SPREUKE 10:16-32

SPREUKE 10:16-32 Bybel vir almal (ABA)

Die beloning van 'n mens wat reg doen, is die lewe self, alles wat die mens doen wat verkeerd lewe, is sonde. 'n Mens wat onthou wat hy geleer het, loop op die pad van lewe, 'n mens wat nie doen wat hy moet doen nie, weet nie waarnatoe hy gaan nie. 'n Mens wat ander mense haat, is vals wanneer hy praat, dit is 'n dwaas wat skinder oor ander mense. Die mens wat baie praat, sê maklik verkeerde dinge, die mens wat versigtig is en dink voordat hy praat, is verstandig. Die woorde van 'n mens wat reg lewe, is soos die beste silwer, die dinge wat mense dink wat verkeerd doen, beteken niks. Wanneer 'n mens wat reg lewe, praat, dan is hy soos 'n herder vir baie mense. Dwase sterf omdat hulle onverstandig is. Dit is die seën van die Here wat mense ryk maak, en Hy laat mense nie méér swaarkry omdat hulle ryk is nie. Dit is vir 'n dwaas lekker om slegte dinge te doen, vir 'n verstandige mens is dit lekker om wysheid te hê. Die mens wat verkeerd doen, kry die dinge waarvoor hy bang is. Die Here gee vir die mense wat reg lewe, alles wat hulle wil hê. Wanneer daar 'n stormwind kom, dan waai dit die mense weg wat verkeerd doen. Mense wat reg lewe, staan altyd vas. Jy moenie 'n lui mens stuur om iets te doen nie, hy is soos asyn vir jou tande, soos rook vir jou oë. As iemand die Here respekteer en Hom dien, dan sal daardie persoon lank lewe. Mense wat verkeerd doen, se lewe is kort. Mense wat reg lewe, sal gelukkig wees, mense wat verkeerd doen, kan nie hoop dat dit later goed sal gaan nie. Mense wat aanhou lewe soos die Here wil hê, is veilig, mense wat slegte dinge doen, sal sterf. Die mens wat reg lewe, sal altyd vas staan en veilig wees. Mense wat verkeerd doen, sal nie altyd in die land woon nie. Wanneer 'n mens wat reg doen, praat, dan sê hy dinge wat wysheid is. 'n Mens wat altyd ander mense bedrieg, sal moet stilbly. 'n Mens wat reg lewe, weet wat die regte ding is om te sê, mense wat verkeerd doen, wil altyd ander mense bedrieg.

SPREUKE 10:16-32 Afrikaans 1933/1953 (AFR53)

Wat die regverdige verwerf, is vir die lewe; die inkomste van die goddelose is tot sonde. 'n Pad ten lewe is hy wat die tug in ag neem; maar hy wat die teregwysing veronagsaam, raak verdwaald. Hy wat haat verberg, het valse lippe; en hy wat skindertaal uitstrooi, is 'n dwaas. By veelheid van woorde ontbreek die oortreding nie; maar hy wat sy lippe inhou, handel verstandig. Die tong van die regverdige is uitgesoekte silwer; die hart van die goddelose is min werd. Die lippe van die regverdige help baie mense reg; maar die dwase sterf deur gebrek aan verstand. Die seën van die HERE — dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie. Dit is 'n vermaak vir 'n dwaas om 'n skandelike daad te doen, net so is wysheid vir 'n man van verstand. Waar die goddelose bang voor is — dit kom oor hom; maar die begeerte van die regverdiges vervul Hy. Wanneer 'n stormwind verbygaan, is die goddelose nie meer nie; maar die regverdige is vir ewig gegrondves. Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur. Die vrees van die HERE vermeerder die dae, maar die jare van die goddelose word verkort. Die verwagting van die regverdiges is vreugde, maar die hoop van die goddelose vergaan. Die weg van die HERE is vir die opregte 'n vesting, maar 'n ondergang vir die werkers van ongeregtigheid. Die regverdige sal vir ewig nie wankel nie, maar die goddelose sal in die land nie bly woon nie. Die mond van die regverdige laat wysheid uitspruit, maar die valse tong word uitgeroei. Die lippe van die regverdige weet wat welgevallig is, maar die mond van die goddelose is pure valsheid.

