WEES nie afgunstig op die kwaaddoeners nie, en begeer nie om met hulle saam te wees nie.
Want hulle hart bedink verwoesting, en hulle lippe spreek moeite.
Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstand word dit bevestig;
en deur kennis word die kamers gevul met allerhande kosbare en lieflike goed.
'n Wyse man is sterk, en 'n man van kennis ontwikkel krag.
Want deur goeie oorleg kan jy voorspoedig oorlog voer, en die oorwinning is deur die menigte van raadgewers.
Die wysheid is vir die sot te hoog; in die poort maak hy sy mond nie oop nie.
Hy wat hom voorneem om kwaad te doen, word 'n skelm genoem.
Die sonde is 'n dwase voorneme, en die spotter is 'n gruwel vir die mensdom.
Gedra jy jou slap in die dag van benoudheid, dan skiet jou krag te kort.
Red die wat na die dood gesleep word, en die wat na die slagbank wankel, hou hulle tog terug!
As jy sê: Kyk, ons het dit nie geweet nie! — sal Hy wat die harte toets, dit nie merk nie? En Hy wat let op jou siel, Hy kom dit te wete. En Hy vergeld die mens na sy werk.
Eet heuning, my seun, want dit is goed, en heuningstroop is soet teen jou verhemelte.
Erken dat die wysheid só is vir jou siel; as jy dit vind, dan is daar 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie.
Loer nie, o goddelose, op die woning van die regverdige, verwoes sy verblyfplek nie.
Want sewe maal val die regverdige en staan weer op, maar die goddelose struikel in die ongeluk.
As jou vyand val, verheug jou nie; en as hy struikel, laat jou hart nie juig nie,
dat die HERE dit nie sien en dit miskien verkeerd is in sy oë en Hy sy toorn van hom afwend nie.
Vererg jou nie oor die kwaaddoeners nie, wees nie afgunstig op die goddelose nie.
Want die kwaaddoener het geen toekoms nie, die lamp van die goddelose gaan dood.
My seun, vrees die HERE en die koning, laat jou nie in met oproerige mense nie.
Want skielik sal hulle ongeluk opkom, en die uitgang van hulle jare, wie weet dit?