2 Konings 4

4
Elisa se wonderwerke
1'n Sekere vrou, die vrou van iemand uit die profetegroep, het die hulp van Elisa ingeroep: “U dienaar, my man, is dood; en u weet self dat u dienaar ontsag gehad het vir die Here. Die skuldeiser het nou gekom om my twee kinders vir hom as slawe te neem. ” 2Toe sê Elisa vir haar: “Wat kan ek vir jou doen? Vertel my wat jy in jou huis het.” Sy het geantwoord: “U slavin het niks in die huis nie, net 'n kruikie met olie.” 3Hy sê toe: “Gaan vra houers by al jou bure in die straat, leë houers. Moet net nie te min vra nie. 4Gaan daarna in en sluit die deur agter jou en jou seuns. Gooi dan die olie in al hierdie houers. Dié wat vol is, moet jy eenkant neersit.”
5Sy het toe van hom af weggegaan. Sy het die deur agter haar en haar seuns gesluit. Hulle het vir haar die houers aangegee, en sy het ingegooi. 6Toe die houers vol was, het sy vir haar seun gesê: “Gee nog 'n houer vir my aan.” Maar hy het vir haar gesê: “Daar is nie nog 'n houer nie.” Die olie het toe ophou vloei. 7Sy het gegaan en dit vir die man van God vertel. Hy het gesê: “Gaan verkoop die olie en betaal jou skuld. Jy en jou seuns kan dan leef van wat oor is.”
8 Op 'n dag het Elisa na Sunem oorgegaan. Daar was 'n invloedryke vrou, en sy het daarop aangedring dat hy by haar eet. Telkens wanneer hy daar verbygegaan het, het hy daarheen afgedraai om te eet. 9Sy het vir haar man gesê: “Kyk, ek is daarvan oortuig dat dit 'n heilige man van God is wat gereeld hier by ons verbygaan. 10Kom ons maak tog 'n klein ommuurde bovertrek en sit vir hom daar 'n bed, tafel, stoel en 'n lamp neer, sodat, wanneer hy by ons kom, hy daarheen kan afdraai.”
11Op 'n dag het Elisa daar aangekom, na die bovertrek afgedraai en daar gaan lê. 12Hy sê toe vir Gehasi, sy dienaar: “Roep hierdie Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het voor hom gaan staan. 13Daarop sê hy vir Gehasi: “Sê asseblief vir haar, ‘Kyk, jy het vir ons al hierdie moeite gedoen. Wat kan daar nou vir jou gedoen word? Kan ons vir jou 'n woord doen by die koning of die bevelvoerder van die leër? ’ ” Maar sy het gesê: “Ek woon onder my eie mense.”
14Elisa sê toe: “Maar wat kan vir haar gedoen word?” Gehasi het geantwoord: “Wel, sy het nie 'n seun nie, en haar man is oud.” 15Hy sê toe: “Roep haar!” Hy het haar geroep en sy het in die deur gaan staan. 16“Teen hierdie tyd oor 'n jaar,” het Elisa gesê, “sal jy 'n seuntjie omhels.” Maar sy het gesê: “Nee, my heer, man van God! Moenie vir u slavin 'n leuen vertel nie! ” 17Die vrou het egter swanger geword en 'n jaar later teen dieselfde tyd 'n seun in die wêreld gebring, soos Elisa haar verseker het.
18Die kind het opgegroei, en toe hy op 'n dag uitgaan na sy vader toe, na die oesters, 19sê hy vir sy vader: “My kop! My kop!” Die vader het vir sy werker gesê: “Dra hom na sy ma toe!” 20Hy het hom opgetel en na sy moeder geneem. Hy het op haar skoot gesit tot die middag, en toe sterf hy. 21Sy het opgegaan, hom op die man van God se bed neergelê en hom daar toegesluit. Sy het uitgegaan, 22haar man geroep en gesê: “Stuur asseblief vir my een van die werkers en een van die donkiemerries, sodat ek gou na die man van God kan gaan en kan terugkom.” 23“Waarom gaan jy vandag na hom toe?” het hy gevra. “Dit is mos nie nuwemaan of Sabbat nie.” Sy het geantwoord: “Wees gerus!” 24Daarop het sy die donkiemerrie opgesaal en vir haar dienaar gesê: “Vat voor en gaan! Moet my nie in die ry ophou nie, behalwe as ek vir jou sê.”