SPREUKE 10:16-32 Afrikaans 1983 (AFR83)

Die regverdige ontvang die lewe as beloning; die goddelose oes net straf. Wie hom laat leer, ken die pad na die lewe; wie teregwysing verwerp, dwaal van dié pad af. Agter die woorde van 'n huigelaar sit daar haat; wie skinderstories versprei, is 'n dwaas. Met baie praat bly die sonde nie uit nie; wie sy woorde tel, is verstandig. Die woorde van die regverdige is die fynste silwer werd; die gedagtes van die goddelose is min werd. Met wat die regverdige sê, sorg hy vir baie; 'n dwaas gebruik nie sy verstand nie en bring die dood oor homself. Dit is die seën van die Here wat rykdom bring; jou geswoeg laat dit nie meer word nie. Die dwaas geniet dit om hom skandalig te gedra, maar die mens met insig geniet die wysheid. Wat die goddelose vrees, kom hom oor; wat die regverdige begeer, gee God hom. As die stormwind kom, is die goddelose daarmee heen, maar die regverdige bly altyd staan. Soos asyn teen die tande, soos rook in die oë, so is 'n lui mens vir iemand wat hom 'n opdrag gee. Wie die Here dien, lewe lank; wie sonder Hom lewe, se lewensjare is min. Vir die regverdiges lê daar vreugde voor; die goddeloses het geen toekoms nie. Om te leef soos die Here dit wil, is die krag van die opregte; vir dié wat onreg doen, wag daar ondergang. Die regverdige wankel nooit, die goddeloses sal nie die land bly bewoon nie. Daar kom wysheid uit die mond van die regverdige, 'n tong wat kwaad stig, sal uitgesny word. Die regverdige weet om die gepaste ding te sê; die goddeloses stig kwaad met wat hulle sê.

SPREUKE 10:16-32 Die Bybel 2020-vertaling (AFR20)

Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde. Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op 'n dwaalweg. Wie haat verberg, het leuenagtige lippe, en wie 'n gerug versprei, is 'n dwaas. By 'n oorvloed woorde bly oortredings nie uit nie; maar wie sy lippe in bedwang hou, is verstandig. Uitgesoekte silwer is op die tong van 'n regverdige; die gedagtes van goddeloses is min werd. Die lippe van 'n regverdige voed vele; maar sotte sterf deur 'n gebrek aan verstand. Die seën van die HERE – dit is wat ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie. Soos dit vir 'n dwaas 'n plesier is om 'n skandelike daad te begaan, so is wysheid vir 'n skerpsinnige mens. Wat 'n goddelose vrees, dit kom hom oor; maar wat regverdiges begeer, dit gee God. Wanneer 'n storm verbytrek, is 'n goddelose nie meer daar nie, maar 'n regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en rook vir die oë, so is 'n leeglêer vir die een wat hom stuur. Ontsag vir die HERE verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan. Die weg van die HERE is 'n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. 'n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie. Die mond van 'n regverdige bring wysheid voort, maar 'n verworde tong word afgesny. Die lippe van 'n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde.

SPREUKE 10:16-32 Contemporary Afrikaans Bible 2023 (CAB23)

Die arbeid van die regverdige lei tot die lewe, die vrug van die goddelose om te sondig. Hy is op die weg van die lewe wat tug bewaar, maar hy wat teregwysing weier, dwaal. Hy wat haat met leuenagtige lippe verberg, en hy wat laster uitspreek, is 'n dwaas. In die veelheid van woorde ontbreek die sonde nie, maar hy wat sy lippe terughou, is wys. Die tong van die regverdige is soos uitgesoekte silwer: die hart van die goddelose is min werd. Die lippe van die regverdiges voed baie, maar dwase sterf weens gebrek aan wysheid. Die seën van die HERE, dit maak ryk, en Hy voeg geen droefheid daarby nie. Vir 'n dwaas is dit 'n plesier om kwaad te doen, maar 'n man van verstand het wysheid. Die vrees vir die goddelose, dit sal oor hom kom, maar die begeerte van die regverdige word gegee. Soos 'n stormwind verbygaan, so is die goddelose nie meer nie, maar die regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en soos rook vir die oë, so is die luiaard vir die wat hom stuur. Die vrees van die HERE verleng die dae, maar die jare van die goddelose word verkort. Die hoop van die regverdiges is blydskap, maar die verwagting van die goddelose vergaan. Die weg van die HERE is 'n sterkte vir die opregtes, maar die werkers van ongeregtigheid is vernietig. Die regverdige sal nooit wankel nie, maar die goddelose sal die aarde nie bewoon nie. Die mond van die regverdige bring wysheid voort, maar die verkeerde tong sal uitgeroei word. Die lippe van die regverdige weet wat welgevallig is, maar die mond van die goddelose spreek valsheid.

SPREUKE 10:16-32 Die Boodskap (DB)

Die loon van ’n mens wat reg lewe, is die lewe. Die loon van die mens wat verkeerd lewe, is straf. Wie hom deur die spreuke laat leer, is op die regte pad. Hy sal die lewe in al sy volheid geniet. Wie dit verwerp, veroorsaak sy eie ondergang. Wie iemand haat, vertel liegstories oor hom. Skinderpraatjies is tipies van ’n dwaas. Iemand wat aanmekaar babbel, lap geheime uit en sê verkeerde dinge. Iemand wat sy praatlus beheer, is slim. ’n Gelowige se woorde is kosbaar. Dit kan baie vir mense beteken. ’n Dwaas se woorde beteken niks. Hy het geen begrip vir die regte manier van lewe nie. Sy gepraat lei mense net in nog dieper ellende in. As die Here vir ons goed is, ervaar ons arms vol geluk. Dit kom nie uit onsself nie, maar net van Hom. Ander mense sal dit ook in ons lewens kan sien. ’n Dwaas se lekkerste tydverdryf is om verkeerde dinge te doen, dinge te sê wat seermaak, mense se lewens te vernietig. Maar die gelowige doen wat reg is. Iemand wat nie die Here liefhet nie, se lewe is een groot stuk angs. Dit waarvoor hy bang is, word dikwels waar. Maar hulle wat die Here liefhet, se wense word waar. Wanneer die ellende soos ’n storm kom wat alles wil vernietig, kan ’n goddelose dit nie baasraak nie. Hy stort heeltemal in duie. Maar die gelowige kan enige krisis te bowe kom. Soos asyn jou op jou tande laat kners, soos rook jou oë laat brand, so irriterend is ’n luiaard vir sy baas. Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewens is kort en vol angs. Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie. Die Here is die gelowige se krag. Sonder Hom is die lewe hel. ’n Gelowige sal altyd sy geloof behou. Ongelowiges sal alles verloor wat hulle het. ’n Gelowige se woorde is vol wysheid. Ander mense word daardeur verryk. Goddeloses se geklets beteken niks.

SPREUKE 10:16-32 Nuwe Lewende Vertaling (NLV)

Wat die regverdige verdien, gebruik hy om van te lewe. Wat die goddelose verdien, verkwis hy op oortredings. Mense wat hulle laat reghelp, is op die pad na die lewe. Hulle wat teregwysing verwerp, laat ander verdwaal. Wie sy haat agter woorde wegsteek, is ’n leuenaar. Hy wat skinderstories versprei, is ’n dwaas. Meer woorde bring nie minder sonde nie. Hy wat sy woorde tel, is verstandig. Die woorde van die regverdige is soos gekeurde silwer. Die gedagtes van die goddelose is min werd. Die regverdiges bring lewe deur hulle woorde. Die dwase vernietig hulleself weens ’n gebrek aan gesonde verstand. Dit is die HERE se seën wat rykdom bring. Hy gee nie hartseer daarmee saam nie. Dit is vir die dwaas lekker om verkeerd op te tree. Mense met insig geniet die wysheid. Goddelose mense kom die dinge oor waarvoor hulle bang is. Die regverdige kry waarvoor hy gehoop het. Wanneer teëspoed kom soos ’n stormwind, is goddeloses daarmee heen, maar die regverdiges bly stewig staan. ’n Lui mens is ’n aanstoot vir dié wat hom werk gee. Hy is soos asyn tussen die tande, of soos rook in die oë. Hy wat ontsag het vir die HERE, maak sy lewe langer; die goddelose se lewe word kortgeknip. Die regverdiges kan vreugde verwag, maar goddeloses het geen hoop nie. Wat die HERE laat gebeur, versterk dié wat reg lewe. Dit vernietig egter hulle wat kwaad doen. Die regverdige sal nooit wankel nie. Die goddeloses sal nie in die land bly woon nie. Uit die mond van regverdiges kom wysheid. ’n Tong wat kwaad saai, sal afgesny word. Die regverdige weet wat die gepaste dinge is om te sê. Wat die goddeloses sê, bring moeilikheid.

SPREUKE 10:16-32

SPREUKE 10:16-32 AFR83SPREUKE 10:16-32 AFR83