Moenie slegte mense beny nie,
moenie by hulle wil wees nie;
al waaroor hulle dink, is geweld,
en al waaroor hulle praat, is moeilikheid maak.
Daar is verstand nodig om 'n huis te bou,
insig om sy fondamente te lê,
kennis om sy kamers te vul
met allerhande kosbare en mooi goed.
Dit is die wyse man wat sterk is,
die een wat kennis het, wat werklik mag het.
Jy maak oorlog ná beraadslaging,
en die oorwinning kom deur baie raadgewers.
Wysheid is bo 'n dwaas se begrip;
hy kan dit nie waag om sy mond oop te maak
waar leiers beraadslaag nie.
Een wat beplan om kwaad te doen,
kry die naam van 'n knoeier.
'n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie;
mense verafsku 'n ligsinnige mens.
As jy weifel op die dag van nood,
is jy nie opgewasse daarvoor nie.
Red dié wat na hulle dood toe gesleep word,
dié wat val-val op pad is
om doodgemaak te word as jy nie keer nie.
As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”,
sal God wat die gedagtes toets,
weet wat die waarheid is.
Hy wat oor jou wag hou, Hy weet
en Hy vergeld 'n mens vir wat hy gedoen het.
Eet heuning, my seun, dit is lekker;
die stroop is soet in jou mond.
So smaak die kennis, die wysheid ook;
as jy dié gekry het, het jy 'n toekoms,
en jou hoop sal jou nie ontneem word nie.
Moenie soos 'n slegte mens die regverdige by sy huis gaan voorlê
en sy woonplek verwoes nie.
Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op,
maar die goddeloses word deur rampe vernietig.
Moet jou nie verheug oor jou vyand se val nie,
moenie juig wanneer hy ondergaan nie.
Die Here sal sien wat jy doen, en dit sal verkeerd wees in sy oë,
en Hy sal jou vyand nie verder straf nie.
Moet jou nie ontstel oor skelms,
jou kwel oor goddelose mense nie,
want 'n slegte mens het nie 'n toekoms nie;
die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof.
Dien die Here, my seun, en ook die koning;
moet jou nie ophou met oproermakers nie.
Hulle ondergang kom skielik;
niemand weet wanneer die Here
en die koning hulle vernietig nie.