25 Sy het gegaan en by die man van God, by die berg Karmel, aangekom. Toe die man van God haar aan die oorkant sien, sê hy vir Gehasi, sy dienaar: “Kyk, dit is die Sunemitiese vrou daardie! 26Hardloop haar tog nou tegemoet en vra haar, ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou kind?’ ”
Sy het daarop geantwoord: “Dit gaan goed.” 27Maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy sy voete vasgegryp. Gehasi het nader gekom om haar weg te stoot, maar die man van God het gesê: “Los haar, want sy is bitter ontsteld. Die Here het dit vir my verberg en my nie ingelig nie.” 28Sy sê toe: “Het ek 'n seun van u, my heer, gevra? Het ek nie gesê nie, ‘U mag my nie vals hoop gee nie’? ” 29 Daarop sê hy vir Gehasi: “Omgord jou heupe, neem my wandelstok in jou hand en gaan! As jy iemand raakloop, mag jy hom nie groet nie; en as iemand jou groet, moet hom nie antwoord nie. Plaas dan my wandelstok op die seun se gesig. ” 30Toe sê die seun se moeder: “So waar as die Here leef, en u leef, ek sal u nie verlaat nie!” Hy het toe opgestaan en haar gevolg.
31Gehasi het voor hulle uit gegaan en die wandelstok op die seun se gesig geplaas. Daar was egter geen geluid, geen reaksie nie. Toe het hy omgedraai om Elisa te ontmoet en hom ingelig: “Die seun het nie wakker geword nie.” 32Toe Elisa by die huis aankom, daar lê die seun dood, op sy bed neergelê. 33Hy het ingegaan, die deur agter hulle twee gesluit en tot die Here gebid. 34 Toe klim hy op die bed, gaan lê op die kind en plaas sy mond teen die kind se mond, sy oë teen sy oë en sy palms teen sy palms, en buig so oor hom. Die kind se liggaam het warm geword. 35Elisa het toe nog 'n keer heen en weer geloop in die vertrek, op die bed geklim en oor hom gebuig. Die seun het sewe keer genies. Toe die seun sy oë oopmaak, 36het hy Gehasi geroep en gesê: “Gaan roep die Sunemitiese vrou!” Hy het haar geroep en sy het na Elisa gekom. Hy het gesê: “Tel jou seun op!” 37 Sy het na binne gegaan, by sy voete neergeval en diep neergebuig teen die grond. Toe tel sy haar seun op en gaan uit.
38Elisa het teruggegaan na Gilgal. Daar was hongersnood in die land. Terwyl die profetegroep voor hom sit, het hy vir sy dienaar gesê: “Sit 'n groot pot op en kook 'n gereg vir die profetegroep.” 39Een van hulle het uitgegaan in die veld om wildemalvablare te pluk. Hy kom toe af op 'n wilde rankplant en pluk bitterappels daarvan af, totdat die vou in sy kleed vol was. Hy kom toe en sny dit op in die pot met die gereg, alhoewel hulle dit nie geken het nie. 40Hulle het dit vir die manne uitgedeel om te eet, maar toe hulle van die gereg begin eet, roep hulle uit en sê: “Die dood is in die pot, man van God!” Hulle kon dit nie eet nie. 41 Hy sê toe: “Gaan haal meel!” Hy het dit in die pot gegooi en gesê: “Deel uit vir die mense sodat hulle kan eet!” Daar was toe nie meer iets skadeliks in die pot nie.
42Daar het 'n man uit Baäl-Salisa gekom wat vir die man van God brood van die oes se eerste opbrengs en twintig garsbrode gebring het, asook vars graan in sy kossak. Elisa sê toe: “Gee vir die mense, dat hulle kan eet!” 43 Maar sy helper sê: “Hoe kan ek dit vir honderd man gee?” Hy het geantwoord: “Gee vir die mense, dat hulle kan eet, want so sê die Here, ‘Hulle sal eet en daar sal oorbly.’ ” 44Hy het dit toe aan hulle voorgesit, en hulle het geëet en nog oorgehou, ooreenkomstig die woord van die Here.

Tans Gekies:

2 Konings 4: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid