PSALMS 89:38-52

PSALMS 89:38-52 AFR83

Soos die maan sal dit altyd daar wees. Solank die hemel daar is, sal dit vas bly staan.” Sela Maar nou het U in u toorn tog u gesalfde verstoot en verwerp. U het die verbond met u dienaar nie in ag geneem nie, sy kroon tot in die grond vertrap. U het al sy stadsmure afgebreek, sy vestings in puin gelê. Almal wat daarlangs kom, beroof hom; die buurvolke behandel hom met minagting. U het sy teëstanders laat seëvier, al sy vyande laat juig. U het hom voor die vyand laat vlug, hy kon nie staande bly in die oorlog nie. Aan sy koninklike luister het U 'n end gemaak, sy troon teen die grond gegooi. U het sy jeugdige krag gebreek en hom diep verneder. Sela Sal U dan vir altyd u hulp weerhou, Here? Sal die vuur van u gramskap dan bly brand? Dink tog daaraan hoe kort die lewe is, hoe min daar in die lewe is vir al die mense wat deur U geskep is. Watter mens leef daar wat die dood nie sal sien nie, wat homself kan red uit die mag van die doderyk? Sela Waar is u liefde van vroeër, Here, wat U in u trou plegtig aan Dawid belowe het? Dink, Here, aan die smaad wat my aangedoen is, aan alles wat ek moes verduur van baie volke. Die mense van wie hierdie smaad kom, is u vyande, Here, dit is u gesalfde vir wie hulle smaad waar hy ook gaan.