Spreuke 22:1-16

Spreuke 22:1-16 AFR20

'n Goeie naam is verkieslik bo groot rykdom, egte innemendheid bo silwer en goud. Rykes en armes het dít gemeen: Die HERE het hulle almal gemaak. 'n Slim mens sien gevaar en skuil, maar onverstandiges gaan voort en betaal die prys. Die beloning vir nederigheid en ontsag vir die HERE is rykdom, eer en lewe. Dorings en wippe is op die pad van 'n vals persoon; wie sy lewe wil beskerm, bly ver daarvan weg. Rig die jongmens af ooreenkomstig die pad wat hy moet loop; selfs wanneer hy oud geword het, sal hy nie daarvan afwyk nie. 'n Ryke heers oor armes, en wie leen, is 'n slaaf van die man wat uitleen. Wie onreg saai, sal boosheid oes, en die lat van sy woedebui sal tot niet gaan. Wie ruimhartig is, sal geseën word, want hy gee van sy brood aan die hulpelose. Dryf 'n spotter weg, dan is stryd by die deur uit, en eise en skandalige optrede hou op. Wie 'n rein hart liefhet, wie innemend praat, sal 'n koning as sy vriend hê. Die oë van die HERE bewaak kennis, en die sake van 'n bedrieër werp Hy omver. Die luiaard sê: “Daar is 'n leeu buite! Binne-in die dorpspleine sal ek doodgemaak word!” Die mond van vreemde vroue is 'n diep vangkuil; wie deur die HERE verdoem is, sal daarin val. Sotheid wat vas is aan die hart van 'n jong seun – 'n lat wat straf, neem dit ver van hom weg. Wie 'n arm mens uitbuit om vir homself meer te kry, en aan 'n ryk mens geskenke gee – dit lei net tot gebrek.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid