2 Konings 5

5
Naäman se genesing
1 Naäman, die bevelvoerder van die koning van Aram se leër, was 'n invloedryke man by sy heer, en hoog in aansien, want deur hom het die Here aan Aram 'n oorwinning gegee. Maar die man, 'n dapper kryger, het 'n velsiekte gehad. 2Die Arameërs het in roofbendes uitgetrek en 'n klein dogtertjie uit die land Israel weggevoer. Sy was in diens van Naäman se vrou. 3Sy het vir haar eienares gesê: “As my heer maar net voor die profeet kon verskyn wat in Samaria is, dan sou hy hom van sy velsiekte verlos.”
4Naäman gaan toe en vertel vir sy heer: “Dit is wat die dogtertjie uit die land Israel gesê het.” 5Toe sê die koning van Aram: “Gaan dan! Ek is gewillig om 'n brief aan die koning van Israel te stuur.” Hy het toe gegaan en tien kikkar silwer, sesduisend sikkel goud en tien stelle klere saamgeneem. 6Hy het die brief vir die koning van Israel geneem, wat gelui het: “Wanneer hierdie brief nou by u aankom – kyk, ek stuur na u Naäman, my dienaar, sodat u hom van sy velsiekte kan verlos.”
7Toe die koning van Israel die brief gelees het, skeur hy sy klere en sê: “Is ek dan God, om dood of lewend te maak, dat hierdie man 'n brief na my stuur om iemand van sy velsiekte te verlos? Ja, weet vir seker en sien in dat hy 'n rede teen my soek.” 8Toe Elisa, die man van God, hoor dat die koning van Israel sy klere geskeur het, het hy die koning laat weet: “Waarom het jy jou klere geskeur? Laat hom tog na my toe kom, dan sal hy besef dat daar 'n profeet in Israel is.”
9Naäman het toe met sy perde en strydwa gekom en voor die ingang na Elisa se huis stilgehou. 10 Elisa het 'n boodskapper na hom gestuur met die woorde: “Gaan was jou sewe keer in die Jordaan, sodat jou liggaam kan herstel, en word so rein.” 11Maar Naäman het hom vererg en weggegaan. Hy het gesê: “Kyk, ek het gedink hy sal beslis na my toe uitkom, en gaan staan en die Naam van die Here sy God aanroep, en sy hand oor die plek beweeg en die velsiekte wegneem. 12Is Abana en Parpar, die riviere van Damaskus, dan nie beter as al die waters van Israel nie? Kan ek my nie daarin was en rein word nie?” Hy het toe omgedraai en woedend weggegaan.
13Maar sy dienaars het nader gegaan en met hom gepraat. “My vader,” het hulle gesê, “as dit 'n moeilike opdrag was wat die profeet u gegee het, sou u dit nie gedoen het nie? Hoeveel te meer wanneer hy vir u gesê het, ‘Was en word rein!’ ” 14Hy het toe afgegaan en sy liggaam sewe keer in die Jordaan gedompel, volgens die woord van die man van God. Sy liggaam het herstel en geword soos die liggaam van 'n klein seuntjie, en hy was rein.
15Toe draai hy terug na die man van God, hy en sy hele gevolg. Hy het gekom en voor hom gaan staan en gesê: “Kyk, ek besef nou dat daar geen God in die hele wêreld is nie, behalwe in Israel! Daarom, aanvaar asseblief 'n buitengewone geskenk van u dienaar.” 16Maar Elisa het gesê: “So waar as die Here leef in wie se diens ek staan, ek sal dit nie neem nie!” Naäman het by hom aangedring om dit te aanvaar, maar hy het geweier. 17Toe sê Naäman: “As u nie kan nie, laat daar dan asseblief aan u dienaar twee muilvragte grond gegee word; want u dienaar sal nie meer 'n •brandoffer of 'n •maaltydoffer aan ander gode bring nie, net aan die Here. 18In die volgende geval moet die Here u dienaar vergewe: Wanneer my heer in die tempel van Rimmon ingaan om daar in aanbidding te buig, leun hy gewoonlik op my arm, en dan moet ek ook in die tempel van Rimmon in aanbidding buig. Wanneer ek dan in die tempel van Rimmon in aanbidding buig, moet die Here asseblief u dienaar daarvoor vergewe.” 19Elisa het vir hom gesê: “Gaan in vrede!”
Naäman was al 'n hele ent van hom af weg, 20toe dink Gehasi, die dienaar van Elisa, die man van God: Kyk, my heer het Naäman, hierdie Arameër, lig daarvan laat afkom deur nie uit sy hand te neem wat hy gebring het nie. So waar as die Here leef, ek gaan beslis agter hom aan hardloop en iets van hom neem.
21Gehasi het Naäman agternagesit. Toe Naäman sien iemand hardloop agter hom aan, spring hy van die strydwa af om hom tegemoet te gaan en vra: “Is alles reg?” 22Hy antwoord toe: “Alles is reg. My heer het my gestuur om te sê, ‘Kyk, daar het nou net twee jong manne van die heuwelland van Efraim af by my aangekom. Hulle is van die profetegroep. Gee asseblief vir hulle 'n kikkar silwer en twee stelle klere. ’ ” 23Daarop sê Naäman: “Wees so vriendelik en aanvaar twee kikkar! ” Hy het by hom aangedring en twee kikkar silwer in twee sakke toegebind, asook twee stelle klere. Hy het dit vir twee van sy dienaars gegee, en hulle het dit voor Gehasi gedra. 24Maar toe hy by die stadsheuwel kom, het hy dit uit hulle hande geneem en veilig in die huis gebêre. Hy het die manne weggestuur, en hulle het vertrek; 25maar hy het na binne gegaan en by sy heer gaan staan. Elisa het vir hom gevra: “Vanwaar, Gehasi?” Hy het geantwoord: “U dienaar het nêrens heen gegaan nie.” 26Elisa sê toe vir hom: “Was ek nie in die gees teenwoordig toe 'n man van sy strydwa af omgedraai het om jou tegemoet te gaan nie? Was die tyd dan ryp om silwer te neem, om klere te neem, en daarmee olyfboorde en wingerde en kleinvee en beeste en slawe en slavinne te bekom? 27Die velsiekte van Naäman sal aan jou en jou nageslag kleef vir altyd.” Toe Gehasi van hom af weggaan, het hy die velsiekte gehad – soos sneeu.

Tans Gekies:

2 Konings 5: AFR20

Kleurmerk

Deel

Kopieer

None

Wil jy jou kleurmerke oor al jou toestelle gestoor hê? Teken in of teken aan

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid