2 KONINGS 3:1-27
2 KONINGS 3:1-27 Afrikaans 1983 (AFR83)
Joram seun van Agab het in Samaria koning oor Israel geword in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda. Hy was twaalf jaar lank koning. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here, maar nie so erg soos sy pa en ma nie: hy het darem die klippilaar van Baäl wat deur sy pa gemaak is, verwyder. Tog het hy volhard in die sondes wat Jerobeam seun van Nebat vir Israel laat doen het; hy het dit nie laat vaar nie. Koning Mesa van Moab was 'n skaapboer wat honderd duisend lammers en die wol van honderd duisend ramme aan die koning van Israel moes lewer. Toe Agab dood is, het die koning van Moab teen die koning van Israel gerebelleer. Koning Joram het onmiddellik uit Samaria vertrek en die hele Israel onder die wapen gebring. Hy het aan koning Josafat van Juda die volgende boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Gaan jy hom saam met my aanval?” Josafat het geantwoord: “Ek sal saam met jou opruk. Ek en jy is een. My manskappe is jou manskappe, en my perde is jou perde.” “Met watter pad sal ons opruk?” het Joram gevra. “Met die pad deur die Edomwoestyn,” het Josafat geantwoord. Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het saam opgetrek. Nadat hulle sewe dae gevorder het, was daar nie meer water vir die manskappe en vir die diere by hulle nie. Toe sê die koning van Israel: “Helaas, die Here het hierdie drie konings geroep net om hulle in die mag van Moab oor te gee.” Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die Here deur wie ons die Here kan raadpleeg nie?” Een van die amptenare van die koning van Israel het geantwoord: “Elisa seun van Safat is hier. Hy het sy opleiding by Elia gekry.” Toe het Josafat gesê: “Die woord van die Here is by Elisa.” Daarna het Josafat en die konings van Israel en Edom na Elisa toe gegaan. Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Het ons nog iets vir mekaar te sê? Gaan na die profete van jou pa en jou ma toe.” Maar die koning van Israel het vir hom gesê: “Nee, dit is tog die Here wat hierdie drie konings geroep het net om hulle in die mag van Moab oor te gee.” Elisa het geantwoord: “So seker as die Here die Almagtige lewe, in wie se diens ek is, as dit nie was dat ek agting het vir die persoon van koning Josafat van Juda nie, sou ek my nie eens verwerdig het om na jou te kyk nie. Bring nou vir my 'n lierspeler.” Terwyl die lierspeler gespeel het, het die mag van die Here vir Elisa in besit geneem, en hy het gesê: “So sê die Here: Daar sal damme en damme water in hierdie vallei staan. Kyk, so sê die Here: Julle sal nie wind of reën sien nie, en tog sal hierdie vallei vol water word, sodat julle en julle slagvee en julle pakdiere kan drink. Vir die Here is dit maar iets gerings om te doen: Hy sal ook vir Moab in julle mag oorgee. Julle sal al hulle vestingstede, die uitsoekstede, inneem, al die mooi bome uitkap, al die fonteine toestop, en al die mooi lande vol klippe gooi.” Die volgende môre, teen die tyd dat die offer gewoonlik gebring word, het daar onverwags water uit die rigting van Edom gekom, en die hele gebied het vol water geloop. Die Moabiete het verneem dat die konings opruk om teen hulle te veg. Almal wat bewapen kon word, jonk en oud, is opgekommandeer en het by die grens gaan stelling inneem. Toe hulle vroeg die volgende môre opstaan, net toe die son opkom oor die water, sien die Moabiete die water oorkant hulle, rooi soos bloed. “Dis bloed!” het hulle geskree. “Die konings het met mekaar begin veg en mekaar doodgemaak. Storm op die buit af, Moabiete!” Toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, het die Israeliete hulle aangeval en verslaan. Die Israeliete het die Moabiete voor hulle uit op die vlug gedryf, Moab binnegedring en dit verwoes. Hulle het die stede in puin gelê en elke bewerkbare stuk grond met klippe besaai: elkeen het 'n klip gegooi om dit vol klippe te kry. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom afgekap. Uiteindelik het net Kir-Geres oorgebly. Die soldate met slingervelle het die stad omring en dit ingeneem. Toe die koning van Moab sien dat hy die geveg gaan verloor, het hy sewe honderd man wat met swaarde bewapen was, gevat in 'n poging om by die koning van Edom deur te breek, maar hulle kon nie. Toe vat die koning van Moab sy oudste seun wat in sy plek sou koning word en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Dit het die Israeliete so geskok dat hulle daarvandaan vertrek en na hulle land toe teruggegaan het.
2 KONINGS 3:1-27 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Joram, seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaria in die agttiende regeringsjaar van Josafat, koning van Juda. Hy het twaalf jaar lank regeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, maar nie so erg soos sy vader en sy moeder nie. Hy het wel die gedenksteen van Baäl wat sy vader gemaak het, verwyder. Maar aan die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het, het hy vasgeklou. Hy het daarvan nie afgewyk nie. Mesa, die koning van Moab, was 'n skaapteler. Hy moes honderdduisend lammers en honderdduisend ramme se wol aan die koning van Israel lewer. Net ná Agab se dood het die koning van Moab hom verset teen die koning van Israel. Koning Joram het dieselfde dag nog uit Samaria uitgetrek en die hele Israel gemonster. Hy het ook gegaan en vir Josafat, koning van Juda, 'n boodskap gestuur: “Die koning van Moab verset hom teen my. Trek jy saam met my teen Moab op vir die geveg?” Hy het geantwoord: “Ek sal optrek. Ek is soos jy; my volk is soos jou volk; my perde soos jou perde.” “Met watter pad sal ons optrek?” het Joram gevra. “Met die pad deur die woestyn van Edom, ” het Josafat geantwoord. Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het vertrek, maar nadat hulle sewe dae lank met 'n ompad getrek het, was daar nie meer water oor vir die leër of die diere by hulle nie. Die koning van Israel sê toe: “Ag, die HERE het hierdie drie konings ontbied om hulle oor te gee in die hand van Moab!” Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die HERE, sodat ons deur hom die HERE kan raadpleeg nie?” Een van die koning van Israel se dienaars antwoord toe en sê: “Elisa, seun van Safat, wat water gegooi het op Elia se hande, is hier.” Daarop sê Josafat: “By hom is die woord van die HERE!” Toe gaan die koning van Israel en Josafat en die koning van Edom af na hom toe. Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Ek het met jou niks te doen nie. Gaan na die profete van jou pa en jou ma!” Maar die koning van Israel sê vir hom: “Nee, want die HERE het hierdie drie konings ontbied om hulle oor te gee in die hand van Moab.” Daarop antwoord Elisa: “So waar as die HERE, Heerser oor alle magte, leef, Hy in wie se diens ek staan, as dit nie was dat ek Josafat, koning van Juda, in ag neem nie, sou ek nie eers na jou gekyk of jou raakgesien het nie. Bring dan nou vir my iemand wat 'n snaarinstrument bespeel.” Toe die persoon op die snaarinstrument begin speel, het die hand van die HERE oor hom gekom, en het hy gesê: “So sê die HERE, ‘Maak oral kuile in hierdie droë loop!’ Ja, so sê die HERE, ‘Julle sal geen wind of reën sien nie, maar hierdie droë loop sal vol water word, sodat julle, julle vee en julle ander diere sal drink. En dit sal 'n kleinigheid wees in die oë van die HERE. Hy gaan Moab ook in julle hand gee. Julle sal elke versterkte stad, elke uitsoekstad, verslaan; julle sal elke goeie boom vel, al die waterfonteine toestop en elke goeie stuk land onbruikbaar maak met klippe.’ ” Die volgende oggend, op die tyd wanneer die •graanoffer gebring word, kom daar toe skielik water uit die rigting van Edom! Die gebied is met water gevul. Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings optrek om teen hulle oorlog te voer. Elkeen wat al 'n swaard kon aangord, en ouer, is opgeroep en het by die grens stelling ingeneem. Hulle het vroeg die oggend opgestaan, en toe die son op die water skyn, sien die Moabiete die water van die ander kant af – rooi soos bloed. Hulle sê toe: “Dit is bloed! Die konings het beslis met mekaar geveg en die een het die ander verslaan! Nou, na die buit, Moabiete!” Maar toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, staan die Israeliete op en verslaan die Moabiete. Hulle het voor die Israeliete uit gevlug. Hulle het die land binnegedring en die Moabiete verslaan. Die stede het hulle afgebreek, en op elke goeie stuk land het elkeen 'n klip gegooi, en dit so vol klippe gemaak. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom het hulle gevel, totdat net die klipmuur by Kir-Geres oorgebly het. Toe dié wat met slingervelle gooi, die stad omsingel en aanval, en die koning van Moab sien dat die geveg vir hom te hewig raak, het hy sewehonderd man, gewapen met swaarde, met hom saamgeneem om deur te breek na die koning van Edom, maar hulle kon nie. Hy neem toe sy eersgebore seun, wat in sy plek koning sou word, en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Toe breek daar 'n verskriklike oordeel los oor Israel, en Israel het van Mesa af weggetrek en teruggekeer na hulle land.
2 KONINGS 3:1-27 Bybel vir almal (ABA)
Joram seun van Agab het in Samaria koning van Israel geword in die agtiende jaar nadat Josafat koning van Juda geword het. Joram was twaalf jaar lank koning. Hy het dinge gedoen waarvan die Here nie hou nie, maar dit was nie so sleg soos die dinge wat sy pa en sy ma gedoen het nie. Hy het die klip-paal van Baäl weggevat. Dit was die klip-paal wat sy pa laat maak het. Maar hy het aangehou om die sondes te doen wat Jerobeam seun van Nebat gedoen het. Jerobeam het die Israeliete ook daardie sondes laat doen. Koning Mesa van Moab was 'n skaapboer. Hy moes elke jaar vir die koning van Israel 100 000 lammers en die wol van 100 000 skaap-ramme gee. Maar ná die dood van Agab het die koning van Moab opstandig geword teen die koning van Israel. Koning Joram het toe uit Samaria gegaan en hy het al die manne van Israel laat kom om oorlog te maak. Hy het ook 'n boodskap gestuur na koning Josafat van Juda en gevra: “Die koning van Moab het opstandig geword teen my. Sal jy saam met my teen die Moabiete gaan oorlog maak?” Josafat het geantwoord: “Ek sal saamgaan. Ek sal by jou wees, my manne sal by jou manne wees, en my perde by jou perde. Maar op watter pad sal ons gaan?” Joram het geantwoord: “Op die pad na die woestyn van Edom.” Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het toe deur die woestyn gegaan, maar ná sewe dae was daar nie meer water vir die manne en die diere wat by hulle was nie. Die koning van Israel sê toe: “Ek dink die Here het ons drie geroep om ons vir die Moabiete te gee.” Maar toe sê Josafat: “Is hier 'n profeet van die Here? Dan kan ons vir die Here vra wat sal gebeur.” Een van die koning van Israel se amptenare het geantwoord: “Ja, Elisa seun van Safat is hier. Hy is die man wat vir Elia bedien het.” Josafat sê toe: “Ons kan vir Elisa vra wat die Here sê.” Die drie konings het toe na Elisa toe gegaan. Maar Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Hoekom kom jy na mý toe? Gaan na jou pa en jou ma se profete toe.” Die koning van Israel sê toe: “Nee, want ek dink die Here het ons drie konings geroep om ons vir die Moabiete te gee.” Elisa het gesê: “So seker soos die Here lewe, die Here wat oor alles regeer, die Here vir wie ek werk, ek sou nie na jou gekyk het nie, en ek sou jou nie gesien het nie. Maar ek respekteer vir Josafat koning van Juda, daarom sal ek doen wat jy vra. Maar bring vir my iemand wat op 'n lier kan speel.” Hulle het iemand gebring, en terwyl die man op die lier gespeel het, het die Here met Elisa gepraat. Elisa het toe gesê: “Die Here sê: Ek sal hierdie vallei vol water maak. Ja, die Here sê: Daar sal nie wind of reën wees nie, maar hierdie vallei sal vol water word, en julle en julle diere sal water hê om te drink. En dit is vir die Here maklik om dit te doen. Hy sal julle ook laat wen teen die Moabiete. Julle sal al die stede wat sterk mure het, oorwin. Julle sal al die belangrike stede afbreek en die vrugtebome afkap en die fonteine toemaak, en die vrugbare grond vol klippe gooi.” En die volgende oggend, die tyd wanneer die priesters die koring-offer moet bring, kom daar skielik water van Edom af, en die land het vol water geword. Al die Moabiete het gehoor dat die drie konings wil kom oorlog maak teen hulle, en hulle het al die manne geroep wat kon veg. Hulle het by die grens van die land gaan staan. Toe hulle vroeg die volgende oggend opstaan, het die son op die water geskyn, en die Moabiete het gedink die water is rooi van die bloed. Hulle het gesê: “Dit is bloed. Die drie konings het miskien teen mekaar begin veg en hulle het mekaar se manne doodgemaak. Kom, Moabiete, ons moet hulle goed