PSALMS 106:13-31

PSALMS 106:13-31 NLV

Tog het hulle gou sy dade vergeet en nie op sy leiding gewag nie. In die woestyn het hulle begeertes opgevlam. In die wildernis het hulle God se geduld beproef. Hy het gegee wat hulle gevra het, maar hulle ook getref met ’n siekte. In die kamp was hulle jaloers op Moses, en ook Aäron, wat aan die HERE gewy was. Die aarde het oopgegaan, Datan ingesluk, en Abiram en sy bende begrawe. Onder die bende het vuur gewoed, vlamme het die bose mense verteer. By Horeb het hulle ’n kalf gemaak, en ’n beeld van metaal aanbid. Hulle roemryke God het hulle verruil vir die beeld van ’n bees wat gras vreet. Hulle het God vergeet, hulle redder wat in Egipte groot dinge gedoen het: wonderlike dinge in die land Egipte, ontsagwekkende dade by die Rietsee. Hy het gesê Hy sou hulle vernietig, maar Moses, sy uitverkorene, het vir die volk in die bres getree en gepleit dat God hulle nie in sy toorn vernietig nie. Maar die volk het die vrugbare land verwerp, en nie sy beloftes geglo nie. Hulle het in hulle tente gekla en nie na die HERE geluister nie. Daarom het Hy ’n eed afgelê dat Hy hulle in die woestyn sal laat omkom, dat hulle nakomelinge onder die nasies sou sterf, en oor die aarde verstrooi sou word. Maar hulle het Baäl-Peor vereer en geëet van die offers wat aan dooie afgode gewy is. Met hulle dade het hulle Hom getart sodat ’n plaag hulle getref het. Maar Pinehas het tussenbeide getree, en so is die plaag gestuit. Hy is beskou as ’n regverdige man, geslag na geslag, vir altyd.