SPREUKE 22:1-16

SPREUKE 22:1-16 Bybel vir almal (ABA)

Dit is beter om te weet dat mense jou sal onthou, beter as om ryk te wees. Dit is beter om vriendelik te wees as om silwer en goud te hê. Ryk en arm mense is vir die Here dieselfde, Hy het hulle almal gemaak. 'n Verstandige mens sien wanneer daar probleme kom, en hy vlug. Mense wat baie min weet, vlug nie, en hulle kry swaar. Wanneer iemand nederig is en hy respekteer en dien die Here, dan word hy ryk, en mense respekteer hóm, en hy lewe lank. Daar is dorings en vangstrikke op die pad van skelm mense, maar iemand wat wil aanhou lewe, loop nie op daardie verkeerde pad nie. Wanneer jy vir 'n jongmens leer hoe hy moet lewe, dan hou hy aan om so te lewe, ook wanneer hy oud geword het. Ryk mense regeer oor arm mense, en iemand wat geld geleen het, word die slaaf van die persoon by wie hy die geld geleen het. Dit sal sleg gaan met iemand wat slegte dinge doen aan ander mense, hy sal straf kry omdat hy dink hy kan doen wat hy wil. Die Here sal die persoon seën wat goed is vir ander mense en wat vir arm mense van sy kos gee. Wanneer jy iemand wegjaag wat altyd wil spot, dan sal die mense ophou twis, en dan kan hy nie meer mense beskuldig en beledig nie. Wanneer iemand eerlik lewe en vriendelik is, dan is die koning sy vriend. Mense kan aanhou leer hoe om te lewe omdat die Here regeer. Hy laat die dinge wat verraaiers sê, nie gebeur nie. 'n Lui mens sê: “Daar is 'n leeu daar buite. Hy sal my vang as ek uitgaan.” Wanneer 'n slegte vrou jou uitnooi, dan is dit soos wanneer jy by 'n diep gat staan. As die Here jou vervloek, dan sal jy in die gat val. 'n Jongmens kan maklik 'n dwaas word, maar 'n pak slae sal help dat hy nie 'n dwaas word nie. Iemand wat arm mense verdruk, wil homself ryk maak, maar iemand wat presente gee vir ryk mense, word self arm.

SPREUKE 22:1-16 Afrikaans 1983 (AFR83)

'n Goeie naam is meer werd as groot rykdom, die goeie gesindheid van ander meer as silwer en goud. Voor die Here is ryk en arm gelyk; Hy het hulle almal gemaak. 'n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit; onervare mense loop oop oë daarin en boet daarvoor. Wie nederig is, dien die Here en ontvang rykdom, eer en lewe. Daar is dorings en strikke op die pad van oneerlikheid; wie sy lewe wil behou, bly daar weg. Gee leiding aan 'n jongmens oor hoe hy moet leef, en hy sal ook as hy al oud is nie daarvan afwyk nie. Die ryke heers oor die arme; die lener is die slaaf van die man by wie hy leen. 'n Koning wat onreg saai, sal teenspoed oes; daar sal 'n end kom aan sy hardvogtige heerskappy. Wie mededeelsaam is, word geseën, want hy gee van sy kos vir arm mense. As jy 'n ligsinnige mens wegjaag, hou die rusies op en kom die getwis en beledigings tot 'n end. Wie daarop prys stel om opreg te wees en vriendelik te praat, het selfs die koning tot vriend. Die Here sorg dat die regte insig behoue bly; Hy sorg dat die woorde van 'n onbetroubare mens geen uitwerking het nie. Die lui mens sê: “Daar is 'n leeu daarbuite! Ek kan doodgemaak word as ek dit buite waag!” Die uitnodiging uit die mond van 'n slegte vrou is 'n diep afgrond; jy val daarin as die Here jou vervloek het. Onverstandigheid is eie aan 'n jongmens, maar 'n pak slae haal dit uit hom uit. Wie arm mense uitbuit, verryk homself; wie aan ryk mense geskenke gee, word self arm.

SPREUKE 22:1-16 Die Boodskap (DB)

’n Goeie naam is beter as geld. Ander se liefde is kosbaarder as groot rykdom. Ryk en arm kan ook saamwoon. Die Here het hulle immers albei geskep. ’n Slim mens weet wanneer gevaar dreig. Hy weet hoe om dit te vermy. ’n Dom mens ken nie die lewe nie. Hy sukkel maar net aan. Mense wat die Here liefhet en nederig lewe, geniet respek en die goeie dinge van die lewe. Verkeerde dinge lyk mooi, maar die uiteinde is bitter. ’n Wyse bly ver weg van sulke dinge af. Leer ’n kind vroeg hoe om te leef en hy sal tot sy oudag toe reg leef. ’n Ryke heers oor die armes wat hom geld vra. ’n Lener is die slaaf van die een by wie hy leen. ’n Regeerder wat heeltyd verkeerde dinge doen, sal nog die aaklige gevolge daarvan dra. Sy regering sal nie lank hou nie. Iemand wat mense se nood raaksien, ervaar blydskap. Hy wat vir armes gee, is ’n gelukkige mens. As ’n rusiemaker weggaan, is alles sommer rustiger en kalmer. Onderlinge rusie en spanning sal dadelik ophou. Die mens wat reg optree en reg praat, sal selfs die regeerder onder sy vriende tel. Die Here sien alles wat ’n wyse en ’n domme sê en doen. Hy help ’n mens om reg te leef. Hy vernietig bose planne. ’n Luiaard oordryf altyd alles. As hy nie lus is vir werk nie, sê hy sommer ’n kwaai leeu wag daar buite. As hy sou uitgaan, sal die leeu hom opvreet. Pas op vir die praatjies van ’n los vrou. Dit is soos ’n put. Voordat jy jou kom kry, het jy daarin geval. So straf die Here ’n mens wat aan haar verleidings toegee. Tug is nodig! As ’n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede. God help die armes! Veral as mense hulle uitbuit. Wie geld op rykes bestee, moet net gee en gee. Naderhand het hy niks meer oor nie.

SPREUKE 22:1-16 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Soek eerder na ’n goeie naam as na groot rykdom. Hoë aansien is beter as silwer of goud. Vir mense, ryk en arm, is dit dieselfde: die HERE het hulle almal gemaak. Iemand wat verstandig is, sien wanneer die onheil kom en kruip weg. Die onervare mens loop oopoë daarin vas en boet daarvoor. Iemand wat nederig is en respek het vir die HERE, kry rykdom, eer en lewe. Op ’n oneerlike mens se pad is daar dorings en lokvalle. Iemand wat omgee vir homself, bly ver daarvan weg. Leer ’n jongmens om die regte pad te kies, en wanneer hy eendag oud is, sal hy nie daarvan afwyk nie. Soos rykes oor armes heers, so is die man wat geld leen die slaaf van die man by wie hy leen. ’n Geweldenaar wat onreg saai, sal teëspoed oes. Ook sy verdrukking van ander sal tot ’n einde kom. ’n Vrygewige man wat van sy kos vir armes gee, sal geseën word. Jaag die spotter weg en saam met hom sal rusies padgee; die gestry en beledigings sal tot ’n einde kom. Wie graag opreg wil wees en mooi praat met ander, het selfs die koning as vriend. Die HERE hou kennis in stand. Hy keer die woorde van die onbetroubare mens om. “Daar is ’n leeu daarbuite!” sê die luiaard. “Ek sal gevang word as ek dit buite waag!” ’n Vreemde vrou se woorde is ’n bodemlose put; as die HERE vir jou kwaad is, sal jy daarin val. Dwaasheid is eie aan ’n seun; ’n pak slae haal dit uit hom uit. Wie arm mense verontreg om homself te verryk, of vir die rykes geskenke gee, sal self in armoede verval.

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid