1 KRONIEKE 17:16-24
1 KRONIEKE 17:16-24 Bybel vir almal (ABA)
Koning Dawid het ingegaan in die tempel-tent en hy het voor die verbondskis gaan lê. Hy het gesê: “Here God, ek en my familie is nie belangrik nie. Hoekom het U so baie vir my gedoen? “En, o God, U het nog meer gedoen. U het ook nog gepraat oor u dienaar se koningshuis wat nog baie lank sal regeer. Here God, U praat met my soos met 'n baie belangrike mens. Wat kan ek, Dawid, nog vir U sê, vir U wat u dienaar so belangrik laat voel? Here, U ken u dienaar. U het besluit om dit vir u dienaar te doen en U het hierdie groot ding gedoen om vir u dienaar hierdie wonderlike dinge te sê. Here, daar is niemand soos U nie. U alleen is God, ons weet nie van 'n ander God nie. En wie is soos u volk Israel? U het net vir húlle gekies uit al die volke op die aarde en U het hulle vrygemaak om u volk te wees. U het groot en wonderlike dinge gedoen toe U ander volke weggejaag het sodat u volk in die land kan woon, u volk wat U vrygemaak het uit Egipte. Daarom ken almal u Naam. U het u volk Israel 'n volk gemaak wat nog lank daar sal wees, want U, Here, het hulle God geword. En nou, Here, U het dinge belowe oor my, u dienaar, en oor my koningshuis. U moet nou daardie dinge waar laat word, dit moet nog lank so wees. U moet doen wat U gesê het. U moet altyd dieselfde bly en belangrik wees, en die mense moet sê: ‘Die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, is God oor Israel.’ En die koningshuis van u dienaar Dawid moet altyd regeer en hulle moet vir U dien.
1 KRONIEKE 17:16-24 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
Toe het koning Dawid heengegaan en voor die aangesig van die HERE gebly en gesê: Wie is ek, HERE God, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het? En dit was nog te gering in u oë, o God, sodat U aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek en my vorentoe as 'n reeks van mense gesien het, HERE God! Wat kan Dawid daar nog vir U byvoeg met die oog op die eer wat u kneg aangedoen is; en Ú ken u kneg. HERE, ter wille van u kneg en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen om al hierdie groot dinge bekend te maak. HERE, daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. En wie is soos u volk Israel, 'n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as 'n volk gaan verlos het, om vir U 'n naam te maak deur groot en vreeslike dinge, deur voor u volk uit, wat U uit Egipte verlos het, nasies te verdrywe. En U het u volk Israel vir U as 'n volk tot in ewigheid gemaak; en U, HERE, U het vir hulle 'n God geword. Laat dan nou, HERE, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, tot in ewigheid waar gemaak word, en doen soos U gespreek het. Ja, laat dit waar gemaak word en laat u Naam groot word tot in ewigheid, deurdat hulle sê: Die HERE van die leërskare, die God van Israel, is Israel se God, en die huis van u kneg Dawid is bestendig voor u aangesig.
1 KRONIEKE 17:16-24 Afrikaans 1983 (AFR83)
Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het? Selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, o God: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak, U sien my as die man wat soos 'n duif die hoogtes bereik, Here God! “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê oor die eer wat u dienaar aangedoen word? U ken immers u dienaar. U het hierdie groot ding gedoen, Here, ter wille van u dienaar omdat dit u besluit en wil was, en boonop het U al dié groot dinge aan u dienaar bekend gemaak. Daar is niemand soos U nie, Here! Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op aarde wat U vir U as volk vrygemaak het. U het u Naam bekend gemaak deur aan nasies groot en vreeslike dinge te doen toe U hulle verdryf het voor u volk wat U uit Egipte vrygemaak het. U het u volk Israel vir altyd u volk gemaak. En U, Here, U het hulle God geword. En nou, Here, wat U oor u dienaar en oor sy nageslag gesê het, staan vas vir altyd. Doen tog soos U belowe het, sodat dit vas kan staan en u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: Die Here die Almagtige, die God van Israel, Hy is God van Israel. Die nageslag van u dienaar Dawid bestaan voort voor U.
1 KRONIEKE 17:16-24 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit. Hy het gesê: “Wie is ek, HERE God; en wie is my huis dat U my tot hier gebring het? En asof dit nie genoeg is in u oë nie, o God, het U ook oor die huis van u dienskneg gepraat, tot in die verre toekoms; ja, U het my vorentoe gesien as 'n dinastie, HERE God. Maar wat kan Dawid verder vir U sê oor die eerbewys aan u dienskneg? U ken self u dienskneg. HERE, ter wille van u dienskneg, en volgens u wil het U hierdie hele groot saak uitgevoer, om so al die grootse dade bekend te maak. HERE, daar is niemand soos U nie. Daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons eie ore gehoor het. En wie is soos u volk Israel – die enigste nasie op aarde van wie dit geld dat God gegaan het om hulle vir Homself vry te koop as 'n volk, en om vir U naam te maak deur grootse en wonderlike dade, om nasies te verdryf voor u volk wat U uit Egipte vrygekoop het? U het u volk Israel vir U as 'n volk bestem vir altyd, en U, HERE, het hulle God geword. HERE, doen dan nou die woord gestand wat U gespreek het oor u dienskneg en sy huis, laat dit altyd vasstaan. Doen wat U gesê het, sodat dit sal vasstaan, en u Naam vir ewig groot sal wees, en daar gesê sal word, ‘die HERE, Heerser oor alle magte, die God van Israel, is God vir Israel,’ en sodat die huis van u dienskneg Dawid bestendig sal wees voor U.
