2 Konings 3:1-27

2 Konings 3:1-27 AFR20

Joram, seun van Agab, het koning geword oor Israel in Samaria in die agttiende regeringsjaar van Josafat, koning van Juda. Hy het twaalf jaar lank regeer. Hy het gedoen wat verkeerd is in die oë van die HERE, maar nie so erg soos sy vader en sy moeder nie. Hy het wel die gedenksteen van Baäl wat sy vader gemaak het, verwyder. Maar aan die sondes van Jerobeam, seun van Nebat, waarmee hy Israel laat sondig het, het hy vasgeklou. Hy het daarvan nie afgewyk nie. Mesa, die koning van Moab, was 'n skaapteler. Hy moes honderdduisend lammers en honderdduisend ramme se wol aan die koning van Israel lewer. Net ná Agab se dood het die koning van Moab hom verset teen die koning van Israel. Koning Joram het dieselfde dag nog uit Samaria uitgetrek en die hele Israel gemonster. Hy het ook gegaan en vir Josafat, koning van Juda, 'n boodskap gestuur: “Die koning van Moab verset hom teen my. Trek jy saam met my teen Moab op vir die geveg?” Hy het geantwoord: “Ek sal optrek. Ek is soos jy; my volk is soos jou volk; my perde soos jou perde.” “Met watter pad sal ons optrek?” het Joram gevra. “Met die pad deur die woestyn van Edom, ” het Josafat geantwoord. Die koning van Israel, die koning van Juda en die koning van Edom het vertrek, maar nadat hulle sewe dae lank met 'n ompad getrek het, was daar nie meer water oor vir die leër of die diere by hulle nie. Die koning van Israel sê toe: “Ag, die HERE het hierdie drie konings ontbied om hulle oor te gee in die hand van Moab!” Maar Josafat het gevra: “Is hier nie 'n profeet van die HERE, sodat ons deur hom die HERE kan raadpleeg nie?” Een van die koning van Israel se dienaars antwoord toe en sê: “Elisa, seun van Safat, wat water gegooi het op Elia se hande, is hier.” Daarop sê Josafat: “By hom is die woord van die HERE!” Toe gaan die koning van Israel en Josafat en die koning van Edom af na hom toe. Elisa het vir die koning van Israel gesê: “Ek het met jou niks te doen nie. Gaan na die profete van jou pa en jou ma!” Maar die koning van Israel sê vir hom: “Nee, want die HERE het hierdie drie konings ontbied om hulle oor te gee in die hand van Moab.” Daarop antwoord Elisa: “So waar as die HERE, Heerser oor alle magte, leef, Hy in wie se diens ek staan, as dit nie was dat ek Josafat, koning van Juda, in ag neem nie, sou ek nie eers na jou gekyk of jou raakgesien het nie. Bring dan nou vir my iemand wat 'n snaarinstrument bespeel.” Toe die persoon op die snaarinstrument begin speel, het die hand van die HERE oor hom gekom, en het hy gesê: “So sê die HERE, ‘Maak oral kuile in hierdie droë loop!’ Ja, so sê die HERE, ‘Julle sal geen wind of reën sien nie, maar hierdie droë loop sal vol water word, sodat julle, julle vee en julle ander diere sal drink. En dit sal 'n kleinigheid wees in die oë van die HERE. Hy gaan Moab ook in julle hand gee. Julle sal elke versterkte stad, elke uitsoekstad, verslaan; julle sal elke goeie boom vel, al die waterfonteine toestop en elke goeie stuk land onbruikbaar maak met klippe.’ ” Die volgende oggend, op die tyd wanneer die •graanoffer gebring word, kom daar toe skielik water uit die rigting van Edom! Die gebied is met water gevul. Intussen het al die Moabiete gehoor dat die konings optrek om teen hulle oorlog te voer. Elkeen wat al 'n swaard kon aangord, en ouer, is opgeroep en het by die grens stelling ingeneem. Hulle het vroeg die oggend opgestaan, en toe die son op die water skyn, sien die Moabiete die water van die ander kant af – rooi soos bloed. Hulle sê toe: “Dit is bloed! Die konings het beslis met mekaar geveg en die een het die ander verslaan! Nou, na die buit, Moabiete!” Maar toe hulle by die kamp van die Israeliete kom, staan die Israeliete op en verslaan die Moabiete. Hulle het voor die Israeliete uit gevlug. Hulle het die land binnegedring en die Moabiete verslaan. Die stede het hulle afgebreek, en op elke goeie stuk land het elkeen 'n klip gegooi, en dit so vol klippe gemaak. Elke fontein het hulle toegestop en elke goeie boom het hulle gevel, totdat net die klipmuur by Kir-Geres oorgebly het. Toe dié wat met slingervelle gooi, die stad omsingel en aanval, en die koning van Moab sien dat die geveg vir hom te hewig raak, het hy sewehonderd man, gewapen met swaarde, met hom saamgeneem om deur te breek na die koning van Edom, maar hulle kon nie. Hy neem toe sy eersgebore seun, wat in sy plek koning sou word, en offer hom as brandoffer op die stadsmuur. Toe breek daar 'n verskriklike oordeel los oor Israel, en Israel het van Mesa af weggetrek en teruggekeer na hulle land.