PSALMS 18:16-36

PSALMS 18:16-36 AFR83

Die seebodem het sigbaar geword, die fondamente van die aarde is blootgelê deurdat U, Here, op hulle gebulder het met die orkaan van u toorn. Van bo af het Hy sy hand uitgestrek en my gegryp, my uit geweldige waters uitgelig. Hy het my gered van my vyand wat sterk was, van my haters toe hulle vir my te magtig was. Die dag toe hulle my aangeval het, was my ondergang naby, maar die Here het my daarvan bewaar. Hy het my in vryheid laat uitgaan, my gered omdat Hy my liefhet. Die Here het aan my reg laat geskied, Hy het my onskuld aanvaar, want ek het die wil van die Here gehoorsaam en my nie teenoor my God skuldig gemaak nie; ek het my deur al sy bepalings laat lei en nie van sy voorskrifte afgewyk nie. Ek was opreg voor Hom, ek was op my hoede teen enige ongeregtigheid. Die Here het aan my reg laat geskied, want ek was onskuldig in sy oë. U betoon U getrou teenoor die getroue, opreg teenoor die opregte, rein teenoor die reine, maar U verwerp die huigelaar. U red die verdrukte volk, U verneder die trotses. U, Here, laat my lamp helder skyn; my God gee lig as dit donker is om my. Met u hulp loop ek 'n oormag storm, met my God by my is geen stadsmuur vir my te hoog nie. Wat God doen, is volmaak; wat die Here sê, is suiwer. Elkeen wat by Hom skuiling soek, beskerm Hy. Waarlik, wie anders as die Here is God? Ja, wie anders as ons God is 'n rots? God omgord my met krag; Hy maak my pad voorspoedig. Hy maak my voete soos dié van 'n ribbok; op hoë plekke laat Hy my stewig staan. Hy leer my hande om oorlog te maak, my arms om selfs die stramste boog te span. Die redding wat U gebring het, was vir my 'n beskerming, u regterhand het my ondersteun, deur u hulp het ek sterk geword.

Video vir PSALMS 18:16-36

Gratis leesplanne en oordenkings oor PSALMS 18:16-36