Agab se seun Joram het in die agtiende regeringsjaar van koning Josafat van Juda koning van Israel geword. Hy het twaalf jaar in Samaria regeer. Hy het gedoen wat verkeerd was vir die HERE, maar hy was nie so boos soos sy pa en ma nie. Hy het ten minste die klippilaar wat sy pa ter ere van Baäl opgerig het, afgebreek. Tog het hy voortgegaan met die sonde van afgodery waarmee Jerobeam die seun van Nebat die volk Israel verlei het. Hy het hom nie daarvan bekeer nie. Koning Mesa van Moab en sy onderdane was skaapboere. Hulle het aan die koning van Israel ’n jaarlikse belasting van 100 000 lammers en die wol van 100 000 ramme betaal. Na Agab se dood het Moab egter teen die koning van Israel in opstand gekom. Koning Joram het toe die leër van Israel opgekommandeer en uit Samaria opgeruk. Hy stuur toe ook die volgende boodskap aan koning Josafat van Juda: “Die koning van Moab het teen my gerebelleer. Sal jy saam met my teen hom veg?” Josafat het geantwoord: “Maar natuurlik! Ek is saam met jou in die saak! My soldate is tot jou beskikking, soos ook my perde.” Hy vra toe: “Met watter pad sal ons gaan?” “Ons sal hulle uit die woestyn van Edom aanval,” kom die antwoord. Die koning van Edom en sy leër het ook saam met hulle opgetrek. Al drie leërs het met ’n ompad sewe dae lank deur die woestyn getrek. Maar daar was geen water vir die soldate of hulle pakdiere nie. “Wat sal ons nou maak?” sê die koning van Israel. “Die HERE het ons drie hier in die moeilikheid gebring sodat die koning van Moab ons kan verslaan.” Maar koning Josafat van Juda vra: “Is daar nie ’n profeet van die HERE saam met ons nie? As hier een is, kan ons die HERE deur hom vra wat ons moet doen.” Een van koning Joram se offisiere antwoord hom: “Elisa seun van Safat is hier. Hy was Elia se persoonlike dienaar.” Josafat sê toe: “Die HERE praat deur hom.” Die konings van Israel, Juda (naamlik Josafat) en Edom het Elisa gaan raadpleeg. “Ek wil niks met jou te doen hê nie,” sê Elisa vir die koning van Israel. “Gaan na jou pa en ma se profete!” Maar koning Joram antwoord: “Nee! Die HERE het ons drie konings hiernatoe laat kom om ons aan die koning van Moab oor te lewer.” Elisa antwoord: “So seker as die HERE, die Almagtige, leef, Hy vir wie ek dien, ek sou my nie eens aan jou gesteur het nie as dit nie was vir die respek wat ek vir koning Josafat van Juda het nie. Laat iemand wat die lier kan speel, hiernatoe kom.” Terwyl iemand op die lier speel, kom die krag van die HERE oor Elisa. Hy sê: “Dit is wat die HERE sê: Hierdie droë vallei sal met poele water gevul word. Julle sal nie wind of reën sien nie, sê die HERE, maar hierdie vallei sal vol water word. Julle sal genoeg hê vir julleself en vir julle beeste en ander diere. Dis nog maar die minste wat die HERE sal doen. Hy sal vir julle ook die oorwinning oor die leër van Moab gee. Julle sal uitsoekstede verower, selfs die versterkte stede. Julle sal al die mooi bome afkap, hulle fonteine toestop en hulle landerye met klippe verniel.” En dit was ook so. Die volgende dag teen die tyd van die oggendoffer het daar skielik water gekom! Dit het uit die rigting van Edom aangestroom sodat daar gou-gou oral water was. Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings opgetrek het om teen hulle te veg. Hulle het toe elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle al langs die grens laat stelling inneem. Toe hulle die oggend opstaan, het die son oor die water geskyn sodat dit so rooi soos bloed gelyk het. “Dit is bloed!” roep die Moabiete uit. “Die konings het mekaar aangeval en maak nou mekaar dood! Kom, laat ons die buit gaan plunder!” Toe hulle die kamp van die Israeliete bereik, het die leër van Israel op hulle afgestorm en die Moabiete aangeval sodat hulle omgedraai en gevlug het. Die leër van Israel het hulle tot in die land van Moab agtervolg en op hulle pad alles vernietig. Hulle het die stede verwoes, die landerye met klippe bestrooi deurdat elke manskap ’n klip daarop gegooi het. Hulle het ook die fonteine toegestop en al die bruikbare bome afgekap. Uiteindelik was net Kir-Geres oor. Maar die soldate met slingervelle het die stad omsingel en dit ingeneem. Toe die koning van Moab besef dat hy besig was om die oorlog te verloor, het hy 700 van sy soldate teen die koning van Edom gelei in ’n desperate poging om deur die vyandelike linies te breek, maar hulle kon dit nie doen nie. Toe vat hy sy oudste seun wat hom sou opvolg en offer hom as ’n brandoffer op die stadsmuur. Dit was vir Israel so afskuwelik dat hulle teruggetrek het na hulle eie land toe.
Lees 2 KONINGS 3
Luister na 2 KONINGS 3
Deel
Vergelyk alle weergawes: 2 KONINGS 3:1-27
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's