SPREUKE 10:16-32

SPREUKE 10:16-32 AFR83

Die regverdige ontvang die lewe as beloning; die goddelose oes net straf. Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af. Agter die woorde van 'n huigelaar sit daar haat; wie skinderstories versprei, is 'n dwaas. Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig. Die woorde van die regverdige is die fynste silwer werd; die gedagtes van die goddelose is min werd. Met wat die regverdige sê, sorg hy vir baie; 'n dwaas gebruik nie sy verstand nie en bring die dood oor homself. Dit is die seën van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie. Die dwaas geniet dit om hom skandalig te gedra, maar die mens met insig geniet die wysheid. Wat die goddelose vrees, kom hom oor; wat die regverdige begeer, gee God hom. As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd staan. Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë, so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee. Wie die Here dien, lewe lank; wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min. Vir die regverdiges lê daar vreugde voor; die goddeloses het geen toekoms nie. Om te leef soos die Here dit wil, is die krag van die opregte; vir dié wat onreg doen, wag daar ondergang. Die regverdige wankel nooit, die goddeloses sal nie die land bly bewoon nie. Daar kom wysheid uit die mond van die regverdige, 'n tong wat kwaad stig, sal uitgesny word. Die regverdige weet om die gepaste ding te sê; die goddeloses stig kwaad met wat hulle sê.