SPREUKE 24:1-22
SPREUKE 24:1-22 Bybel vir almal (ABA)
Jy moenie soos slegte mense wil wees nie, jy moenie verlang om saam met hulle te wees nie. Hulle dink altyd oor hoe hulle mense kan seermaak en doodmaak, hulle praat altyd oor hoe hulle ander mense kan laat swaarkry. Iemand wat wysheid het, kan 'n huis bou. As hy verstandig is, dan kan hy die huis sterk bou sodat dit vas staan. As hy weet hoe om dit te doen, dan kan hy die kamers volmaak met baie kosbare en mooi goed. Wanneer iemand wysheid het, dan is hy sterk, en wanneer hy weet hoe om te lewe, dan word hy nog sterker. Ja, jy moet eers jou planne gereedmaak, dan kan jy oorlog maak, en jy sal die oorlog wen as jy baie raadgewers het. 'n Dwaas verstaan niks van wysheid nie, wanneer leiers praat, dan kan hy nie saam met hulle praat nie. Wanneer iemand planne maak om verkeerde dinge te doen, dan sê die mense hy is 'n man wat skelm dinge wil doen. Wanneer 'n dwaas skelm dinge wil doen, dan kry hy dit nie reg nie, want mense haat 'n persoon wat altyd wil spot. As jy nie weet wat om te doen wanneer dit gevaarlik is nie, dan is jy nie sterk genoeg nie. Wanneer jy sien dat mense gevangenes wegsleep om hulle dood te maak, wanneer jy weet dat hulle sal sterf as jy nie help nie, dan móét jy hulle red. Jy mag nie sê: “Ons het dit nie gesien nie,” want daar is Iemand wat in jou hart kyk, Hy weet wat gebeur en Hy kyk wat jy doen, Hy weet en Hy sal dieselfde aan jou doen wat jy aan ander mense doen. My seun, heuning is lekker om te eet, stroop is soet in jou mond. Die wysheid is ook so, om te weet wat om te doen, is ook so. As jy wysheid kry, dan sal dit goed gaan met jou, en jy sal aanhou lewe. Jy moenie wag by die huis van die mens wat reg lewe nie, jy moenie planne maak om sy huis te verwoes nie. Mense wat verkeerd lewe, doen daardie dinge. 'n Mens wat reg lewe, kan baie maal val, maar hy staan elke maal weer op. Maar wanneer die mense wat verkeerd doen, val, dan gaan dit sleg met hulle. Jy moenie bly wees wanneer jou vyand val nie, jy moenie juig wanneer hy sterf nie. Want die Here sal sien wat jy doen, en Hy sal nie daarvan hou nie, Hy sal dan ophou om kwaad te wees vir jou vyand. Jy moenie kwaad en ontsteld word oor mense wat slegte dinge doen nie, jy moenie probeer wees soos die mense wat verkeerd doen nie. Want dit sal nie goed gaan met iemand wat verkeerde dinge doen nie, mense wat verkeerd doen, se lamp gaan dood, hulle sterf. Jy moet die Here én die koning respekteer en dien, jy moenie dinge doen saam met mense wat opstandig is nie, want dit gaan gou sleg met daardie mense, niemand weet wat alles met hulle kan gebeur nie.
SPREUKE 24:1-22 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)
WEES nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie. Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite. Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig; en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed. 'n Wyse man is sterk, en 'n man van kennis ontwikkel krag. Want deur goeie oorleg kan jy voorspoedig oorlog voer, en die oorwinning is deur die menigte van raadgewers. Die wysheid is vir die sot te hoog; in die poort maak hy sy mond nie oop nie. Hy wat hom voorneem om kwaad te doen, word 'n skelm genoem. Die sonde is 'n dwase voorneme, en die spotter is 'n gruwel vir die mensdom. Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid, dan skiet jou krag te kort. Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug! As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! — sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk. Eet heuning, my seun, want dit is goed, en heuningstroop is soet teen jou verhemelte. Erken dat die wysheid só is vir jou siel; as jy dit vind, dan is daar 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie. Loer nie, o goddelose, op die woning van die regverdige, verwoes sy verblyfplek nie. Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk. As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie, dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie. Vererg jou nie oor die kwaaddoeners nie, wees nie afgunstig op die goddelose nie. Want die kwaaddoener het geen toekoms nie, die lamp van die goddelose gaan dood. My seun, vrees die HERE en die koning, laat jou nie in met oproerige mense nie. Want skielik sal hulle ongeluk opkom, en die uitgang van hulle jare, wie weet dit?
SPREUKE 24:1-22 Afrikaans 1983 (AFR83)
Moenie slegte mense beny nie, moenie by hulle wil wees nie; al waaroor hulle dink, is geweld, en al waaroor hulle praat, is moeilikheid maak. Daar is verstand nodig om 'n huis te bou, insig om sy fondamente te lê, kennis om sy kamers te vul met allerhande kosbare en mooi goed. Dit is die wyse man wat sterk is, die een wat kennis het, wat werklik mag het. Jy maak oorlog ná beraadslaging, en die oorwinning kom deur baie raadgewers. Wysheid is bo 'n dwaas se begrip; hy kan dit nie waag om sy mond oop te maak waar leiers beraadslaag nie. Een wat beplan om kwaad te doen, kry die naam van 'n knoeier. 'n Dwaas se geknoei loop op niks uit nie; mense verafsku 'n ligsinnige mens. As jy weifel op die dag van nood, is jy nie opgewasse daarvoor nie. Red dié wat na hulle dood toe gesleep word, dié wat val-val op pad is om doodgemaak te word as jy nie keer nie. As jy sou sê: “Ons weet daar niks van af nie”, sal God wat die gedagtes toets, weet wat die waarheid is. Hy wat oor jou wag hou, Hy weet en Hy vergeld 'n mens vir wat hy gedoen het. Eet heuning, my seun, dit is lekker; die stroop is soet in jou mond. So smaak die kennis, die wysheid ook; as jy dié gekry het, het jy 'n toekoms, en jou hoop sal jou nie ontneem word nie. Moenie soos 'n slegte mens die regverdige by sy huis gaan voorlê en sy woonplek verwoes nie. Al val die regverdige hoeveel keer, hy staan weer op, maar die goddeloses word deur rampe vernietig. Moet jou nie verheug oor jou vyand se val nie, moenie juig wanneer hy ondergaan nie. Die Here sal sien wat jy doen, en dit sal verkeerd wees in sy oë, en Hy sal jou vyand nie verder straf nie. Moet jou nie ontstel oor skelms, jou kwel oor goddelose mense nie, want 'n slegte mens het nie 'n toekoms nie; die lewenslig van die goddeloses word uitgedoof. Dien die Here, my seun, en ook die koning; moet jou nie ophou met oproermakers nie. Hulle ondergang kom skielik; niemand weet wanneer die Here en die koning hulle vernietig nie.
SPREUKE 24:1-22 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)
Moenie slegte mense beny nie, en begeer nie om by hulle te wees nie; want hulle harte oorpeins verwoesting, en hulle lippe praat oor die aanrig van skade. Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstandigheid word dit gevestig. Deur kennis word kamers gevul met allerlei kosbare en lieflike dinge. 'n Wyse man het mag, en 'n man met kennis maak krag meer doeltreffend. Want deur goeie leierskap kan jy oorlog voer, en oorwinning kom deur baie raadgewers. Wysheid is onbereikbaar vir 'n sot; in die stadspoort maak hy sy mond nie oop nie. Wie planne beraam om kwaad te doen, word 'n aartsknoeier genoem. 'n Sotlike plan is sonde, en 'n spotter is vir 'n mens afstootlik. Gedra jy jou lafhartig in 'n tyd van nood, dan is jou krag beperk. Red hulle wat weggeneem word na die dood, dié wat na die slagplek strompel – moenie terughou nie! As jy sê, ‘Kyk, ons het dit nie geweet nie!’ sal Hy wat harte beoordeel, sal Hy nie daaraan aandag gee nie? En Hy wat jou lewe beskerm, sal Hy dit nie weet nie? Hy sal 'n mens vergeld ooreenkomstig sy dade. My seun, eet heuning, want dit is goed, en heuningkoek is soet in jou mond. Besef dan, só is wysheid vir jou lewe – as jy dit vind, is daar 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie. Moenie soos 'n goddelose die tuiste van 'n regverdige dophou nie; moenie sy rusplek verwoes nie. Want 'n regverdige sal sewe keer val en opstaan, maar goddeloses kom tot 'n val deur teenspoed. Wanneer jou vyand val, moet jou nie verheug nie; wanneer hy tot 'n val kom, laat jou hart nie jubel nie. Anders sien die HERE dit, en is dit verkeerd in sy oë; dalk wend Hy sy toorn van hom af. Moet jou nie ontstel oor kwaaddoeners nie; moet goddeloses nie beny nie. Want daar is nie 'n toekoms vir slegte mense nie; die lamp van goddeloses word uitgedoof. Jy moet ontsag hê vir die HERE my seun, en vir die koning; met hulle wat andersgesind is, moet jy jou nie inlaat nie. Want onverwags tref teenspoed hulle, en wie weet watter ramp die HERE en die koning kan bring?
SPREUKE 24:1-22 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)
Wees nie afgunstig op die bose mense nie, en begeer nie om by hulle te wees nie. Want hulle hart bestudeer verderf, en hulle lippe praat van onheil. Deur wysheid word 'n huis gebou; en deur begrip word dit vasgestel: En deur kennis sal die kamers gevul word met alle kosbare en lieflike rykdom. 'n Wyse man is sterk; ja, 'n man van kennis vermeerder krag. Want deur wyse raad sal jy jou oorlog voer, en in die menigte van raadgewers is daar veiligheid. Die wysheid is te hoog vir 'n dwaas: hy maak sy mond nie oop in die poort nie. Hy wat hom beraam om kwaad te doen, sal 'n kwaadwillige genoem word. Die gedagte van dwaasheid is sonde, en die spotter is vir die mense 'n gruwel. As jy beswyk op die dag van benoudheid, is jou krag gering. As jy nalaat om die wat na die dood getrek word, en die wat gereed is om gedood te word, te red; As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie; Beskou hy wat die hart oordink dit nie? en hy wat jou siel bewaar, weet hy dit nie? en sal hy nie elkeen vergelde volgens sy werke nie? My seun, eet heuning, want dit is goed; en die heuningkoek wat soet is na jou smaak; So sal die kennis van wysheid vir jou siel wees: as jy dit vind, dan sal daar 'n beloning wees, en jou verwagting sal nie afgesny word nie. Wag nie, o goddelose, op die woning van die regverdiges nie; sy rusplek nie bederf nie: Want 'n regverdige val sewe maal en staan weer op, maar die goddelose sal in onheil val. Wees nie bly as jou vyand val nie, en laat jou hart nie bly wees as hy struikel nie. Laat die HERE dit nie sien en dit nie in sy wil is nie, en Hy sy toorn van hom afwend. Moet jou nie bekommer oor die bose mense nie, en wees nie afgunstig op die goddelose nie; Want daar sal geen beloning wees vir die slegte mens nie; die lamp van die goddelose sal uitgedoof word. My seun, vrees jy die HERE en die koning, en bemoei jou nie met die wat verander is nie. Want hulle rampspoed sal skielik opstaan; en wie ken die ondergang van hulle altwee?
SPREUKE 24:1-22 Die Boodskap (DB)
Moet niks van slegte mense wil hê nie. Moet onder geen omstandighede met hulle bevriend raak nie. Hulle dink net aan verkeerde dinge. Hulle maak net moeilikheid. ’n Gelukkige gesinslewe kom nie vanself nie. ’n Mens moet hard daarvoor werk. Dit is soos ’n huis wat jy bou. Alles moet netjies beplan word. Baie dinkwerk is nodig om dit ’n lekker plek te maak. Fyn smaak is nodig om dit mooi te maak. Wysheid is beter as fisieke krag. Dit maak jou geestelik sterk. Dit help jou om jou probleme op te los. Mense wat die lewe ken, kan jou ook baie help. Hulle sal jou leer om jou daaglikse moeilikhede te hanteer. Wysheid is bo ’n dom mens se vuurmaakplek. Jy tref ’n domme ook nie aan tussen mense wat die lewe ken nie. Natuurlik omdat hy bang is hulle hoor sy domheid. Iemand wat net slegte dinge beplan, kry gou-gou ’n baie slegte naam. Waaroor hy dink en wat hy doen, is een stuk sonde. Vir die gemeenskap is hy ’n verleentheid. ’n Krisis leer jou hoe sterk jy werklik is. As jy ondergaan, was jou kragte maar min. Moenie net toekyk hoe mense onregverdig behandel word nie. Doen iets! Moenie toelaat dat hulle lewens verwoes word nie. Stop dit! Moenie agterna sê jy het niks daarvan geweet nie. Die Here ken ons en weet wat ons dink. Vir Hom kan ons niks wegsteek nie. Hy oordeel elkeen volgens sy werke. Heuning is gesond, lekker om te eet. So is die wysheid ook. Dit is goed vir die gesondheid. Dit waarop die wyse hoop, sal gebeur. Moenie soos ’n slegte mens op ’n medegelowige trap nie. Moenie sy eiendom beskadig of sy huismense seermaak nie. ’n Gelowige staan elke keer na ’n terugslag weer op. Mense wat die Here nie ken nie, oorleef dit nie. Hulle het nie die moed om weer van voor af te begin nie. Moenie bly wees as dit met ander sleg gaan nie, al hou jy niks van hulle nie. As jy dit doen, stel jy die Here teleur. Op ’n goeie dag help Hy weer sulke mense. Moenie jou ontstel oor wat slegte mense aanvang nie. Moet niks van hulle wil hê nie. Hulle het niks om op te hoop nie. Hulle gaan sonder die Here dood. Jy moet die Here liefhê en jou leiers respekteer. Moenie jou ophou met mense wat magshonger is en net hulle eie belang soek nie. ’n Skielike ramp kan hulle tref, dan is dit klaarpraat met hulle.
SPREUKE 24:1-22 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)
Moenie slegte mense beny en hulle geselskap begeer nie. Hulle dink net aan geweld. Hulle praat net daaroor om moeilikheid te maak. Met wysheid word ’n huis gebou. Insig is nodig om dit te onderhou. Kennis is nodig om sy kamers te meubileer met allerhande kosbare en waardevolle artikels. ’n Wyse man het krag. Iemand met kennis is sterk. Jy gaan maak eers oorlog nadat jy goed beplan het. Oorwinning kom wanneer baie raadgewers koppe bymekaargesit het. Wysheid is buite die begrip van ’n dwaas. Wanneer hulle in die stadspoort beraadslaag, is hy nie in staat om sy mond oop te maak nie. Iemand wat altyd sit en beplan om kwaad te doen word ’n knoeier genoem. Die knoeiery van die dwaas is sonde. Almal verag spotters. As jou knieë knak wanneer die krisis opduik, is jou krag maar baie min. Red die mense wat onskuldig na die galg toe gesleep word. Hulle sal doodgemaak word as jy nie keer nie. Moenie jou verontskuldig en sê: “Ons het nie geweet nie.” Hy wat die gedagtes toets, weet mos wat waarheid is. Hy wat sy hand oor jou hou, weet wat waar is. God roep elkeen tot verantwoording vir wat hy gedoen het. My kind, jy moet heuning eet. Dit is goed vir jou. Heuningstroop is lekker in die mond. Net so, moet jy weet, is wysheid vir jou lewe. As jy daarop afgekom het, is daar vir jou ’n toekoms. Jou hoop sal nie verydel word nie. Moenie ’n regverdige mens by sy huis gaan voorlê en soos ’n goddelose mens sy woonplek verwoes nie. Selfs al val ’n regverdige mens sewe keer, hy sal elke keer weer opstaan. Die goddelose mens sal bly lê na net een ramp. Jy moenie bly wees as jou vyand val nie. Moenie jou daarin verheug dat hy gestruikel het nie. Die HERE sal sien wat jy doen en sal ontevrede wees. Hy sal jou vyand nie verder straf nie. Moenie jou ontstel oor kwaaddoeners nie. Moenie afgunstig wees op goddelose mense nie. Vir iemand wat kwaad doen, is daar geen toekoms nie. Die lewenslig van goddeloses gaan dood. My kind, betoon eerbied aan die HERE en die koning. Moet jou nie ophou met mense wat teen hulle in opstand is nie. Hulle ondergang kom skielik; niemand weet watter teëspoed God of die koning oor hulle gaan bring nie.