Toe het koning Dawid heengegaan en voor die aangesig van die HERE gebly en gesê: Wie is ek, HERE God, en wat is my huis, dat U my tot hiertoe gebring het?
En dit was nog te gering in u oë, o God, sodat U aangaande die huis van u kneg tot ver in die toekoms gespreek en my vorentoe as 'n reeks van mense gesien het, HERE God!
Wat kan Dawid daar nog vir U byvoeg met die oog op die eer wat u kneg aangedoen is; en Ú ken u kneg.
HERE, ter wille van u kneg en volgens u hart het U hierdie hele groot saak gedoen om al hierdie groot dinge bekend te maak.
HERE, daar is niemand soos U, en daar is geen God behalwe U nie, volgens alles wat ons met ons ore gehoor het.
En wie is soos u volk Israel, 'n enige nasie op die aarde, wat God vir Hom as 'n volk gaan verlos het, om vir U 'n naam te maak deur groot en vreeslike dinge, deur voor u volk uit, wat U uit Egipte verlos het, nasies te verdrywe.
En U het u volk Israel vir U as 'n volk tot in ewigheid gemaak; en U, HERE, U het vir hulle 'n God geword.
Laat dan nou, HERE, die woord wat U oor u kneg en oor sy huis gespreek het, tot in ewigheid waar gemaak word, en doen soos U gespreek het.
Ja, laat dit waar gemaak word en laat u Naam groot word tot in ewigheid, deurdat hulle sê: Die HERE van die leërskare, die God van Israel, is Israel se God, en die huis van u kneg Dawid is bestendig voor u aangesig.