Psalms 106:13-31

Psalms 106:13-31 AFR20

Maar gou het hulle sy dade vergeet; hulle het nie sy raad afgewag nie. Hulle gulsigheid het hulle in die woestyn oorval; hulle het God uitgedaag in die wildernis. Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het 'n verterende siekte in hulle kele laat ontstaan. In die kamp was hulle jaloers op Moses, op Aäron, die gewyde van die HERE. Die aarde het oopgegaan en Datan verswelg, dit het toegegaan oor die bende van Abiram. 'n Vuur het onder hulle bende uitgebreek, vlamme het die goddeloses verskroei. Hulle het by Horeb 'n kalf gemaak, in aanbidding gebuig voor 'n gegote beeld. Hulle het hulle Majesteit verruil vir die afbeelding van 'n bees wat gras eet! Hulle het God wat hulle verlos, vergeet, Hy wat groot dade in Egipte gedoen het, wonders in die land van Gam, ontsagwekkende dade by die Rietsee. Hy het daaraan gedink om hulle uit te roei, as Moses, sy uitverkorene, nie by Hom in die bres getree het vir hulle om sy vernietigende toorn af te weer nie. Hulle het 'n kosbare land afgewys; hulle het nie sy woord geglo nie. Hulle het in hulle tente gemor en nie na die stem van die HERE geluister nie. Hy het met sy hand omhoog gesweer om hulle in die woestyn neer te vel, om hulle nageslag neer te vel onder die nasies, hulle te verstrooi in ander lande. Hulle het hulle ook aan Baäl-Peor verbind en offerandes aan dooies geëet. Hulle het Hom met hulle optrede getart, en 'n plaag het onder hulle uitgebreek. Pinehas het opgestaan, tussenbeide getree, en die plaag is gestuit. Dit is hom toegereken as 'n regverdige daad, van geslag tot geslag, vir altyd.