Maar hulle het gou-gou weer vergeet wat die Here gedoen het. Hulle was nie bereid om te wag totdat Hy vir hulle sê wat om te doen nie. Daar in die woestyn het hulle net aan hulleself gedink. Met hulle aanhoudende gekla het hulle God kwaad gemaak. Hulle het sy geduld beproef deur te eis dat Hy vir hulle kos gee. Hy het vir hulle gegee wat hulle gevra het, maar Hy het hulle geestelik laat uithonger. Hulle het op ’n dag jaloers geraak op Moses en op Aäron, die een wat in die Here se diens gestaan het. Die aarde het toe oopgegaan en Datan ingesluk. Abiram se klomp handlangers is ook van die aardbol afgevee. ’n Vuur het onder hulle gebrand. Daar het niks van almal wat nie voor God wou buig oorgebly nie. By die berg Horeb het die volk ’n kalf van metaal gemaak, hulle eie handewerk aanbid. Hulle het die allerheiligste God verruil vir ’n dooie beeld, vir ’n beeld van ’n bul wat gras vreet. Hulle het heeltemal vergeet hoe God hulle gered het. Hulle het vergeet watter groot dinge Hy daar in Egipte gedoen het, sy magtige dade in die land van Gam en sy reusewonderwerk by die Rietsee. God se geduld met sy volk was op. Hy wou Israel vernietig, maar Moses, sy kneg, het Hom gesmeek om dit nie te doen nie. Hy het God se woede laat bedaar en gekeer dat die volk weggevee word. Die volk het die wonderlike land wat op hulle gewag het, deur hulle vingers laat glip; hulle het die Here nie op sy woord gevat nie. Al wat hulle gedoen het, was om in hulle woonplekke te sit en kla. Hulle het hulle ore toegedruk as die Here met hulle praat. Toe het God besluit: Genoeg is genoeg! Hy het gesê dat nie een van hulle die woestyn lewendig sou verlaat nie. Hulle kinders sou oor die aarde verstrooi word, hulle sou tussen ongelowiges gaan bly. Die volk het ook voor Baäl-Peor gebuig, hulle het kos geëet wat aan afgode wat dood is, geoffer is. Wat hulle gedoen het, het die Here baie kwaad gemaak; daarom dat ’n verskriklike siekte hulle getref het. Gelukkig het Pinehas ingegryp en die skuldiges gestraf. Toe het die siekte opgehou. Pinehas het gedoen wat reg is, sy nageslag sal dit altyd onthou.
Lees Psalms 106
Deel
Vergelyk alle weergawes: Psalms 106:13-31
Stoor verse, lees vanlyn, kyk na onderrigsnitte, en meer!
Tuisblad
Bybel
Leesplanne
Video's