2 Konings 3:1-27

2 Konings 3:1-27 DB

Israel se nuwe koning was Joram, nog ’n seun van Agab. Hy het koning geword toe Josafat van Juda al agtien jaar lank koning was. Joram het vir twaalf jaar in Samaria regeer. Die Here was nie tevrede met die manier waarop hy regeer het nie, maar hy was ten minste nie so erg soos sy ouers, Agab en Isebel, nie. Hy het darem die gedenksteen wat Agab vir die afgod Baäl opgerig het, laat wegneem. Maar hy het nie alles reg gedoen nie. Hy het aangehou om die verkeerde dinge te doen waarmee koning Jerobeam begin het. Koning Mesa van Moab en sy mense was skaapboere. Hulle het jaarliks belasting van 100 000 lammers en 100 000 skape se wol aan Israel betaal. Dit was die bewys van hulle lojaliteit aan Israel. Ná Agab se dood het Mesa teen Israel gerebelleer. Joram het dadelik saam met sy soldate van Samaria af vertrek om teen die Moabiete te gaan veg. Hy het ook vir Josafat, koning van Juda, ’n boodskap gestuur: “Die koning van Moab het teen my in opstand gekom. Sal jy saam met my teen die Moabiete gaan veg?” Josafat het geantwoord: “Natuurlik gaan ek saam. Ons is bondgenote. Jy kan my soldate en perde by joune tel.” Joram vra toe: “Watter roete moet ons neem?” Josafat het laat weet: “Die pad deur die Edomwoestyn is die beste.” Die konings van Israel en Juda het met hulle leërs vertrek. Die koning van Edom het ook met sy leër kom help. Na ’n week se opmars deur die woestyn was hulle egter diep in die moeilikheid. Daar was nie meer water vir mens of dier nie. Koning Joram was ontsteld. Hy het gesê: “Ons moes die veldtog nooit onderneem het nie! Die Here het ons net hier bymekaargebring om ons drie konings in die Moabiete se mag oor te gee.” Josafat het egter gevra: “Is hier niemand onder die soldate wat ’n boodskapper van die Here is nie? As daar so iemand is, kan ons deur hom laat vra wat die Here se plan met ons is.” Een van die Israelitiese offisiere het gesê: “Elisa, Safat se seun, is hier. Hy het vroeër ten nouste saam met Elia gewerk.” “Kom ons gaan na hom toe,” het Josafat gesê, “die Here sal deur hom met ons praat.” Die drie konings het toe na Elisa toe gegaan. Elisa het egter vir Joram gesê: “Ek wil niks met jou te doen hê nie. Gaan na jou pa en ma se profete toe. Hulle het mos ander gode gedien.” Joram het geantwoord: “Dit sal nie help nie. Dit was juis die Here wat ons drie hierheen laat kom het sodat die Moabiete ons kan oorwin!” Elisa het toe geantwoord: “Ek praat in die Naam van die Here, die Groot Bevelvoerder. Ek sal die Here net raadpleeg omdat ek sulke hoë agting vir Josafat het. As dit net jy was, sou ek nie eens na jou geluister het nie. Bring nou iemand om musiek te maak sodat ek die Here kan raadpleeg.” Terwyl die musiek gespeel het, het die Here se krag Elisa gevul. Hy het gesê: “Die Here sê: Maak gate hier in die droë vallei. Dit sal binnekort vol water staan. Sonder dat julle die wind hoor waai of reën sien val, sal hier genoeg water vir julle en al die diere wees. Maar dit is net ’n kleinigheid vir die Here. Hy sal julle ook die Moabiete laat oorwin. Julle sal al hulle mooi en versterkte stede inneem. Julle sal al die goeie bome afkap, al die putte opvul en al die bruikbare landerye met klippe bederf.” Die volgende oggend was dit toe ook so: teen die tyd van die oggendoffer het daar soveel water van Edom se kant af gekom dat die hele gebied onder water was. Die Moabiete het intussen gehoor dat die konings van Israel, Juda en Edom op pad was om teen hulle te veg. Hulle het elke weerbare man, jonk en oud, opgeroep en hulle na die front toe gestuur. Toe hulle daardie oggend opstaan, het die son oor die water geskyn; dit het soos bloed gelyk. Die Moabiete het vir mekaar gesê: “Dit is bloed daardie! Die drie leërs het seker onder mekaar begin veg en mekaar uitgewis. Kom ons gaan maak die buit bymekaar!” Toe hulle egter by die Israeliete se kamp kom, het die Israeliete hulle aangeval. Die Moabiete het omgespring en probeer vlug, maar die Israeliete het hulle agtervolg en oorwin. Hulle het die stede vernietig, die landerye vol klippe gegooi, al die putte toegestop en al die goeie bome afgekap. Later het net Kir-Geres, met ’n klipmuur rondom, oorgebly. Dit was egter reeds omsingel en is met klippe bestook. Toe die koning van Moab sien hoe benard hulle situasie was, het hy 700 soldate gevat en probeer deurbreek waar die Edomiete gestaan het. Hulle kon egter nie daarin slaag om uit te kom nie. Toe vat hy sy oudste seun, wat hom as koning sou opvolg, en verbrand hom as offer op die stad se muur. Die woede wat hierdie offer veroorsaak het, het die Israeliete laat onttrek en hulle na hulle land laat teruggekeer.