Spreuke 10:16-32

Spreuke 10:16-32 AFR20

Die verdienste van 'n regverdige lei na die lewe; die inkomste van 'n goddelose lei na sonde. Wie ag slaan op vermaning, is op pad na lewe; maar wie teregwysing in die wind slaan, lei ander op 'n dwaalweg. Wie haat verberg, het leuenagtige lippe, en wie 'n gerug versprei, is 'n dwaas. By 'n oorvloed woorde bly oortredings nie uit nie; maar wie sy lippe in bedwang hou, is verstandig. Uitgesoekte silwer is op die tong van 'n regverdige; die gedagtes van goddeloses is min werd. Die lippe van 'n regverdige voed vele; maar sotte sterf deur 'n gebrek aan verstand. Die seën van die HERE – dit is wat ryk maak, en harde werk voeg daar niks by nie. Soos dit vir 'n dwaas 'n plesier is om 'n skandelike daad te begaan, so is wysheid vir 'n skerpsinnige mens. Wat 'n goddelose vrees, dit kom hom oor; maar wat regverdiges begeer, dit gee God. Wanneer 'n storm verbytrek, is 'n goddelose nie meer daar nie, maar 'n regverdige is 'n ewige fondament. Soos asyn vir die tande en rook vir die oë, so is 'n leeglêer vir die een wat hom stuur. Ontsag vir die HERE verleng die lewensdae, maar die jare van goddeloses word kortgeknip. Die verwagting van regverdiges is vreugde, maar die hoop van goddeloses vergaan. Die weg van die HERE is 'n toevlug vir wie onberispelik is, maar dit bring ondergang vir boosdoeners. 'n Regverdige sal nooit wankel nie, en goddeloses sal die land nie bewoon nie. Die mond van 'n regverdige bring wysheid voort, maar 'n verworde tong word afgesny. Die lippe van 'n regverdige weet wat aanvaarbaar is, maar die mond van goddeloses verdraai woorde.