PSALMS 21:1-13

PSALMS 21:1-13 NLV

Die koning is bly oor u mag, HERE, vol vreugde oor u verlossing. U het hom sy hartsbegeerte gegee; niks wat hy gevra het, het U geweier nie. Sela U gaan hom tegemoet met seëninge van voorspoed. Op sy kop sit U ’n kroon van suiwer goud. Lewe het hy van U gevra, en U het dit gegee – ’n lang lewe wat steeds voortduur. U oorwinning besorg hom groot eer; met glans en majesteit het U hom beklee. U het hom bekroon met seëninge vir altyd, en hom gegee die blydskap van u nabyheid. Want die koning vertrou op die HERE. Die trou van die Allerhoogste sal hom van struikeling bewaar. U hand sal al u vyande tref. U sterke hand sal al u haters vernietig. U sal hulle vernietig soos in ’n oond die oomblik wanneer U verskyn. Die HERE sal hulle in sy toorn verslind, soos vuur sal Hy hulle verteer. U sal hulle kinders van die aarde af uitwis, hulle nageslag uit die mensheid verwyder. Al sou hulle teen U in opstand kom, hulle bose planne sal nie slaag nie. Want U sal hulle laat omdraai en vlug wanneer U pyle op hulle rig.