gaan vat!” Maar toe die Moabiete by die tente van die Israeliete kom, het die Israeliete hulle aangeval en oorwin. Die Moabiete het gevlug. Die Israeliete het verder in die land Moab ingegaan en hulle het die Moabiete daar oorwin. Die Israeliete het die stede verwoes. Hulle het al die vrugbare grond vol klippe gegooi en al die fonteine toegemaak en al die vrugtebome afgekap. Later het net een stad se mure bly staan, dit was Kir-Gareset. Maar die manne wat met slingervelle gooi, het die stad van al die kante aangeval en hulle het dit oorwin. Toe die koning van Moab sien dat die drie konings sy manne oorwin, het hy 700 manne wat met swaarde veg, saam met hom geneem. Hulle het probeer om tussen die manne van die drie konings deur te gaan tot by Edom, maar hulle het dit nie reggekry nie. Toe vat die koning van Moab sy oudste seun wat ná hom koning sou word, en hy offer hom op die muur. Hy het hom heeltemal verbrand. Die Israeliete was só geskok en ontsteld dat hulle weggegaan het, terug na hulle land.
2 KONINGS 3:1-27 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
EN Joram, die seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaría in die agttiende jaar van Jósafat, die koning van Juda, en hy het twaalf jaar geregeer. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE, maar nie soos sy vader en sy moeder nie, want hy het die klippilaar van Baäl verwyder wat sy vader gemaak het. Maar hy het die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het, aangekleef sonder om daarvan af te wyk. En Mesa, die koning van Moab, was 'n skaapboer, en hy het aan die koning van Israel gelewer honderdduisend lammers en honderdduisend ramme se wol. Maar ná die dood van Agab het die koning van Moab van die koning van Israel afvallig geword. En in dieselfde tyd het koning Joram uit Samaría uitgetrek en die hele Israel gemonster. Ook het hy Jósafat, die koning van Juda, laat weet: Die koning van Moab het van my afvallig geword; sal u saam met my trek om teen die Moabiete te veg? En hy antwoord: Ek sal optrek; ek sal wees soos u, my volk soos u volk, my perde soos u perde. En hy vra: Met watter pad sal ons optrek? Toe antwoord hy: Met die pad deur die woestyn van Edom. So het die koning van Israel dan getrek en die koning van Juda en die koning van Edom; maar nadat hulle 'n pad van sewe dae omgetrek het, was daar geen water vir die leër en die vee wat in hulle voetspore gevolg het nie. Toe sê die koning van Israel: Ag, die HERE het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee! En Jósafat vra: Is hier nie 'n profeet van die HERE, dat ons deur hom die HERE kan raadpleeg nie? Toe antwoord een van die koning van Israel se dienaars en sê: Hier is Elísa, die seun van Safat, wat water op die hande van Elía gegiet het. Daarop sê Jósafat: By hom is die woord van die HERE. So het die koning van Israel en Jósafat en die koning van Edom dan na hom afgegaan. Maar Elísa het aan die koning van Israel gesê: Wat het ek met u te doen? Gaan na die profete van u vader en die profete van u moeder! Maar die koning van Israel antwoord hom: Ag nee, want die HERE het hierdie drie konings geroep om hulle in die hand van die Moabiete te gee. En Elísa sê: So waar as die HERE van die leërskare leef voor wie se aangesig ek staan, as ek nie agting gehad het vir die persoon van Jósafat, die koning van Juda, nie, ek sou na u nie kyk en u nie aansien nie. Maar bring nou vir my 'n siterspeler. En toe die siterspeler op die snare speel, het die hand van die HERE op hom gekom, en hy het gesê: So spreek die HERE: Maak hierdie dal vol gate. Want so spreek die HERE: Julle sal geen wind sien nie, en julle sal geen reën sien nie, en tog sal hierdie dal vol water word, sodat julle self en julle vee en julle ander diere kan drink. Ja, dit is nog te gering in die oë van die HERE: Hy sal ook die Moabiete in julle hand gee. En julle sal elke versterkte stad en elke uitgesoekte stad oorweldig en elke goeie boom omkap en al die waterfonteine toestop, en elke goeie stuk grond sal julle met klippe bederwe. En die volgende môre, omtrent die tyd dat hulle die spysoffer bring, kom daar meteens water van die kant van Edom af, sodat die land vol water geword het. En toe al die Moabiete hoor dat die konings optrek om teen hulle te veg, is hulle opgeroep, almal wat die gord vasgespe en wat ouer was, en hulle het by die grens gaan staan. Terwyl hulle die môre vroeg hul gereedmaak en die son oor die water opgaan, sien die Moabiete op 'n afstand die water rooi soos bloed. En hulle sê: Dit is bloed; die konings het sekerlik mekaar aangeval en die een die ander verslaan; en nou op die buit af, julle Moabiete! Maar toe hulle by die laer van Israel kom, het die Israeliete hulle gereedgemaak en die Moabiete verslaan, sodat hulle voor hul uit gevlug het; en hulle het dieper ingetrek en die Moabiete verslaan. Daarna het hulle die stede verwoes en op elke goeie stuk grond elkeen sy klip gegooi, sodat dit daarvan vol was, en elke waterfontein toegestop en elke goeie boom omgekap, totdat hulle net in Kir-Haréset die klipmure daarvan laat oorbly het. Maar toe die slingeraars dit omsingel en beskiet, en die koning van Moab sien dat die geveg vir hom te swaar word, het hy sewehonderd man wat die swaard uittrek, met hom saamgeneem om na die koning van Edom deur te breek; maar hulle kon nie. Daarop neem hy sy eersgebore seun, wat in sy plek koning sou word, en offer hom as brandoffer op die muur. Toe het 'n groot toorn oor Israel gekom, sodat hulle van hom weggetrek en na hulle land teruggegaan het.
2 KONINGS 3:1-27 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En Joram, die seun van Agab, het in Samaría oor Israel begin regeer, die agtiende jaar van Jósafat, die koning van Juda, en hy het twaalf jaar geregeer. En hy het gedoen wat verkeerd was in die oë van die HERE; maar nie soos sy vader en soos sy moeder nie, want hy het die beeld van Baäl wat sy vader gemaak het, verwyder. Maar hy het vasgehou aan die sondes van Jeróbeam, die seun van Nebat, wat Israel laat sondig het; hy het nie daarvan weggegaan nie. En Mesa, die koning van Moab, was 'n skaapwagter en het aan die koning van Israel honderdduisend lammers en honderdduisend ramme saam met die wol teruggegee. Maar toe Agab dood was, het die koning van Moab in opstand gekom teen die koning van Israel. En koning Joram het in dieselfde tyd uit Samaria uitgetrek en die hele Israel getel. En hy het gegaan en na Jósafat, die koning van Juda, gestuur om te sê: Die koning van Moab het teen my in opstand gekom; wil jy saam met my teen Moab trek om te veg? En hy sê: Ek sal optrek: Ek is soos jy, my volk soos jou volk en my perde soos jou perde. En hy sê: Watter pad moet ons opgaan? En hy antwoord: Die pad deur die woestyn van Edom. Toe het die koning van Israel en die koning van Juda en die koning van Edom gegaan, en hulle het 'n langpad van sewe dae se reis gaan haal, en daar was geen water vir die leër en vir die vee wat hulle gevolg het nie. Toe sê die koning van Israel: Ag! dat die HERE hierdie drie konings bymekaargeroep het om hulle in die hand van Moab te gee! Maar Jósafat sê: Is hier nie 'n profeet van die HERE, dat ons die HERE deur hom kan raadpleeg nie? En een van die dienaars van die koning van Israel het geantwoord en gesê: Hier is Elisa, die seun van Safat, wat water in die hande van Elía gegooi het. En Jósafat sê: Die woord van die HERE is met hom. Toe het die koning van Israel en Jósafat en die koning van Edom na hom afgegaan. Toe sê Elísa aan die koning van Israel: Wat het ek met jou te doen? gaan na die profete van jou vader en na die profete van jou moeder. Toe sê die koning van Israel vir hom: Nee, want die HERE het hierdie drie konings bymekaargeroep om hulle in die hand van Moab te gee. Toe sê Elísa: So waar as die HERE van die leërskare leef voor wie ek staan, waarlik, as ek nie die teenwoordigheid van Jósafat, die koning van Juda, aanskou het nie, sou ek nie na jou kyk en jou nie sien nie. Maar bring nou vir my 'n predikant. En toe die predikant speel, het die hand van die HERE op hom gekom. En hy sê: So spreek die HERE: Maak hierdie dal vol slote. Want so sê die HERE: Julle sal geen wind sien en geen reën sien nie; maar daardie dal sal vol water word, dat julle kan drink, julle sowel as julle vee en julle vee. En dit is maar 'n ligte ding in die oë van die HERE: Hy sal ook die Moabiete in julle hand gee. En julle sal elke omheinde stad en elke uitgesoekte stad verslaan en elke goeie boom omkap en al die waterfonteine toestop en elke goeie stuk grond met klippe vernietig. En in die môre toe die spysoffer gebring is, kom daar water op die pad na Edom, en die land was vol water. En toe al die Moabiete hoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg, het hulle almal bymekaargemaak wat wapenrusting kon aantrek, en daarbo, en op die grens gaan staan. En hulle het die môre vroeg opgestaan, en die son het oor die water geskyn, en die Moabiete het die water oorkant gesien so rooi soos bloed. Toe sê hulle: Dit is bloed: die konings is sekerlik gedood, en hulle het mekaar verslaan; nou dan, Moab, om te buit. En toe hulle by die laer van Israel kom, het die Israeliete hulle klaargemaak en die Moabiete verslaan, sodat hulle voor hulle uit gevlug het; maar hulle het uitgetrek en die Moabiete verslaan, in hulle land. En hulle het die stede afgebreek en op elke goeie stuk grond elkeen sy klip gegooi en dit gevul; en hulle het al die waterputte toegemaak en al die goeie bome afgekap maar die slingers het rondgegaan en dit verslaan. En toe die koning van Moab sien dat die geveg vir hom te swaar was, het hy sewe honderd man wat swaarde uittrek, saamgeneem om tot by die koning van Edom deur te breek, maar hulle kon nie. Toe het hy sy oudste seun wat in sy plek moes regeer, geneem en hom as brandoffer op die muur geoffer. En daar was groot verontwaardiging teen Israel, en hulle het van hom af weggetrek en na hul land teruggekeer.
2 KONINGS 3:1-27 Die Boodskap (DB)
Israel se nuwe koning was Joram, nog ’n seun van Agab. Hy het koning geword toe Josafat van Juda al agtien jaar lank koning was. Joram het vir twaalf jaar in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met die manier waarop hy regeer het nie, maar hy was ten minste nie so erg soos sy ouers, Agab en Isebel, nie. Hy het darem die gedenksteen wat Agab vir die afgod Baäl opgerig het, laat wegneem. Maar hy het nie alles reg gedoen nie. Hy het aangehou om die verkeerde dinge te doen waarmee koning Jerobeam begin het. Koning Mesa van Moab en sy mense was skaapboere. Hulle het jaarliks belasting van 100 000 lammers en 100 000 skape se wol aan Israel betaal. Dit was die bewys van hulle lojaliteit aan Israel. Ná Agab se dood het Mesa teen Israel gerebelleer. Joram het dadelik saam met sy soldate van Samaria af vertrek om teen die Moabiete te gaan veg. Hy het ook vir Josafat, koning van Juda, ’n boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my in opstand gekom. Sal jy