1 KRONIEKE 17:16-24 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
En koning Dawid het gekom en voor die aangesig van die HERE gaan sit en gesê: Wie is ek, HERE God, en wat is my huis dat U my tot hiertoe gebring het? En tog was dit 'n klein ding in u oë, o God; want U het ook nog 'n lang tyd oor die huis van u kneg gespreek en my beskou volgens die goedere van 'n man van hoë graad, HERE God. Wat kan Dawid nog meer tot u spreek ter wille van u dienaar? want U ken u kneg. O HERE, ter wille van u kneg en na u eie hart het U al hierdie groot dinge gedoen deur al hierdie groot dinge bekend te maak. O HERE, daar is niemand soos U nie, en daar is geen God buiten U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het. En watter een nasie op die aarde is soos jou volk Israel, wat God gegaan het om te verlos om sy eie volk te wees, om jou 'n naam van grootheid en verskriklikheid te maak, deur nasies voor jou volk uit te verdrywe wat jy uit Egipte verlos het? Want u volk Israel het U vir ewig u volk gemaak; en U, HERE, het hulle God geword. Daarom nou, HERE, laat die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, vir ewig vasstaan, en doen soos U gespreek het. Laat dit ook bevestig word, dat u Naam tot in ewigheid groot gemaak kan word deur te sê: Die HERE van die leërskare is die God van Israel, 'n God vir Israel; en laat die huis van u kneg Dawid voor u aangesig vasstaan.
1 KRONIEKE 17:16-24 Die Boodskap (DB)
Dawid het in die teenwoordigheid van die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek en my familie, o Here God, dat U my so ver gebring het? O God, nou praat U ook nog van ’n koningshuis wat nooit sal eindig nie wat U vir my sal gee! U praat asof ek iemand groots is, o Here God. Wat kan ek nou vir U sê nadat U my, wat u dienaar is, so hoog vereer het? U ken my baie goed. Here, omdat U my liefhet en omdat U dit so wil hê, het U al hierdie groot dinge gedoen en dit bekendgemaak. “O Here, daar is niemand soos U nie. Alles wat ons gehoor het, bevestig dit: daar is geen God behalwe U nie! Watter ander volk op aarde is soos u volk, Israel? Waar het ’n god al ooit soveel vir ’n volk gedoen deur hulle uit slawerny te bevry en hulle sy eiendom te maak? U het groot en skrikwekkende dinge vir ons gedoen en so deur die hele wêreld bekend geword. U het hulle uit Egipte laat trek en ander volke voor hulle uit verdryf. U het Israel gekies om vir altyd u volk te wees en U, o Here, het hulle God geword. “Laat alles wat U aan my en my nageslag belowe het, nou waar word. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd sal hou. As dit waar word, sal die hele wêreld U vir altyd vereer en sê: ‘Israel se God is die Here, die Groot Bevelvoerder.’ Mag die koningshuis van Dawid, u kneg, bly bestaan.
1 KRONIEKE 17:16-24 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit en gebid: “Wie is ek, HERE God, en wat is my familie dat U my tot sover gebring het? En dit was maar nog net iets kleins vir U, o God. Daarom het U ook gepraat van my koningshuis wat lank ná my sal bestaan! U praat asof ek iemand groots is, HERE God! Wat meer kan ek sê van die manier waarop U my geëer het? U weet hoe ek eintlik is! Ter wille van my, o HERE, en volgens u wil het U al hierdie groot dinge gedoen en dit ook bekendgemaak. “HERE, daar is niemand soos U nie. Daar is geen ander God nie. Ons het nog nooit eers gehoor van ’n ander god soos U nie! Watter ander nasie op aarde is soos Israel? Watter ander nasie, o God, het U gered uit slawerny om u volk te wees? U het ’n groot Naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het. U het wonderdade gedoen en die nasies wat in u pad gestaan het, uitgedryf. U het Israel gekies om u volk vir altyd te wees en U, o HERE, het hulle God geword. “En nou, HERE, doen soos U belowe het oor my en my familie. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd geld! En mag u Naam altyd gevestig en geëer word sodat die hele wêreld sal sê: ‘Die HERE, die Almagtige, is God oor Israel!’ En mag die koningshuis van u kneg Dawid in u teenwoordigheid gevestig wees.