Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit. Hy het gesê:
“Wie is ek, HERE God;
en wie is my huis
dat U my tot hier gebring het?
En asof dit nie genoeg is
in u oë nie, o God,
het U ook oor die huis
van u dienskneg gepraat,
tot in die verre toekoms;
ja, U het my vorentoe gesien
as 'n dinastie, HERE God.
Maar wat kan Dawid verder
vir U sê oor die eerbewys
aan u dienskneg?
U ken self u dienskneg.
HERE, ter wille van u dienskneg,
en volgens u wil
het U hierdie hele groot saak
uitgevoer,
om so al die grootse dade
bekend te maak.
HERE, daar is niemand
soos U nie.
Daar is geen God behalwe U nie,
volgens alles wat ons
met ons eie ore gehoor het.
En wie is soos u volk Israel –
die enigste nasie op aarde
van wie dit geld dat God gegaan het
om hulle vir Homself vry te koop
as 'n volk,
en om vir U naam te maak
deur grootse en wonderlike dade,
om nasies te verdryf voor u volk
wat U uit Egipte vrygekoop het?
U het u volk Israel vir U
as 'n volk bestem vir altyd,
en U, HERE, het hulle God geword.
HERE, doen dan nou
die woord gestand
wat U gespreek het
oor u dienskneg en sy huis,
laat dit altyd vasstaan.
Doen wat U gesê het,
sodat dit sal vasstaan,
en u Naam vir ewig groot sal wees,
en daar gesê sal word,
‘die HERE, Heerser oor alle magte,
die God van Israel, is God vir Israel,’
en sodat die huis
van u dienskneg Dawid
bestendig sal wees voor U.