PSALMS 106:13-31

PSALMS 106:13-31 AFR83

Maar hulle het gou vergeet wat Hy gedoen het en nie op sy leiding gewag nie. Hulle het skaamteloos meer kos geëis in die woestyn, daar in die barre wêreld het hulle die geduld van God beproef. Toe het Hy hulle gegee wat hulle gevra het, maar hulle van siekte laat wegteer. Langs die trekpad het hulle hulle in afguns teen Moses verset en teen Aäron wat aan die Here gewy was. Toe het die aarde geskeur en vir Datan verslind, dit het die bende van Abiram verswelg. 'n Vuur het hulle hele bende verteer, die goddelose het in die vlamme omgekom. By Horeb het hulle 'n kalf gemaak, voor 'n god van metaal gekniel. Hulle het die magtige teenwoordigheid van God verruil vir die beeld van 'n bees wat gras vreet. So het hulle vir God, hulle redder, vergeet, Hy wat groot dinge in Egipte gedoen het, wonderdade in die land van Gam, magtige dade by die Rietsee. Die Here wou hulle verdelg, maar Moses, sy uitverkorene, het by Hom vir hulle in die bres getree om sy gramskap af te keer, sodat Hy hulle nie vernietig het nie. Hulle het 'n waardevolle land versmaai en die belofte van die Here nie geglo nie; hulle het in hulle tente gesit en mor en nie na die Here geluister nie. Toe het Hy 'n eed afgelê dat Hy hulle in die woestyn sou laat omkom, hulle nageslag sou laat sterf onder heidense nasies, hulle oor die wêreld sou verstrooi. Hulle het Baäl-Peor aangehang en geëet van wat aan die dooie afgode geoffer is. Hulle het die Here uitgetart met wat hulle gedoen het, en 'n plaag het onder hulle uitgebreek. Pinehas het opgetree en die skuldiges gestraf, en die plaag het opgehou. Dié optrede is deur al die geslagte heen vir Pinehas as 'n daad van geregtigheid toegereken.