1 KRONIEKE 17:16-24

1 KRONIEKE 17:16-24 NLV

Koning Dawid het toe ingegaan en voor die HERE gaan sit en gebid: “Wie is ek, HERE God, en wat is my familie dat U my tot sover gebring het? En dit was maar nog net iets kleins vir U, o God. Daarom het U ook gepraat van my koningshuis wat lank ná my sal bestaan! U praat asof ek iemand groots is, HERE God! Wat meer kan ek sê van die manier waarop U my geëer het? U weet hoe ek eintlik is! Ter wille van my, o HERE, en volgens u wil het U al hierdie groot dinge gedoen en dit ook bekendgemaak. “HERE, daar is niemand soos U nie. Daar is geen ander God nie. Ons het nog nooit eers gehoor van ’n ander god soos U nie! Watter ander nasie op aarde is soos Israel? Watter ander nasie, o God, het U gered uit slawerny om u volk te wees? U het ’n groot Naam vir Uself gemaak toe U u volk uit Egipte gered het. U het wonderdade gedoen en die nasies wat in u pad gestaan het, uitgedryf. U het Israel gekies om u volk vir altyd te wees en U, o HERE, het hulle God geword. “En nou, HERE, doen soos U belowe het oor my en my familie. Mag dit ’n belofte wees wat vir altyd geld! En mag u Naam altyd gevestig en geëer word sodat die hele wêreld sal sê: ‘Die HERE, die Almagtige, is God oor Israel!’ En mag die koningshuis van u kneg Dawid in u teenwoordigheid gevestig wees.