Op 'n dag het Elisa na Sunem toe gegaan.
Daar was 'n vooraanstaande vrou wat by hom daarop aangedring het om vir ete oor te bly. Elke keer as hy daar verbykom, het hy eers by haar aangegaan om te eet. Sy het vir haar man gesê: “Ek weet dit is 'n heilige man van God wat gereeld hier by ons aankom. Kom ons bou 'n klein bovertrekkie en sit vir hom 'n bed, 'n tafel, 'n stoel en 'n lamp daarin. Wanneer hy by ons aankom, kan hy daar intrek.”
Op 'n dag toe Elisa weer daar aankom, het hy in die bovertrek ingetrek en gaan rus. Hy het vir Gehasi sy slaaf gesê: “Roep bietjie die Sunemmitiese vrou.”
Gehasi het haar geroep, en toe sy voor Elisa se kamer staan, sê hy vir sy slaaf: “Sê vir haar: Jy het al hierdie moeite vir ons gedoen. Wat kan ek vir jou doen? Sal ek vir jou 'n woordjie doen by die koning of by die hoof van die leër?”
“Ek woon hier tussen my eie mense,” was haar antwoord.
Hy vra toe: “Maar kan daar nie iets vir haar gedoen word nie?” Waarop Gehasi antwoord: “Ja tog, sy het nie 'n seun nie, en haar man is al oud.”
“Roep haar hiernatoe,” sê Elisa.
Toe Gehasi haar nader roep, het sy in die deur kom staan.
Toe sê Elisa: “Hierdie tyd oor 'n jaar sal jy 'n seun in jou arms hou.”
Sy antwoord: “Nee, Meneer, u is 'n man van God, u moet tog nie vir my iets sê wat nie so kan wees nie!”
Die vrou het swanger geword en 'n seun in die wêreld gebring, presies 'n jaar later, net soos Elisa vir haar gesê het.
Toe die seun groter geword het, het hy op 'n dag na sy pa-hulle toe gegaan waar hulle besig was om te oes. Skielik het hy vir sy pa gesê: “My kop, my kop!”
Sy pa het vir 'n slaaf gesê: “Dra hom na sy ma toe.”
Die slaaf het hom na sy ma toe gedra. Hy het op haar skoot gelê tot die middag, en toe is hy dood. Sy het hom boontoe gedra en hom neergelê op die bed van die man van God, en toe sy uitgaan, het sy die deur agter haar toegetrek. Sy het haar man geroep en gesê: “Stuur tog vir my 'n slaaf en 'n donkie. Ek wil na die man van God toe gaan en gou weer terug wees.”
“Maar waarom gaan jy vandag na hom toe,” het haar man gevra, “dit is mos nie nuwemaan of sabbat nie?”
Maar sy het hom gerusgestel, die donkie opgesaal en vir haar slaaf gesê: “Jaag die donkie aan. Moenie dat hy gaan staan nie, behalwe as ek vir jou so sê.”
Sy is toe vort en het by die man van God aangekom by Karmelberg. Toe die man van God haar op 'n afstand sien aankom, sê hy vir Gehasi sy slaaf: “Dis mos die Sunemmitiese vrou daardie. Hardloop haar tegemoet en vra vir haar: Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? En met jou seun?”
Vir Gehasi het sy gesê: “Dit gaan goed,” maar toe sy by die man van God op die berg kom, het sy aan sy voete vasgeklou.
Toe Gehasi nader staan om haar weg te stoot, sê die man van God: “Los haar, sy is baie hartseer. Die Here het dit vir my verberg en vir my niks gesê nie.”
Sy sê toe vir hom: “Meneer, het ek van u 'n seun gevra? Het ek nie gesê: Moenie by my 'n valse hoop wek nie?”
Toe sê hy vir Gehasi: “Maak gou klaar, vat my kierie en vertrek. As jy iemand raakloop, moet hom nie groet nie. Gaan sit my kierie op die gesig van die seun.”
Toe sê die seun se ma: “So seker as die Here leef en u leef, ek sal u nie toelaat om agter te bly nie.”
Hy het opgestaan en saam met haar gegaan. Gehasi was voor hulle daar en hy het die kierie op die seun se gesig gesit, maar daar was geen geluid of enige teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom dat die seun nie bygekom het nie. Toe Elisa in die huis kom, het die seun daar dood gelê net soos hy op die bed neergelê was. Elisa het die kamer binnegegaan en die deur toegemaak sodat hulle alleen was. Nadat hy tot die Here gebid het, het Elisa op die bed geklim en bo-op die seun gaan lê. Hy het vol op die seun gelê met sy mond op die seun se mond, sy oë op sý oë, sy hande op sý hande, sodat die seun se liggaam warm geword het. Nadat hy 'n keer heen en weer in die huis geloop het, het hy weer op hom gaan lê. Die seun het sewe keer genies en toe sy oë oopgemaak.
Elisa het vir Gehasi geroep en hom beveel om die Sunemmitiese vrou te roep. Hy het dit gedoen en toe sy inkom, sê Elisa vir haar: “Tel jou seun op.”
Sy het ingekom en by sy voete op haar knieë geval en gebuig. Toe tel sy haar kind op en gaan uit.