Op ’n keer het Elisa na die dorp Sunem toe gegaan. Daar het ’n baie welgestelde vrou gewoon. Sy het by hom aangedring om by hulle te kom eet. Van toe af het hy elke keer wanneer hy daar verbygegaan het daar geëet.
Na ’n tyd sê sy vir haar man: “Ek dink die man wat dikwels hier by ons aankom, is ’n heilige man van God. Kom ons bou vir hom ’n dakkamertjie en meubileer dit met ’n bed, ’n tafel, ’n stoel en ’n lamp. Dan kan hy daarin oorbly wanneer hy hierlangs kom.”
Eendag kom Elisa weer daar aan en kon na die dakkamer toe gaan om daar te rus. Hy sê toe vir sy dienaar Gehasi: “Gaan roep die Sunemmitiese vrou.” Toe sy daar aankom, sê Elisa vir Gehasi: “Sê vir haar: ‘Ons waardeer al die moeite wat jy vir ons gedoen het. Maar wat kan ons vir jou doen? Moet ek dalk ’n goeie woordjie vir jou by die koning doen, of dalk by die hoof van die leër?’”
“Nee,” antwoord sy. “Ek is gelukkig tussen my mense wat vir my omgee.”
Elisa vra: “Is daar nie tog iets wat ons vir haar kan doen nie?”
Gehasi sê toe: “Sy het nie ’n seun nie en haar man is al oud.”
“Gaan roep haar weer,” sê Elisa vir hom. Toe die vrou terugkom, sê Elisa vir haar terwyl sy in die deur staan: “Volgende jaar hierdie tyd sal jy ’n seun in jou arms vashou!”
“Nee, Meneer!” maak sy beswaar. “Asseblief, man van God, moenie vir my onwaarhede vertel nie.” Maar die vrou hét swanger geword. ’n Jaar later het sy ’n seun in die wêreld gebring net soos Elisa vir haar gesê het.
Toe die kind groter geword het, het hy op ’n keer na sy pa toe gegaan waar hy en die werkers besig was om te oes. Skielik roep hy: “My kop! My kop!”
Sy pa sê toe vir een van die werkers: “Dra hom na sy ma toe.”
Die dienaar het hom huis toe geneem en sy ma het hom op haar skoot vasgehou. Teen die middag het hy egter gesterf. Sy dra hom toe boontoe en lê hom op die bed van die man van God neer, gaan uit en trek die deur toe. Toe roep sy haar man en vra: “Stuur tog een van die werkers en ’n donkie sodat ek na die man van God toe kan gaan en gou weer kan terugkom.”
“Hoekom wil jy dan vandag gaan?” wil hy weet. “Dit is tog nie ’n Nuwemaanfees of ’n Sabbat nie!”
Maar sy sê: “Alles is reg.” Sy saal die donkie op en sê vir die dienaar: “Maak gou! Jaag die donkie aan en moenie stadiger gaan tensy ek vir jou sê nie.”
Sy gaan toe en het by die man van God, by Karmelberg, aangekom. Die man van God het haar in die verte sien aankom. Hy sê vir Gehasi: “Kyk, dis die vrou uit Sunem. Hardloop haar tegemoet en vra haar: ‘Gaan dit goed met jou? Gaan dit goed met jou man? Gaan dit goed met jou seun?’”
“Dit gaan goed,” sê die vrou vir Gehasi.
Maar toe sy by die man van God op die berg kom, val sy op die grond voor hom en gryp sy voete.
Gehasi probeer om haar weg te stoot, maar die man van God sê: “Laat haar met rus! Sy is diep bedroef en die HERE het dit nie vir my bekendgemaak nie.”
Toe sê sy: “Meneer, het ek u gevra vir ’n seun? Het ek dan nie gesê u moenie vir my valse hoop gee nie?”
Elisa sê toe vir Gehasi: “Maak jou gereed. Vat my kierie in jou hand en gaan. Moenie met enigiemand op die pad praat of hom groet nie. Gaan gou en sit die kierie op die seun se gesig.”
Maar die seun se ma sê: “So seker as die HERE leef en u self ook leef, ek sal nie huis toe gaan tensy u met my saamgaan nie.” Elisa het toe opgestaan en saam met haar gegaan.
Gehasi het vooruitgegaan en die kierie op die kind se gesig gesit, maar daar was geen teken van lewe nie. Hy gaan toe terug na Elisa toe en sê vir hom: “Die seun het nie wakker geword nie.”
Toe Elisa daar aankom, het die kind nog dood op die profeet se bed gelê. Hy het alleen ingegaan, die deur agter hulle twee toegemaak en tot die HERE gebid. Toe gaan lê hy op die seun met sy mond op dié van die seun, sy oë op die seun s’n en sy hande op die kind s’n. Die seun se liggaam het begin warm word! Elisa staan toe op en stap ’n paar keer heen en weer in die kamer. Toe gaan lê hy weer op die seun. Hierdie keer het die seun sewe keer genies en sy oë oopgemaak!
Elisa beveel toe vir Gehasi: “Gaan roep die Sunemmitiese vrou!” Toe sy inkom, sê Elisa: “Hier, vat jou seun!” Sy kom toe in, val voor hom neer en buig voor hom, oorstelp van dankbaarheid. Sy het haar seun opgetel en hom ondertoe gedra.