Toe Elisa eendag in die stad Sunem kom, het 'n ryk vrou hom genooi om by hulle te kom eet. Hy het toe elke maal wanneer hy daar gekom het, na haar huis gegaan om te eet. Eendag het sy vir haar man gesê: “Luister na wat ek sê, die man van God is 'n gewyde man en hy kom baie maal by ons. Kom ons maak die klein bo-kamer vir hom gereed, en ons sit daar vir hom 'n bed en 'n stoel en 'n tafel en 'n lamp. Dan kan hy elke maal wanneer hy by ons kom, daar gaan bly.”
Hulle het dit toe gedoen. Eendag het Elisa gekom en hy het in die bo-kamer op die bed gaan lê. Hy sê toe vir die jongman Gehasi wat vir hom werk: “Gaan roep vir my hierdie vrou van Sunem.”
Gehasi het haar gaan roep, en sy het by die deur kom staan. Toe sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: Jy het baie gedoen om vir ons te help. Wat kan ons vir jóú doen? Kan ek vir die koning of vir die hoof van die leër iets sê oor jou?”
Die vrou het geantwoord: “Nee, ek woon by my eie mense.”
Elisa sê toe: “Ek wonder wat ek vir haar kan doen.”
En toe sê Gehasi: “Ek weet wat jy vir haar kan doen. Sy het nie 'n seun nie, en haar man is oud.”
Elisa het gesê Gehasi moet die vrou gaan roep, en sy het by die deur kom staan. Toe sê Elisa vir die vrou: “Jy sal volgende jaar hierdie tyd jou eie seun in jou arms hou.”
Die vrou het gesê: “Nee, Meneer, jy is 'n man van God, jy moenie vir my jok nie.”
Maar die vrou het swanger geword en sy het 'n seun gekry op die tyd wat Elisa gesê het.
Toe die seun groter was, het hy eendag saam met sy pa gegaan na die koringland waar die mense die koring afsny. En hy het vir sy pa gesê: “My kop is seer, my kop is seer.”
Sy pa het vir 'n jongman gesê: “Neem my seun na sy ma toe.”
Die jongman het die seun opgetel en hy het hom na sy ma toe geneem. Die seun het op haar skoot gesit tot die middag, en toe het hy gesterf. Sy ma het hom na die bo-kamer gedra en sy het hom neergesit op die man van God se bed. Sy het toe die deur gesluit en ondertoe gegaan. Toe roep sy haar man en sê: “Stuur asseblief vir my een van die jongmanne en 'n donkie, ek wil gou na die man van God toe gaan.”
Haar man het gevra: “Hoekom wil jy vandag na hom toe gaan? Dit is nie Nuwemaan-fees of Sabbatdag nie.”
Die vrou het gesê haar man moenie bekommerd wees nie. Sy het die donkie laat opsaal en vir die jongman gesê: “Jy moet die donkie vinnig jaag, jy moet net stadiger gaan wanneer ek vir jou sê.”
Toe sy by die man van God op Karmel-berg kom, het hy haar sien aankom en vir die jongman Gehasi by hom gesê: “Kyk, hier kom die vrou van Sunem. Hardloop asseblief na haar toe en vra vir haar: ‘Gaan dit goed met jou, gaan dit goed met jou man, gaan dit goed met die kind?’ ”
Die vrou het geantwoord: “Dit gaan goed.”
Maar toe sy by die man van God op die berg kom, gaan lê sy en sy hou Elisa se voete vas. Gehasi het nader gekom om haar weg te trek, maar die man van God het gesê: “Los haar, sy is baie hartseer, en die Here het dit nie vir my gewys nie, Hy het dit nie vir my gesê nie.”
Die vrou sê toe vir Elisa: “Ek het nie vir Meneer 'n seun gevra nie. Ek het gesê jy moenie vir my jok nie.”
Elisa het vir Gehasi gesê: “Jy moet jou klere vasmaak en my kierie neem en na haar huis gaan. Wanneer jy langs die pad iemand kry, dan moet jy hom nie groet nie, en wanneer hy jou groet, dan moet jy nie antwoord nie. Gaan sit dan my kierie op die seun se gesig.”
Die seun se ma het vir Elisa gesê: “Kom saam. So seker soos die Here lewe en jy lewe, ek sal nie gaan as jy nie saamgaan nie.”
Elisa het opgestaan en hy het saam met haar gegaan. Gehasi het voor hulle by die vrou se huis gekom, en hy het die kierie op die seun se gesig gesit. Maar niks het gebeur nie, die seun het nie gelewe nie. Gehasi het teruggegaan, en toe hy by Elisa kom, het hy gesê: “Die seun het nie wakker geword nie.”
Toe Elisa by die huis kom, sien hy dat die seun daar dood op die bed lê. Hy het die deur toegemaak en tot die Here gebid. Toe gaan lê hy bo-op die seun en hy sit sy mond op die seun se mond, sy oë op die seun se oë en sy hande op die seun se hande. So het hy op die seun gelê totdat die seun se liggaam warm geword het. Daarna het Elisa afgeklim van die bed en hy het een maal heen en weer geloop in die kamer. Toe het hy weer op die seun gaan lê. Die seun het sewe maal genies en hy het sy oë oopgemaak. Elisa roep toe vir Gehasi en sê: “Roep die vrou van Sunem.”
Gehasi het haar geroep, en toe sy by Elisa kom, het hy gesê: “Tel jou seun op.”
Sy het gekom en by Elisa se voete gaan lê met haar gesig teen die grond. Toe het sy haar kind opgetel en uitgegaan.