Spreuke 24:1-22

Spreuke 24:1-22 AFR20

Moenie slegte mense beny nie, en begeer nie om by hulle te wees nie; want hulle harte oorpeins verwoesting, en hulle lippe praat oor die aanrig van skade. Deur wysheid word 'n huis gebou, en deur verstandigheid word dit gevestig. Deur kennis word kamers gevul met allerlei kosbare en lieflike dinge. 'n Wyse man het mag, en 'n man met kennis maak krag meer doeltreffend. Want deur goeie leierskap kan jy oorlog voer, en oorwinning kom deur baie raadgewers. Wysheid is onbereikbaar vir 'n sot; in die stadspoort maak hy sy mond nie oop nie. Wie planne beraam om kwaad te doen, word 'n aartsknoeier genoem. 'n Sotlike plan is sonde, en 'n spotter is vir 'n mens afstootlik. Gedra jy jou lafhartig in 'n tyd van nood, dan is jou krag beperk. Red hulle wat weggeneem word na die dood, dié wat na die slagplek strompel – moenie terughou nie! As jy sê, ‘Kyk, ons het dit nie geweet nie!’ sal Hy wat harte beoordeel, sal Hy nie daaraan aandag gee nie? En Hy wat jou lewe beskerm, sal Hy dit nie weet nie? Hy sal 'n mens vergeld ooreenkomstig sy dade. My seun, eet heuning, want dit is goed, en heuningkoek is soet in jou mond. Besef dan, só is wysheid vir jou lewe – as jy dit vind, is daar 'n toekoms, en jou hoop sal nie verydel word nie. Moenie soos 'n goddelose die tuiste van 'n regverdige dophou nie; moenie sy rusplek verwoes nie. Want 'n regverdige sal sewe keer val en opstaan, maar goddeloses kom tot 'n val deur teenspoed. Wanneer jou vyand val, moet jou nie verheug nie; wanneer hy tot 'n val kom, laat jou hart nie jubel nie. Anders sien die HERE dit, en is dit verkeerd in sy oë; dalk wend Hy sy toorn van hom af. Moet jou nie ontstel oor kwaaddoeners nie; moet goddeloses nie beny nie. Want daar is nie 'n toekoms vir slegte mense nie; die lamp van goddeloses word uitgedoof. Jy moet ontsag hê vir die HERE my seun, en vir die koning; met hulle wat andersgesind is, moet jy jou nie inlaat nie. Want onverwags tref teenspoed hulle, en wie weet watter ramp die HERE en die koning kan bring?