saam met my teen die Moabiete gaan veg?” Josafat het geantwoord: “Natuurlik gaan ek saam. Ons is bondgenote. Jy kan my soldate en perde by joune tel.” Joram vra toe: “Watter roete moet ons neem?” Josafat het laat weet: “Die pad deur die Edomwoestyn is die beste.” Die konings van Israel en Juda het met hulle leërs vertrek. Die koning van Edom het ook met sy leër kom help. Na ’n week se opmars deur die woestyn was hulle egter diep in die moeilikheid. Daar was nie meer water vir mens of dier nie. Koning Joram was ontsteld. Hy het gesê: “Ons moes die veldtog nooit onderneem het nie! Die Here het ons net hier bymekaargebring om ons drie konings in die Moabiete se mag oor te gee.” Josafat het egter gevra: “Is hier niemand onder die soldate wat ’n boodskapper van die Here is nie? As daar so iemand is, kan ons deur hom laat vra wat die Here se plan met ons is.” Een van die Israelitiese offisiere het gesê: “Elisa, Safat se seun, is hier. Hy het vroeër ten nouste saam met Elia gewerk.” “Kom ons gaan na hom toe,” het Josafat gesê, “die Here sal deur hom met ons praat.” Die drie konings het toe na Elisa toe gegaan. Elisa het egter vir Joram gesê: “Ek wil niks met jou te doen hê nie. Gaan na jou pa en ma se profete toe. Hulle het mos ander gode gedien.” Joram het geantwoord: “Dit sal nie help nie. Dit was juis die Here wat ons drie hierheen laat kom het sodat die Moabiete ons kan oorwin!” Elisa het toe geantwoord: “Ek praat in die Naam van die Here, die Groot Bevelvoerder. Ek sal die Here net raadpleeg omdat ek sulke hoë agting vir Josafat het. As dit net jy was, sou ek nie eens na jou geluister het nie. Bring nou iemand om musiek te maak sodat ek die Here kan raadpleeg.” Terwyl die musiek gespeel het, het die Here se krag Elisa gevul. Hy het gesê: “Die Here sê: Maak gate hier in die droë vallei. Dit sal binnekort vol water staan. Sonder dat julle die wind hoor waai of reën sien val, sal hier genoeg water vir julle en al die diere wees. Maar dit is net ’n kleinigheid vir die Here. Hy sal julle ook die Moabiete laat oorwin. Julle sal al hulle mooi en versterkte stede inneem. Julle sal al die goeie bome afkap, al die putte opvul en al die bruikbare landerye met klippe bederf.” Die volgende oggend was dit toe ook so: teen die tyd van die oggendoffer het daar soveel water van Edom se kant af gekom dat die hele gebied onder water was. Die Moabiete het intussen gehoor dat die konings van Israel, Juda en Edom op pad was om teen hulle te veg. Hulle het elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle na die front toe gestuur. Toe hulle daardie oggend opstaan, het die son oor die water geskyn; dit het soos bloed gelyk. Die Moabiete het vir mekaar gesê: “Dit is bloed daardie! Die drie leërs het seker onder mekaar begin veg en mekaar uitgewis. Kom ons gaan maak die buit bymekaar!” Toe hulle egter by die Israeliete se kamp kom, het die Israeliete hulle aangeval. Die Moabiete het omgespring en probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agtervolg en oorwin. Hulle het die stede vernietig, die landerye vol klippe gegooi, al die putte toegestop en al die goeie bome afgekap. Later het net Kir-Geres, met ’n klipmuur rondom, oorgebly. Dit was egter reeds omsingel en is met klippe bestook. Toe die koning van Moab sien hoe benard hulle situasie was, het hy 700 soldate gevat en probeer deurbreek waar die Edomiete gestaan het. Hulle kon egter nie daarin slaag om uit te kom nie. Toe vat hy sy oudste seun, wat hom as koning sou opvolg, en verbrand hom as offer op die stad se muur. Die woede wat hierdie offer veroorsaak het, het die Israeliete laat onttrek en hulle na hulle land laat teruggekeer.
