PSALMS 17:1-9

PSALMS 17:1-9 AFR83

'n Gebed van Dawid. Luister tog, Here, na my regverdige saak, let op my hulpgeroep. Hoor tog die gebed wat ek in alle opregtheid bid. U sal uitspraak lewer in my guns: u oë sien immers self wat reg is. As U my sou toets, my selfs in my slaap sou ondersoek, my deeglik sou keur, sou U niks verkeerds vind nie. Oor die doen en late van mense het ek niks verkeerds gesê nie: ek het my aan u bevel gehou. Elke stap van my was vas op die koers wat U aangewys het. My voete het nie daarvan afgewyk nie. Ek roep U aan, want U sal my antwoord, my God! Luister tog na my en hoor wat ek sê. Toon u wonderlike trou, U wat almal help wat vir hulle vyande by U skuil. Beskerm my soos die appel van u oog, steek my weg in die skaduwee van u vleuels vir die goddeloses wat my wil oorweldig, die doodsvyande wat my omsingel.