SPREUKE 22:1-16

SPREUKE 22:1-16 AFR83

'n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud. Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak. 'n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor. Wie nederig is, dien die Here en ontvang rykdom, eer en lewe. Daar is dorings en strikke op die pad van oneerlikheid; wie sy lewe wil behou, bly daar weg. Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen. 'n Koning wat onreg saai, sal teenspoed oes; daar sal 'n end kom aan sy hardvogtige heerskappy. Wie mededeelsaam is, word geseën, want hy gee van sy kos vir arm mense. As jy 'n ligsinnige mens wegjaag, hou die rusies op en kom die getwis en beledigings tot 'n end. Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat, het selfs die koning tot vriend. Die Here sorg dat die regte insig behoue bly; Hy sorg dat die woorde van 'n onbetroubare mens geen uitwerking het nie. Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!” Die uitnodiging uit die mond van 'n slegte vrou is 'n diep afgrond; jy val daarin as die Here jou vervloek het. Onverstandigheid is eie aan 'n jongmens, maar 'n pak slae haal dit uit hom uit. Wie arm mense uitbuit, verryk homself; wie aan ryk mense geskenke gee, word self arm.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid