Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here God, en wie is my nageslag dat U my so ver gebring het? Selfs dit was vir U nog nie genoeg nie, o God: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak, U sien my as die man wat soos 'n duif die hoogtes bereik, Here God! “Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê oor die eer wat u dienaar aangedoen word? U ken immers u dienaar. U het hierdie groot ding gedoen, Here, ter wille van u dienaar omdat dit u besluit en wil was, en boonop het U al dié groot dinge aan u dienaar bekend gemaak. Daar is niemand soos U nie, Here! Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op aarde wat U vir U as volk vrygemaak het. U het u Naam bekend gemaak deur aan nasies groot en vreeslike dinge te doen toe U hulle verdryf het voor u volk wat U uit Egipte vrygemaak het. U het u volk Israel vir altyd u volk gemaak. En U, Here, U het hulle God geword. En nou, Here, wat U oor u dienaar en oor sy nageslag gesê het, staan vas vir altyd. Doen tog soos U belowe het, sodat dit vas kan staan en u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word: Die Here die Almagtige, die God van Israel, Hy is God van Israel. Die nageslag van u dienaar Dawid bestaan voort voor U.
Lees 1 KRONIEKE 17
Deel
Vergelyk Alle Weergawes: 1 KRONIEKE 17:16-24
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's