PSALMS 21:1-13

PSALMS 21:1-13 AFR83

Vir die koorleier. 'n Psalm van Dawid. Here, dit is oor die openbaring van u mag dat die koning so bly is, dit is oor die oorwinning wat U hom gegee het, dat hy so jubel en juig. Die wens van sy hart het U vervul. Wat hy gevra het, het U hom nie geweier nie. Sela U skenk hom voorspoed en geluk, U plaas 'n goue kroon op sy kop. Lewe het hy van U gevra; U het hom dit gegee – 'n lang, lang lewe. Omdat U uitkoms gegee het, is hy hoog in aansien, met roem en eer het U hom oorlaai. U maak hom altyd voorspoedig, U skenk hom oorvloedige blydskap deur u nabyheid. Die koning vertrou op die Here en deur die trou van die Allerhoogste struikel hy nie. U hand sal al u vyande vind, u regterhand sal u haters tref. Wanneer U verskyn, Here, sal U hulle verteer soos in 'n oond. In u toorn sal U hulle vernietig, en die vuur sal hulle verteer. U sal hulle kinders van die aarde af verdelg en die mensheid verlos van hulle nageslag. As hulle kwaad teen U beraam, bose planne uitdink, sal hulle niks uitrig nie. Wanneer U met die boog na hulle mik, slaan hulle op die vlug.