Psalms 89:38-52

Psalms 89:38-52 AFR20

soos die maan wat altyd standhou – 'n betroubare getuie aan die hemelruim.” •Sela Maar U self het hom verstoot en verwerp, U was woedend vir u gesalfde. U het die verbond met u dienskneg opgehef, sy kroon tot in die grond ontheilig. U het al sy skermmure afgebreek, van sy versterkte stede ruïnes gemaak. Almal wat daar verbygaan, het hom geplunder; hy het 'n bespotting geword vir sy bure. U het die regterhand van sy teenstanders hoog gelig. U het al sy vyande bly gemaak. U, o Rots, het ook sy swaard teen hom gedraai; U het hom nie staande gehou in die stryd nie. U het sy glans laat verdof en sy troon, dié het U teen die grond gegooi. U het die dae van sy jeug kortgeknip, hom in skaamte gehul. Sela Hoe lank nog, HERE? Gaan U Uself vir ewig verberg, sal u woede soos 'n vuur bly brand? Dink daaraan – wat is my lewensduur? Om watter sinlose rede het U alle mensekinders geskape? Watter jong man leef en sien nie die dood nie; wie kan sy lewe aan die mag van die •doderyk laat ontkom? Sela Waar is u troue liefde van vroeër, my Heer, wat U in u trou met 'n eed beloof het aan Dawid? My Heer, dink aan die bespotting van u diensknegte wat ek teen my bors dra; dink aan al die baie volke wat die spot dryf – aan u vyande, HERE, wat die spot dryf met u gesalfde waar hy ook al gaan.