag het Elisa na Sunem toe gegaan. Daar was 'n vooraanstaande vrou wat by hom daarop aangedring het om vir ete oor te bly. Elke keer as hy daar verbykom, het hy eers by haar aangegaan om te eet. Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dit is 'n heilige man van God wat gereeld hier by ons aankom. Kom ons bou 'n klein bovertrekkie en sit vir hom 'n bed, 'n tafel, 'n stoel en 'n lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek.” Op 'n dag toe Elisa weer daar aankom, het hy in die bovertrek ingetrek en gaan rus. Hy het vir Gehasi sy slaaf gesê: “Roep bietjie die Sunemmitiese vrou.” Gehasi het haar geroep, en toe sy voor Elisa se kamer staan, sê hy vir sy slaaf: “Sê vir haar: Jy het al hierdie moeite vir ons gedoen. Wat kan ek vir jou doen? Sal ek vir jou 'n woordjie doen by die koning of by die hoof van die leër?” “Ek woon hier tussen my eie mense,” was haar antwoord. Hy vra toe: “Maar kan daar nie iets vir haar gedoen word nie?” Waarop Gehasi antwoord: “Ja tog, sy het nie 'n seun nie, en haar man is al oud.” “Roep haar hiernatoe,” sê Elisa. Toe Gehasi haar nader roep, het sy in die deur kom staan. Toe sê Elisa: “Hierdie tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun in jou arms hou.” Sy antwoord: “Nee, Meneer, u is 'n man van God, u moet tog nie vir my iets sê wat nie so kan wees nie!” Die vrou het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring, presies 'n jaar later, net soos Elisa vir haar gesê het. Toe die seun groter geword het, het hy op 'n dag na sy pa-hulle toe gegaan waar hulle besig was om te oes. Skielik het hy vir sy pa gesê: “My kop, my kop!” Sy pa het vir 'n slaaf gesê: “Dra hom na sy ma toe.” Die slaaf het hom na sy ma toe gedra. Hy het op haar skoot gelê tot die middag, en toe is hy dood. Sy het hom boontoe gedra en hom neergelê op die bed van die man van God, en toe sy uitgaan, het sy die deur agter haar toegetrek. Sy het haar man geroep en gesê: “Stuur tog vir my 'n slaaf en 'n donkie. Ek wil na die man van God toe gaan en gou weer terug wees.” “Maar waarom gaan jy vandag na hom toe,” het haar man gevra, “dit is mos nie nuwemaan of sabbat nie?” Maar sy het hom gerusgestel, die donkie opgesaal en vir haar slaaf gesê: “Jaag die donkie aan. Moenie dat hy gaan staan nie, behalwe as ek vir jou so sê.” Sy is toe vort en het by die man van God aangekom by Karmelberg. Toe die man van God haar op 'n afstand sien aankom, sê hy vir Gehasi sy slaaf: “Dis mos die Sunemmitiese vrou daardie. Hardloop haar tegemoet en vra vir haar: Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? En met jou seun?” Vir Gehasi het sy gesê: “Dit gaan goed,” maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy aan sy voete vasgeklou. Toe Gehasi nader staan om haar weg te stoot, sê die man van God: “Los haar, sy is baie hartseer. Die Here het dit vir my verberg en vir my niks gesê nie.” Sy sê toe vir hom: “Meneer, het ek van u 'n seun gevra? Het ek nie gesê: Moenie by my 'n valse hoop wek nie?” Toe sê hy vir Gehasi: “Maak gou klaar, vat my kierie en vertrek. As jy iemand raakloop, moet hom nie groet nie. Gaan sit my kierie op die gesig van die seun.” Toe sê die seun se ma: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie toelaat om agter te bly nie.” Hy het opgestaan en saam met haar gegaan. Gehasi was voor hulle daar en hy het die kierie op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of enige teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom dat die seun nie bygekom het nie. Toe Elisa in die huis kom, het die seun daar dood gelê net soos hy op die bed neergelê was. Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het, het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het. Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak. Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.” Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.
2 KONINGS 4:8-37 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Op 'n dag het Elisa na Sunem oorgegaan. Daar was 'n invloedryke vrou, en sy het daarop aangedring dat hy by haar eet. Telkens wanneer hy daar verbygegaan het, het hy daarheen afgedraai om te eet. Sy het vir haar man gesê: “Kyk, ek is daarvan oortuig dat dit 'n heilige man van God is wat gereeld hier by ons verbygaan. Kom ons maak tog 'n klein ommuurde bovertrek en sit vir hom daar 'n bed, tafel, stoel en 'n lamp neer, sodat, wanneer hy by ons kom, hy daarheen kan afdraai.” Op 'n dag het Elisa daar aangekom, na die bovertrek afgedraai en daar gaan lê. Hy sê toe vir Gehasi, sy dienaar: “Roep hierdie Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het voor hom gaan staan. Daarop sê hy vir Gehasi: “Sê asseblief vir haar, ‘Kyk, jy het vir ons al hierdie moeite gedoen. Wat kan daar nou vir jou gedoen word? Kan ons vir jou 'n woord doen by die koning of die bevelvoerder van die leër? ’ ” Maar sy het gesê: “Ek woon onder my eie mense.” Elisa sê toe: “Maar wat kan vir haar gedoen word?” Gehasi het geantwoord: “Wel, sy het nie 'n seun nie, en haar man is oud.” Hy sê toe: “Roep haar!” Hy het haar geroep en sy het in die deur gaan staan. “Teen hierdie tyd oor 'n jaar,” het Elisa gesê, “sal jy 'n seuntjie omhels.” Maar sy het gesê: “Nee, my heer, man van God! Moenie vir u slavin 'n leuen vertel nie! ” Die vrou het egter swanger geword en 'n jaar later teen dieselfde tyd 'n seun in die wêreld gebring, soos Elisa haar verseker het. Die kind het opgegroei, en toe hy op 'n dag uitgaan na sy vader toe, na die oesters, sê hy vir sy vader: “My kop! My kop!” Die vader het vir sy werker gesê: “Dra hom na sy ma toe!” Hy het hom opgetel en na sy moeder geneem. Hy het op haar skoot gesit tot die middag, en toe sterf hy. Sy het opgegaan, hom op die man van God se bed neergelê en hom daar toegesluit. Sy het uitgegaan, haar man geroep en gesê: “Stuur asseblief vir my een van die werkers en een van die donkiemerries, sodat ek gou na die man van God kan gaan en kan terugkom.” “Waarom gaan jy vandag na hom toe?” het hy gevra. “Dit is mos nie nuwemaan of Sabbat nie.” Sy het geantwoord: “Wees gerus!” Daarop het sy die donkiemerrie opgesaal en vir haar dienaar gesê: “Vat voor en gaan! Moet my nie in die ry ophou nie, behalwe as ek vir jou sê.” Sy het gegaan en by die man van God, by die berg Karmel, aangekom. Toe die man van God haar aan die oorkant sien, sê hy vir Gehasi, sy dienaar: “Kyk, dit is die Sunemitiese vrou daardie! Hardloop haar tog nou tegemoet en vra haar, ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou kind?’ ” Sy het daarop geantwoord: “Dit gaan goed.” Maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy sy voete vasgegryp. Gehasi het nader gekom om haar weg te stoot, maar die man van God het gesê: “Los haar, want sy is bitter ontsteld. Die HERE het dit vir my verberg en my nie ingelig nie.” Sy sê toe: “Het ek 'n seun van u, my heer, gevra? Het ek nie gesê nie, ‘U mag my nie vals hoop gee nie’? ” Daarop sê hy vir Gehasi: “Omgord jou heupe, neem my wandelstok in jou hand en gaan! As jy iemand raakloop, mag jy hom nie groet nie; en as iemand jou groet, moet hom nie antwoord nie. Plaas dan my wandelstok op die seun se gesig. ” Toe sê die seun se moeder: “So waar as die HERE leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hy het toe opgestaan en haar gevolg. Gehasi het voor hulle uit gegaan en die wandelstok op die seun se gesig geplaas. Daar was egter geen geluid, geen reaksie nie. Toe het hy omgedraai om Elisa te ontmoet en hom ingelig: “Die seun het nie wakker geword nie.” Toe Elisa by die huis aankom, daar lê die seun dood, op sy bed neergelê. Hy het ingegaan, die deur agter hulle twee gesluit en tot die HERE gebid. Toe klim hy op die bed, gaan lê op die kind en plaas sy mond teen die kind se mond, sy oë teen sy oë en sy palms teen sy palms, en buig so oor hom. Die kind se liggaam het warm geword. Elisa het toe nog 'n keer heen en weer geloop in die vertrek, op die bed geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies. Toe die seun sy oë oopmaak, het hy Gehasi geroep en gesê: “Gaan roep die Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het na Elisa gekom. Hy het gesê: “Tel jou seun op!” Sy het na binne gegaan, by sy voete neergeval en diep neergebuig teen die grond. Toe tel sy haar seun op en gaan uit.
2 KONINGS 4:8-37 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En dit het op 'n dag gekom dat Elísa na Sunem oorgegaan het, waar 'n groot vrou was; en sy het hom gedwing om brood te eet. En so het hy so dikwels as hy verbygegaan het, daarheen ingedraai om brood te eet. En sy sê vir haar man: Kyk tog, ek merk dat dit 'n heilige man van God is wat gedurigdeur by ons verbygaan. Laat ons tog 'n kamertjie teen die muur maak; en laat ons daar vir hom 'n bed en 'n tafel en 'n stoeltjie en 'n kandelaar neersit; en as hy by ons kom, moet hy daarheen indraai. En dit het op 'n dag gekom dat hy daarheen gekom het, en hy het in die kamer ingegaan en daar gaan lê. En hy sê vir sy dienaar Gehasi: Roep hierdie Sunamitiese. En toe hy haar roep, gaan sy voor hom staan. En hy sê vir hom: Sê nou vir haar: Kyk, jy het met al hierdie sorg vir ons gesorg; wat moet vir jou gedoen word? sou jy aan die koning of aan die leërowerste gespreek word? En sy antwoord: Ek woon onder my eie mense. En hy sê: Wat moet dan vir haar gedoen word? En Gehasi antwoord: Voorwaar, sy het geen kind nie, en haar man is oud. En hy sê: Roep haar. En toe hy haar roep, gaan staan sy in die deur. En hy sê: Teen hierdie tyd, volgens die tyd van die lewe, moet jy 'n seun omhels. En sy sê: Nee, my heer, jy man van God, lieg nie vir u dienares nie. En die vrou het swanger geword en 'n seun gebaar in die tyd wat Elísa vir haar gesê het, volgens die tyd van die lewe. En toe die kind groot was, het dit op 'n dag geval dat hy na sy vader uitgegaan het na die maaiers. En hy sê vir sy vader: My hoof, my kop. En hy sê vir 'n seun: Dra hom na sy moeder. En nadat hy hom geneem en na sy moeder gebring het, het hy tot die middag op haar knieë gesit en daarna gesterf. En sy het opgegaan en hom op die bed van die man van God neergelê en die deur vir hom toegesluit en uitgegaan. En sy het haar man geroep en gesê: Stuur tog vir my een van die jongmanne en een van die esels, dat ek na die man van God kan hardloop en terugkom. En hy sê: Waarom sal jy vandag na hom toe gaan? dit is nie nuwemaan of sabbat nie. En sy sê: Dit sal goed gaan. Toe saal sy 'n esel op en sê vir haar dienaar: Ry en gaan vorentoe; Moenie jou ry vir my verslap nie, tensy ek jou sê. Sy het toe gegaan en by die man van God op die berg Karmel gekom. En toe die man van God haar van ver af sien, sê hy aan sy dienaar Gehasi: Kyk, daar is daardie Sunamitiese. Hardloop tog tog om haar tegemoet en sê vir haar: Gaan dit goed met jou? gaan dit goed met jou man? gaan dit goed met die kind? En sy antwoord: Dit is goed. En toe sy by die man van God op die heuwel kom, gryp sy hom aan sy voete; maar Gehasi het nader gekom om haar weg te stoot. En die man van God sê: Laat haar staan; want haar siel is gekwel in haar, en die HERE het dit vir my verberg en dit aan my nie te kenne gegee nie. Toe sê sy: Het ek 'n seun van my heer begeer? het ek nie gesê: Moet my nie bedrieg nie? Toe sê hy vir Gehasi: Omgord jou heupe en neem my staf in jou hand en gaan heen; as jy iemand ontmoet, groet hom nie; en as iemand jou groet, antwoord hom nie weer nie; en lê my staf op die aangesig van die seuntjie. Toe sê die moeder van die kind: So waar as die HERE leef en jou siel leef, ek sal jou nie verlaat nie. En hy het opgestaan en haar gevolg. En Gehasi het voor hulle uit gegaan en die staf op die aangesig van die seun gelê; maar daar was geen stem of gehoor nie. Daarom het hy hom weer tegemoetgegaan en hom meegedeel en gesê: Die kind is nie wakker nie. En toe Elisa in die huis kom, was die kind dood en lê op sy bed. Hy het toe ingegaan en die deur vir hulle twee toegesluit en tot die HERE gebid. En hy het opgegaan en op die kind gaan lê en sy mond op sy mond gelê en sy oë op sy oë en sy hande op sy hande; en die vlees van die kind het warm geword. Toe het hy teruggegaan en in die huis heen en weer geloop; en hy het opgegaan en hom op hom uitgestrek, en die kind het sewe maal nies, en die kind het sy oë oopgemaak. En hy het Gehasi geroep en gesê: Roep hierdie Sunamitiese. Daarom het hy haar gebel. En toe sy by hom ingaan, sê hy: Neem jou seun op. Daarna het sy ingegaan en voor sy voete geval en haarself na die grond gebuig en haar seun opgeneem en uitgegaan.
2 KONINGS 4:8-37 Die Boodskap (DB)
Op ’n dag het Elisa deur die dorp Sunem gereis. ’n Vooraanstaande vrou van die dorp het by hom aangedring om iets by haar huis te kom eet. Daarna het dit elke keer gebeur. Wanneer hy in die dorp was, het hy by haar iets gaan eet. Eendag het sy vir haar man gesê: “Weet jy, ek is seker die besoeker wat dikwels hier by ons kom eet, is ’n spesiale boodskapper van God. Kom ons bou vir hom ’n dakkamer op die huis. Ons kan dit mooi inrig met ’n paar stukkies meubels, soos ’n bed, tafel, stoel en ’n lamp. Dan kan hy, wanneer hy ook al hier aankom, by ons oorbly.” Toe Elisa weer ’n keer in Sunem was, het hy opgegaan kamer toe om te gaan rus. Hy het vir sy assistent, Gehasi, gesê: “Gaan sê vir die vrou ek wil met haar praat.” Toe sy daar bo kom, het hy vir Gehasi gesê: “Sê vir haar: Ons waardeer die baie moeite wat jy vir ons gedoen het. Is daar dalk iets wat ek vir jou kan doen? Kan ek vir jou ’n goeie woord by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?” “Nee, dankie,” het sy geantwoord, “ek woon doodgelukkig hier tussen my mense.” Later het Elisa vir Gehasi gevra: “Wat kan ons tog vir die vrou doen?” “Daar is tog iets,” het Gehasi gesê, “sy het nie ’n seun nie en haar man is al ’n ou man.” Elisa sê toe: “Roep haar gou weer hier na my toe!” Toe sy daar bo kom, het sy in die deur van sy kamer bly staan. Hy het vir haar gesê: “Teen dié tyd volgende jaar sal jy ’n seuntjie in jou arms vashou.” Sy het skerp geantwoord: “Ag nee, Meneer! U is tog ’n man van God. Moenie ’n leuen vertel en my vals hoop gee nie!” Maar sy het begin verwag en omtrent ’n jaar later is haar seuntjie gebore, net soos Elisa voorspel het. Op ’n dag het die seuntjie, wat toe al ’n bietjie groter was, na sy pa op die lande gegaan. Hulle was besig om te oes. Skielik het die kind uitgeroep: “Pa, my kop is seer! My kop!” Sy pa het dadelik ’n werker gestuur en gesê: “Vat hom gou na sy ma toe.” Toe hy met die kind by die huis kom, het sy ma hom op haar skoot vasgehou, maar hy is teen die middag dood. Sy het die liggaampie opgedra na Elisa se kamer toe en hom op die bed neergelê. Daarna het sy uitgegaan en die deur gesluit. Sy het toe vir haar man laat weet: “Stuur vir my een van die werkers en ’n donkie. Ek wil gou die man van God gaan besoek. Ek sal binnekort terug wees.” “Waarom vandag?” het haar man gevra. “Dit is tog nie vandag nuwemaan of sabbat nie.” “Toemaar, wees gerus,” het sy geantwoord en onmiddellik die donkie opgesaal. Sy het vir die werker gesê: “Jaag die donkie aan en moet nie stadiger ry nie, behalwe as ek so sê.” Sy het na Elisa toe gery waar hy op die Karmelberg gebly het. Elisa het haar gesien toe sy nog ’n ent weg was en vir Gehasi gesê: “Kyk daar. Dit is die vrou van Sunem. Draf haar tegemoet en vra hoe dit met haar en haar man en kind by die huis gaan.” Sy het net vir Gehasi gesê: “Dit gaan goed,” maar verbygejaag na Elisa toe op die berg. Toe sy by hom kom, het sy voor hom op die grond geval en sy voete vasgegryp. Gehasi wou haar wegstoot van Elisa af, maar hy het gesê: “Los haar. Sy is baie ontsteld. Hier is groot fout, maar die Here het niks daarvan vir my gesê nie.” “Ag, Meneer,” het sy gekerm, “het ek u gevra vir ’n seun? Nee, ek het gesê u moet my nie vals hoop gee nie.” Elisa het vir Gehasi gesê: “Kry jou reg om dadelik te gaan! Vat my kierie saam. Jy moet met niemand op pad praat nie. Gaan reguit na die kind toe en sit my kierie op sy gesig neer.” Die vrou het egter gesê: “So seker as die Here en u leef, ek sal nie huis toe gaan as u nie saamkom nie!” Elisa het toe saam met haar gegaan. Gehasi het vinnig vooruitgegaan en Elisa se kierie op die kind se gesig neergesit. Niks het egter gebeur nie, daar was geen teken van lewe nie. Hy het teruggegaan na Elisa toe en gesê: “Die kind is nog steeds dood.” Toe Elisa in die huis kom, was die situasie onveranderd. Die liggaampie het steeds op Elisa se bed gelê. Hy het alleen in die kamer ingegaan en die deur gesluit. Toe het hy ernstig tot die Here gebid. Hy het op die kind gaan lê. Hy het met sy kop op die kind se koppie, sy oë oor die kind se ogies en sy hande op die kind se handjies gaan lê. Geleidelik het die liggaampie weer warm geword. Elisa het opgestaan en ’n keer in die kamer op en af geloop en toe weer op die kind gaan lê. Toe het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak! Elisa het dadelik vir Gehasi geroep en gesê: “Gaan haal gou die kind se ma!” Toe sy inkom, het hy vir haar gesê: “Hier is jou kind!” Sy het dankbaar voor hom neergesak, die kind opgetel en hom ondertoe gedra.
2 KONINGS 4:8-37 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Op ’n keer het Elisa na die dorp Sunem toe gegaan. Daar het ’n baie welgestelde vrou gewoon. Sy het by hom aangedring om by hulle te kom eet. Van toe af het hy elke keer wanneer hy daar verbygegaan het daar geëet. Na ’n tyd sê sy vir haar man: “Ek dink die man wat dikwels hier by ons aankom, is ’n heilige man van God. Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.” Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus. Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunemmitiese vrou.” Toe sy daar aankom, sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’” “Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.” Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?” Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.” “Gaan roep haar weer,” sê Elisa vir hom. Toe die vrou terugkom, sê Elisa vir haar terwyl sy in die deur staan: “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seun in jou arms vashou!” “Nee, Meneer!” maak sy beswaar. “Asseblief, man van God, moenie vir my onwaarhede vertel nie.” Maar die vrou hét swanger geword. ’n Jaar later het sy ’n seun in die wêreld gebring net soos Elisa vir haar gesê het. Toe die kind groter geword het, het hy op ’n keer na sy pa toe gegaan waar hy en die werkers besig was om te oes. Skielik roep hy: “My kop! My kop!” Sy pa sê toe vir een van die werkers: “Dra hom na sy ma toe.” Die dienaar het hom huis toe geneem en sy ma het hom op haar skoot vasgehou. Teen die middag het hy egter gesterf. Sy dra hom toe boontoe en lê hom op die bed van die man van God neer, gaan uit en trek die deur toe. Toe roep sy haar man en vra: “Stuur tog een van die werkers en ’n donkie sodat ek na die man van God toe kan gaan en gou weer kan terugkom.” “Hoekom wil jy dan vandag gaan?” wil hy weet. “Dit is tog nie ’n Nuwemaanfees of ’n Sabbat nie!” Maar sy sê: “Alles is reg.” Sy saal die donkie op en sê vir die dienaar: “Maak gou! Jaag die donkie aan en moenie stadiger gaan tensy ek vir jou sê nie.” Sy gaan toe en het by die man van God, by Karmelberg, aangekom. Die man van God het haar in die verte sien aankom. Hy sê vir Gehasi: “Kyk, dis die vrou uit Sunem. Hardloop haar tegemoet en vra haar: ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou seun?’” “Dit gaan goed,” sê die vrou vir Gehasi. Maar toe sy by die man van God op die berg kom, val sy op die grond voor hom en gryp sy voete. Gehasi probeer om haar weg te stoot, maar die man van God sê: “Laat haar met rus! Sy is diep bedroef en die HERE het dit nie vir my bekendgemaak nie.” Toe sê sy: “Meneer, het ek u gevra vir ’n seun? Het ek dan nie gesê u moenie vir my valse hoop gee nie?” Elisa sê toe vir Gehasi: “Maak jou gereed. Vat my kierie in jou hand en gaan. Moenie met enigiemand op die pad praat of hom groet nie. Gaan gou en sit die kierie op die seun se gesig.” Maar die seun se ma sê: “So seker as die HERE leef en u self ook leef, ek sal nie huis toe gaan tensy u met my saamgaan nie.” Elisa het toe opgestaan en saam met haar gegaan. Gehasi het vooruitgegaan en die kierie op die kind se gesig gesit, maar daar was geen teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom: “Die seun het nie wakker geword nie.” Toe Elisa daar aankom, het die kind nog dood op die profeet se bed gelê. Hy het alleen ingegaan, die deur agter hulle twee toegemaak en tot die HERE gebid. Toe gaan lê hy op die seun met sy mond op dié van die seun, sy oë op die seun s’n en sy hande op die kind s’n. Die seun se liggaam het begin warm word! Elisa staan toe op en stap ’n paar keer heen en weer in die kamer. Toe gaan lê hy weer op die seun. Hierdie keer het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak! Elisa beveel toe vir Gehasi: “Gaan roep die Sunemmitiese vrou!” Toe sy inkom, sê Elisa: “Hier, vat jou seun!” Sy kom toe in, val voor hom neer en buig voor hom, oorstelp van dankbaarheid. Sy het haar seun opgetel en hom ondertoe gedra.