2 KONINGS 3:1-27 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Agab se seun Joram het in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda koning van Israel geword. Hy het twaalf jaar in Samaria regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die HERE, maar hy was nie so boos soos sy pa en ma nie. Hy het ten minste die klippilaar wat sy pa ter ere van Baäl opgerig het, afgebreek. Tog het hy voortgegaan met die sonde van afgodery waarmee Jerobeam die seun van Nebat die volk Israel verlei het. Hy het hom nie daarvan bekeer nie. Koning Mesa van Moab en sy onderdane was skaapboere. Hulle het aan die koning van Israel ’n jaarlikse belasting van 100 000 lammers en die wol van 100 000 ramme betaal. Na Agab se dood het Moab egter teen die koning van Israel in opstand gekom. Koning Joram het toe die leër van Israel opgekommandeer en uit Samaria opgeruk. Hy stuur toe ook die volgende boodskap aan koning Josafat van Juda: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Sal jy saam met my teen hom veg?” Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek is saam met jou in die saak! My soldate is tot jou beskikking, soos ook my perde.” Hy vra toe: “Met watter pad sal ons gaan?” “Ons sal hulle uit die woestyn van Edom aanval,” kom die antwoord. Die koning van Edom en sy leër het ook saam met hulle opgetrek. Al drie leërs het met ’n ompad sewe dae lank deur die woestyn getrek. Maar daar was geen water vir die soldate of hulle pakdiere nie. “Wat sal ons nou maak?” sê die koning van Israel. “Die HERE het ons drie hier in die moeilikheid gebring sodat die koning van Moab ons kan verslaan.” Maar koning Josafat van Juda vra: “Is daar nie ’n profeet van die HERE saam met ons nie? As hier een is, kan ons die HERE deur hom vra wat ons moet doen.” Een van koning Joram se offisiere antwoord hom: “Elisa seun van Safat is hier. Hy was Elia se persoonlike dienaar.” Josafat sê toe: “Die HERE praat deur hom.” Die konings van Israel, Juda (naamlik Josafat) en Edom het Elisa gaan raadpleeg. “Ek wil niks met jou te doen hê nie,” sê Elisa vir die koning van Israel. “Gaan na jou pa en ma se profete!” Maar koning Joram antwoord: “Nee! Die HERE het ons drie konings hiernatoe laat kom om ons aan die koning van Moab oor te lewer.” Elisa antwoord: “So seker as die HERE, die Almagtige, leef, Hy vir wie ek dien, ek sou my nie eens aan jou gesteur het nie as dit nie was vir die respek wat ek vir koning Josafat van Juda het nie. Laat iemand wat die lier kan speel, hiernatoe kom.” Terwyl iemand op die lier speel, kom die krag van die HERE oor Elisa. Hy sê: “Dit is wat die HERE sê: Hierdie droë vallei sal met poele water gevul word. Julle sal nie wind of reën sien nie, sê die HERE, maar hierdie vallei sal vol water word. Julle sal genoeg hê vir julleself en vir julle beeste en ander diere. Dis nog maar die minste wat die HERE sal doen. Hy sal vir julle ook die oorwinning oor die leër van Moab gee. Julle sal uitsoekstede verower, selfs die versterkte stede. Julle sal al die mooi bome afkap, hulle fonteine toestop en hulle landerye met klippe verniel.” En dit was ook so. Die volgende dag teen die tyd van die oggendoffer het daar skielik water gekom! Dit het uit die rigting van Edom aangestroom sodat daar gou-gou oral water was. Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Hulle het toe elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle al langs die grens laat stelling inneem. Toe hulle die oggend opstaan, het die son oor die water geskyn sodat dit so rooi soos bloed gelyk het. “Dit is bloed!” roep die Moabiete uit. “Die konings het mekaar aangeval en maak nou mekaar dood! Kom, laat ons die buit gaan plunder!” Toe hulle die kamp van die Israeliete bereik, het die leër van Israel op hulle afgestorm en die Moabiete aangeval sodat hulle omgedraai en gevlug het. Die leër van Israel het hulle tot in die land van Moab agtervolg en op hulle pad alles vernietig. Hulle het die stede verwoes, die landerye met klippe bestrooi deurdat elke manskap ’n klip daarop gegooi het. Hulle het ook die fonteine toegestop en al die bruikbare bome afgekap. Uiteindelik was net Kir-Geres oor. Maar die soldate met slingervelle het die stad omsingel en dit ingeneem. Toe die koning van Moab besef dat hy besig was om die oorlog te verloor, het hy 700 van sy soldate teen die koning van Edom gelei in ’n desperate poging om deur die vyandelike linies te breek, maar hulle kon dit nie doen nie. Toe vat hy sy oudste seun wat hom sou opvolg en offer hom as ’n brandoffer op die stadsmuur. Dit was vir Israel so afskuwelik dat hulle teruggetrek het na hulle eie land toe.